Wys tans plasings met die etiket Die broodwinner. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die broodwinner. Wys alle plasings

Dinsdag 31 Julie 2018

DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek


DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Kortvrae 3)


KORTVRAE

20.
Jakoet dink dis 'n wyfiehaai, want dis hulle wat so ontsaglik groot word.

20.1
Watter twee beskrywings laat die leser besef hoe groot die haai is?

20.2
Hoe weet Jakoet dat die haai hom dophou?

20.3
Waarom moet hy homself egter aan die haai blootstel?
21.
Hoekom swem die haai in 'n spiraal om Jakoet?
22.
Watter afgryslike gedagtes gaan deur Jakoet se kop?
23.
Jakoet se angswekkende ervaring is uiteindelik verby. Wat is die uiteinde van die gebeure?
24.
Wat is Jakoet se onmiddellike reaksie, en waarom doen hy dit?
25.
Jakoet voel asof die haai die indrukwekkendste, mooiste lewende ding is wat hy nog ooit gesien het.

25.1
Baie vrae maal deur sy kop. Hoe, besluit hy, sal hy die haai aan sy vriende beskryf?

25.2
Wat wonder hy egter?

25.3
Wat bly vir Jakoet die grootste raaisel?
26.
Wat doen Jakoet op pad huis toe met die krewe wat hy gevang het?
27.
Jakoet kom op sy pad huis toe drie 'skollies’ teë.

27.1
Wat verstaan jy onder die term 'skollies’?

27.2
Een van die skollies se naam is Mickey Plaatjies. Jakoet sê hy’s 'n 'tikkop’. Verduidelik wat jy onder hierdie woord verstaan.

27.3
Een van Mickey se vriende noem Jakoet 'n 'empty papsak’. Wat beteken hierdie uitdrukking?

27.4
Jakoet noem hulle 'windsakke’. Wat, dink jy, impliseer hy met hierdie beskrywing?
28.
Waarmee dreig Mickey vir Jakoet?
29.
Waarom, dink jy, is daar geen vrees in Jakoet wanneer hy die skollies met bottels bestook nie?


DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Kortvrae 2)


KORTVRAE

11.
Nadat Jakoet die fiets veilig vasgesluit het, klouter hy baie versigtig teen die krans af. Hoekom moet hy so versigtig wees?
12.
Wat doen Jakoet om die rubberbaadjie makliker aan te kry?
13.
Jakoet sien 'n groot kreef en beplan eers hoe hy hom gaan beetkry. Waarom is hy altyd   bang voordat hy sy hand by 'n klipspleet insteek?
14.
Waar vind Jakoet die tweede kreef om in die sak te sit?
15.
Jakoet kry nie koud onder die water nie. Hoekom nie?
16.
'Dis sowaar sy gelukkige dag.’

16.1
Hoekom dink Jakoet só?

16.2
Waarom hoop hy om nog vyf sulke mooi grotes te vind?
17.

'Mens moet nou alte hard in die koue water werk om 'n paar grotes te kry.’

17.1
Hoe weet Jakoet dat daar jare gelede baie krewe aan die Weskus was?

17.2
Waarom is die krewe nie meer so volop aan die Weskus nie?
18.
Hoekom mik Jakoet uiteindelik vir die splete aan die seekant van Robklip?
19.
Nadat die water Jakoet oor Robklip gespoel het, voel dit vir hom asof iets hom dophou.

19.1
Waarom ruk hy skielik geskok tot stilstand?

19.2
Wat laat Jakoet besef dat dit 'n haai is?


DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Kortvrae 1)


KORTVRAE

1.
Sê kortliks wat jy onder die term 'broodwinner’ verstaan.
2.
Jakoet is op pad om te gaan kreef uithaal.

2.1
Wat gaan hy waarskynlik met die geld doen wat hy vir die kreef gaan kry?

2.2
Waarom is daar nie veel mense in Tarentaalplaas se strate nie?
3.
Hoekom het Tarentaalplaas 'n baie paslike naam, volgens oompie Kassiem? Sê kortliks.
4.
Jakoet se ma het op die oomblik drie dae van die week nie werk nie. Watter implikasie het dit vir die gesin?
5.
Die fiets wat oompie Kassiem vir Jakoet leen, is nie 'n wonderlike fiets nie.

5.1
Wat is daar darem aan die fiets om voor dankbaar te wees?

5.2
Waarom, dink jy, steek Jakoet sy duikgoed weg as hy met die fiets ry?

5.3
Watter twee dinge van Jakoet se duiktoerusting is 'n bewys van hulle armoede?

5.4
Jakoet het self die loodgewigte gegiet. Wat is die doel van hierdie 'loodgewigte’?
6.
Jakoet is seker dat hy vandag 'n sak vol kreef sal uithaal. Wat laat hom só dink?
7.
Watter verskoning het Jakoet reeds uitgedink indien iemand hom  sou stop en vra waarheen hy op pad is?
8.
Daar is baie streng reëls oor die uithaal van kreef.

8.1
Verduidelik dié streng reëls kortliks.
9.
9.1
Uit Jakoet se beskrywing van sy ma se optrede wanneer hy die dag geen geld huis toe bring nie, lyk dit asof sy soms onregverdig kan wees. Bespreek hierdie stelling.

9.2
Hoe reageer sy egter op die dae wanneer hy baie geld in haar hand druk?

9.3
Waarom kan ons sê dat Jakoet 'n onselfsugtige en goeie seun is?
10.
10.1
Waarom besluit Jakoet om vanoggend by Robklip krewe uit te haal?

10.2
Hoekom word dié rots 'Robklip’ genoem?



DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Karakters 4)


KARAKTERS

Mickey Plaatjies en sy skollie-vriende

Van Mickey en sy twee skollie-vriende lees ons eers aan die einde van die verhaal. Hulle is drie jong mans wat dit geniet om ander mense lastig te val en in vrees te laat lewe. Mickey is skynbaar 'n dwelmslaaf ('tikkop’) en dra 'n mes by hom wat hy nie sal huiwer om te gebruik nie. Hulle wil weet wat Jakoet op die fiets doen en hy vertel dat hy leë bottels soek.

Een van die skollies noem Jakoet 'n leë papsak en Jakoet noem hulle drie windsakke. Dan dreig Mickey om Jakoet met sy mes vol gate te steek. 'n Dapper Jakoet begin hulle egter met leë bottels gooi om hulle op 'n veilige afstand te hou. Uiteindelik kies die drie skollies die hasepad en Jakoet dink vol bravade dat hy daardie dag veel groter gevaar trotseer het en vir enigiets kans sien.


DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Karakters 3)


KARAKTERS

Oompie Kassiem

Ons ontmoet nie vir Oompie Kassiem in persoon in hierdie verhaal nie. Ons leer hom slegs ken uit wat Jakoet van hom sê. Hy is 'n mede-inwoner van Tarentaalplaas, die arm gemeenskap waarin Jakoet en sy ma ook woon. Hy stel sy fiets beskikbaar vir wanneer Jakoet gaan kreef uithaal. Dis 'n moeilike fiets om mee te ry, want dit het dik bande en geen ratte nie. Jakoet is egter dankbaar vir die lekker drabak vooraan die fiets omdat hy sy duiktoerusting, kreefvangs en leë bottels daarin kan vervoer.

Oompie Kassiem het vir Jakoet vertel dat die seewater in die omgewing vroeër gewemel het van kreef. Volgens hom kon 'n mens mandjiesvol kreef oes sonder om daarvoor te duik. Orals in die vlak water was daar kreef wat 'n mens sonder enige moeite kon uithaal. Deesdae is kreef egter skaars omdat kreefvangers met groot bote op die see uitgaan om kreef vir die visfabriek te oes; dit laat baie min krewe oor vir die res van die gemeenskap.


DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Karakters 2)


KARAKTERS

Jakoet se ma

Ons lees nie veel van Jakoet se ma in hierdie verhaal nie, maar dit is duidelik dat sy baie afhanklik is van Jakoet en die ekstra inkomste wat hy inbring. Baie van Tarentaalplaas se inwoners is werkloos en Jakoet se ma werk slegs vier dae per week vir 'n karige inkomste. Hiermee is sy nie in staat om vir haar en Jakoet te sorg nie.

Jakoet se ma is baie dankbaar vir Jakoet se bydrae, en baie teleurgesteld as hy die dag sonder enige geld by die huis opdaag. Sy besef egter nie dat Jakoet se sukses van goeie weersomstandighede afhang nie en dat hy nie kreef kan vang as die water troebel of die see onstuimig is nie. Dan kyk sy hom verwytend aan en dink dat hy die geld op ander dinge verkwis het, alhoewel sy dit nooit hardop sê nie.

Dis vir Jakoet baie lekker as hy sy kreefgeld aan sy ma kan oorhandig as hy die dag goed gevaar het. Hy kry baie bevrediging daaruit as hy sy ma se vreugde oor die geld sien en dit laat hom belangrik voel wanneer sy hom die broodwinner noem.


DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Karakters 1)


KARAKTERS

Jakoet

Jakoet is die hoofkarakter in hierdie verhaal en al die gebeure handel oor sy wedervaringe op die dag toe hy van aangesig tot aangesig met 'n wit-doodshaai gekom het. Hy is 'n seun uit 'n arm gemeenskap en hy help sy ma finansieel deur kreef te vang. Hy is verantwoordelik en volwasse vir sy ouderdom en maak groot opofferings ter wille van 'n beter lewe. Hy is bereid om baie te waag deur onwettig kreef te vang, want daar word streng teen oortreders opgetree.

Alhoewel kreef-oes baie harde en gevaarlike werk is, vind Jakoet dit bevredigend, veral as hy die geld in sy ma se hand kan stop om te help betaal vir elektrisiteit en kos. Hy besef dat hy sy lewe op die spel plaas, want as 'n duiker se arm in 'n rotsgleuf vassit, kan hy maklik verdrink. Jakoet kon hom egter nie voorstel dat hy op hierdie dag 'n veel groter gevaar sou moes trotseer nie …

As 'n mens kyk na Jakoet se optrede tydens die haai-episode, is dit duidelik dat hy die see baie goed ken. Hy kry dit reg om kop te hou en ongemerk na veiligheid te beweeg ten spyte van sy vrees. Die haai is egter so naby aan hom dat hy enige oomblik kan toeslaan en hom met een hap kan verorber. Die feit dat die haai Jakoet egter nie aanval nie en na 'n ruk wegswem, is 'n wonderwerk wat Jakoet agterna nie kan verklaar nie. Jakoet oorleef die krisissituasie sonder om aangeval te word en dit gee hom baie moed en selfvertroue. Ons sien dit aan die manier waarop hy later sy kreef verkoop, asook hoe hy die konfrontasiesituasie met die drie skollies hanteer. In 'n paar ure het die skugter seun van Tarentaalplaas in 'n dapper man vol selfvertroue verander.


DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Bespreking 2)


BESPREKING

Die verhaal wentel hoofsaaklik om Jakoet se onverwagte kennismaking met 'n reuse-withaai. Hy beleef 'n goeie dag en vang binne 'n halfuur vyf yslike krewe. Wanneer hy egter na Robklip toe beweeg waar die grootste krewe is, raak hy skielik bewus van 'n reuse-skaduwee agter hom. Wanneer hy oor sy skouer loer, skrik hy hom yskoud wanneer hy besef dat dit 'n wit-doodshaai is. Die grootste gedeelte van die verhaal handel oor Jakoet se verbete stryd om nie in die wrede haai se kake te beland nie. Wanneer hy uiteindelik ongedeerd ontsnap, is daar baie vrae in sy gemoed waarvoor daar nie antwoorde is nie.

Die positiewe gevolg van hierdie vreesaanjaende ervaring, is dat Jakoet baie meer selfvertroue gee om moeilike situasies te hanteer. As hy 'n bietjie later, op pad huis toe, deur 'n groep skollies met 'n mes gedreig word, is daar geen vrees in hom nie, want hy het daardie dag iets veel ergers oorleef. Sonder moeite verwilder hy hulle en hulle slaan op die vlug.
 

DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Bespreking 1)


BESPREKING

Ons kry hier 'n verhaal met baie min menslike interaksie. Dit wentel om 'n skoolseun, Jakoet, se wonderbaarlike ervaring met 'n witdoodhaai terwyl hy kreef vang. Ander karakters in hierdie verhaal speel 'n sekondêre rol en word bloot aangewend om agtergrondgegewens aan die verhaal te verskaf.

Jakoet kom uit 'n baie arm huis en sy ma se deeltydse werk bring nie genoeg geld in om van te lewe nie. Hy word dus deur omstandighede gedwing om hom tot die see te wend vir 'n bykomende inkomste. Dis gevaarlike werk, maar Jakoet vind dit baie bevredigend as hy besef dat hy daardeur 'n bydrae kan lewer. Hy voel moontlik selfs gevlei as sy ma hom hulle 'broodwinner’ noem. Die mense van Tarentaalplaas, 'n klein nedersetting buite Gordonsbaai, is almal brandarm en Oompie Kassiem som dit baie raak op wanneer hy sê: “As elke huis wat swaarkry 'n kolletjie op 'n kaart was, het Tarentaalplaas die regte naam gekry”, verwysend na 'n tarentaal se gespikkelde voorkoms.

Met die hulp van Oompie Kassiem se fiets en 'n duikpak en paddavoete wat hy present gekry het, slaag Jakoet daarin om gedurende naweke hul inkomste deur kreefverkope aan te vul. Ten spyte van 'n streng permit- en kwotastelsel, waag Jakoet die kans om meer as die voorgeskrewe kwota te oes, onder die voorwendsel dat hy leë glasbottels versamel. Hy ken die see en weet waar die beste plekke is om kreef te gaan uithaal, alhoewel hy ook terdeë bewus is van die gevaar wat daar skuil.

DIE BROODWINNER deur PJ Haasbroek (Opsomming 4)


OPSOMMING

Jakoet is baie verlig wanneer hy die rots haal en anderkant die rots in die veiligheid van digte seebamboes kan gaan skuil. Daarna swem hy na die rotse toe en verlaat die water. Hy weet nie hoe hy die haai aan ander mense sal kan beskryf of verklaar hoekom hy nie aangeval is nie. Dit was 'die indrukwekkendste, mooiste lewende ding wat hy nog ooit gesien het’.

Op pad terug Gordonsbaai toe, wonder Jakoet watter herinnering die haai saamdra van dié gebeurtenis wat hom vir altyd sal bybly. Hy wonder of die haai geweet het dat hy 'n mens is en nie net nog 'n ander swart inwoner van die see nie.

By die karavaanpark in Gordonsbaai verkoop Jakoet sy vyf krewe vir driehonderd rand aan 'n man van Johannesburg en die man betaal met 'n glimlag, want dit is goeie waarde vir geld. Op pad Tarentaalplaas toe, kom hy drie skollies teë. Mickey Plaatjies is een van hulle en altyd daarop uit om moeilikheid te maak. Jakoet vertel dat hy leë bottels gaan versamel het. Beledigings word heen en weer geslinger en Mickey dreig om Jakoet met 'n mes te steek.

Jakoet klim van die fiets af en begin die skollies met die leë bottels gooi wat bo-op in die fiets se drabak lê. Hy lag as hy sien hoe hulle weghardloop. Ná sy skrikwekkende ervaring met die withaai sien Jakoet kans vir enige gevaar en dis hoekom drie dreigende skollies hom nie laat skrik nie. "Daar’s niks in Tarentaalplaas waarvoor hy hoef bang te wees nie, of in die ganse Kaap."