Vrydag 03 Maart 2023

LEESBEGRIP EN TAALOEFENING: DIE JAAR VAN DIE KONYN

LEESBEGRIP EN TAALOEFENING: DIE JAAR VAN DIE KONYN

BEDOELDE LEERDERS: IEB EAT, tog kan DBO-leerders ook hierby baat vind

Graad 11 & 12

DIE JAAR VAN DIE KONYN

VRAAG 1    Leesbegrip

Lees die teks hieronder en beantwoord dan die vrae daaroor.

2023: Die Jaar van die Konyn (deel 1)

Die Chinese Nuwejaar staan ook bekend as die Lentefees of Maannuwejaar. Dis 'n belangrike feesdag in China en word ook in ander Oosterse lande soos Thailand, Viëtnam, Singapoer, Taiwan en Maleisië gevier.

Daar is 12 diere in die Chinese diereriem – die rot, os, tier, konyn, draak, slang, perd, bok, aap, haan, hond en vark. Die stelsel ken jaarliks 'n dier toe en dit vind plaas in 'n 12-jaar siklus. Vanjaar is dit die jaar van die konyn.

Daar bestaan talle legendes oor hoe die verskillende diere gekies is – volgens een verhaal het die Chinese keiser 'n wedloop gehou om te besluit wie eerste in die diereriem verteenwoordig mag word. Die rot het gewen deur 'n rygeleentheid op die os se kop te steel en net voor die wenstreep daaroor te spring.

Mense wat in die jaar van die Konyn gebore is, is glo vriendelik, optimisties en gematig. Hulle het uitstekende smaak, maar is ook versigtig, ietwat geheimsinnig, en sensitief. As jy in 1915, 1927, 1939, 1951, 1963, 1975, 1987, 1999 en 2011 gebore is, is jy 'n konyn.

Die Jaar van die Tier het amptelik op 21 Januarie tot 'n einde gekom. Vanjaar het die Chinese Nuwejaar op Sondag, 22 Januarie plaasgevind. Volgens Chinese astroloë gaan vanjaar rustiger en bestendiger wees as vorige jare – die konyn word as die saggeaardste dier van die diereriem beskou. Dis 'n jaar om asem te skep en balans na te streef, ná al die omwentelings en onstabiliteit van die afgelope twee jaar.

Astroloë glo vanjaar gaan gevul wees met positiwiteit, welslae en voorspoed. Daar gaan goeie geleenthede wees vir mense om verhoudings te bou en te versterk, sowel as om harmonie in hul lewens te verkry.

Die Jaar van die Konyn word ook geken aan diplomasie en oop kommunikasie, wat goed kan wees vir persoonlike én professionele verhoudings.

[Aangepas uit: BEELD, Saterdag 14 Januarie 2023]

1.1

Ons lees in die vyfde paragraaf: Vanjaar het die Chinese Nuwejaar op Sondag, 22 Januarie plaasgevind. Wanneer vier die meeste Suid-Afrikaners Nuwejaar?

 

1

1.2

Ons vier Nuwejaar in die somer. In watter seisoen vier die volgende plekke Nuwejaar: 2.1 Europa? 2.2 China?

2

1.3

2023 is die jaar van die konyn. Gee 'n sinoniem vir die woord 'konyn'.

1

1.4

Is die volgende stelling WAAR of ONWAAR? Gee drie opeenvolgende woorde om jou antwoord te staaf.                      Die Chinese Nuwejaar word net in China gevier.

 

2

1.5

Verduidelik kortliks hoekom geen leerder wat hierdie jaar in Graad 11 of 12 is moontlik in die jaar van die konyn gebore is nie.

2

1.6

Kyk na die datums wat gegee word en die volgorde waarin die verskillende diere voorkom en werk dan uit onder watter dier in die Chinese diereriem jy waarskynlik gebore is.

1

1.7

In watter jaar sal dit weer die jaar van die konyn wees?

1

1.8

Sê kortliks hoekom die rot die dier is wat eerste in die Chinese diereriem verskyn.

1

1.9

Verduidelik kortliks hoekom die os tweede in dié diereriem verskyn?

2

1.10

Na watter jaar verwys die woord "vanjaar" in paragraaf 6?

1

1.11

Watter eienskap is nie een van 'n persoon wat onder die teken van die konyn gebore is nie?

A    behoedsaam

B    sensitief

C    obsessief

D    optimisties

 

 

1

1.12

Wat was kenmerke van 2021 en 2022, volgens die teks? Gee net twee enkele woorde as antwoord.

2

1.13

Ons lees in paragraaf 5: "Dis 'n jaar om asem te skep …" Wat beteken hierdie woorde?

1

1.14

Gee 'n sinoniem uit die teks vir sterrewiggelaars.

1

1.15

Watter woord in die laaste paragraaf dui daarop om baie taktvol te wees?

1

[20]