BESPREKING
Die gebruik van die eerstepersoon-spreker gee aan hierdie gedig ʼn baie persoonlike en intieme toon. In die eerste strofe vrywaar die digter haar feitlik van enige kritiek op haar gedig deur te sê dat sy sekere stylmiddele opsetlik in hierdie gedig vermy.
Die eenvoud van hierdie gedig is funksioneel om die volgende redes: 1) Sy wil op ʼn kinderlik eenvoudige manier praat omdat sy self nog ʼn kind is. 2) Sy probeer nie doelbewus om grootse poësie te skep nie, maar slegs ʼn reguit en eerlike vers. 3) Omdat haar ma self reguit en onopgesmuk is, praat sy in die taal en met beelde wat haar ma die beste sal verstaan en waardeer.
"Jy draai jou leiklipkop" is ʼn interessante metafoor in hierdie gedig. Leiklip is hard (soos alle klip), maar kan soms ook bros wees. Dit dui moontlik aan dat haar ma hardkoppig, maar terselfdertyd ook teer en kwesbaar is. Leiklip is moontlik ook waarop haar ma as skoolkind leer skryf het (voordat skryfboeke op skool algemeen geword het). Die ouderwetse leiklipborde (swartborde) wat deur onderwysers gebruik is en die kleiner leie wat leerders in die hand vasgehou het om met ʼn griffel op te skryf, was vroeër ʼn algemene gesig in skole. Die "leiklipkop" kan dus ook ʼn aanduiding wees van haar ma se intellek en haar strewe om kennis aan haar kind oor te dra.
Let daarop dat die spreker in die gedig na God as haar ma se God verwys. Sy stem dus nie noodwendig met haar ma se geloofsoortuigings saam nie, maar sy bewonder haar nogtans vir haar onwrikbare geloof. Die feit dat die huis wat haar ma skep die spreker se "enigste" Bybel is, is ʼn verdere bewys dat sy nie haar ma se oortuigings deel nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking