Vrydag 11 Maart 2022

Brander en ander: Judasbroer - Santie Nel (Algemeen)

Hier volg 'n paar inskrywings wat die volgende aspekte oor Judasbroer deur Santie Nel bevat:

1.   Opsomming

2.   Inhoudsvrae

3.   Sinstrukture

4.   Woordstrukture

5.   Kommunikasie

6.   Kommunikasie antwoorde

Eendag is eendag deur Marlene Smit en Varing deur Jaco Jacobs is reeds geplaas. Gaan terug na vorige plasings.

Gebruik dit gerus in die klaskamer en/of vir hersiening. Verwys ook julle leerders na hierdie blog.

Soek Brander en ander regs onder die opskrif Etikette en kies Brander en ander. Dan sien jy slegs die plasings uit die voorgeskrewe kortverhale.

Donderdag 10 Maart 2022

Brander en ander: Judasbroer - Santie Nel (Opsomming)

Opsomming

Sarita se broer Petrus viktimiseer haar voortdurend en sy wens hy wil daarmee ophou.

Hy respekteer nie haar privaatheid nie en bars sommer ongevraagd by haar kamer in.

Hy kry Sarita se dagboek in die hande en lees van haar verliefdheid op die sportheld Stef.

Hy kry 'n diaboliese plan om Sarita se verliefheid op Stef tot sy eie voordeel te gebruik.

Petrus se houding teenoor Sarita verander en hy wil gedurig meer van haar en Stef weet.

Hy neem hul vertroulike gesprekke op sy selfoon op en speel dit dan vir Stef en sy maats.

Sarita hoor hoe die ander seuns lag wanneer Petrus dit vir hulle in die kleedkamer speel.

Sy is uiters geskok as sy besef wat Petrus doen en hoe hy haar vertroue in hom verraai.

Petrus probeer verduidelik dat hy dit gedoen het om ander seuns se vriendskap te koop.

Hy erken teenoor Sarita dat sy nie die enigste een is wat op Stef verlief is nie – hy is ook.

 


Woensdag 09 Maart 2022

Brander en ander: Judasbroer - Santie Nel (Inhoudsvrae)

Inhoudsvrae

1.

Sarita praat van die "dagboek-episode" –

1.1

Waar het die dagboek-episode plaasgevind?

1.2

Wat het Petrus tydens die dagboek-episode gedoen?

2.

Hoe het sy houding teenoor Sarita na hierdie episode verander?

3.

Wat laat Sarita glo dat Stef 'n verhouding met haar wil hê?

4.

Wat droom sy van haar en Stef wat sy vertroulik met Petrus deel?

5.

Petrus vrae baie uit oor Stef. Wat besef Sarita nie terwyl sy hom van haar en Stef vertel nie?

6.

Hoekom word Petrus 'n "Judas" in die titel genoem?

7.

Wie was Petrus en Judas in die Nuwe Testament?

8.

Hoekom het Petrus soos 'n Judas opgetree, volgens hom?

9.

Daar was moontlik ook 'n ander rede hiervoor. Wat dink jy is dit?

10.

Wat word in die verhaal met 'n eierboks vergelyk?

 


Dinsdag 08 Maart 2022

Brander en ander: Judasbroer - Santie Nel (Sinstrukture)

Sinstrukture

1.

Petrus viktimiseer Sarita steeds, alhoewel sy hom vra om op te hou.

 

Petrus viktimiseer Sarita steeds, al ...

2.

Sarita besluit later dat sy vertroulike dinge met Petrus sal deel.

 

Sarita besluit later om …

3.

Petrus neem hul gesprekke op om dit vir Stef en die ander te speel.

 

Petrus neem hul gesprekke op sodat …

4.

Het Sarita al iets van die oopmond-soen in haar droom gesê?

 

Nee, … 

5.

Petrus verneder Sarita deur hul persoonlike gesprekke met ander te deel.

 

Sarita … wanneer hy …

6.

Petrus vra verskoning vir Sarita en belowe om dit nooit weer te doen nie.

 

Petrus sê: "… Ek belowe dat …"

7.

Stef het 'n mooi lyf. Hy het ook 'n groot ego.

 

Stef het sowel …

8.

Die seuns lag wanneer hulle hoor wat Sarita alles van Stef sê.

 

Wanneer …, …

9.

Sarita het nog nooit so 'n vernederende oomblik beleef nie.

 

Dit is die mees vernederende oomblik …

10.

Sy glo Petrus nie meer nie en sy vertrou hom nie weer nie.

 

In die toekoms …