INHOUD
Die digter noem hierdie gedig ʼn "kaalvoet-gedig" – dit beteken dat dit in alledaagse taal geskryf is en ʼn plat-op-die-aarde-gedig is. Ma is een van die bekendste gedigte wat op hoërskoolvlak met leerders bespreek word.
Die gedig is baie persoonlik van aard en die digter skryf dit in die eerstepersoon, waar ʼn jong meisie met haar ma praat. In die eerste strofe is dit amper asof die kind verskoning vra vir die feit dat die gedig so eenvoudig is. Sy sê vir haar ma dat sy hierdie gedig sonder enige pretensies skryf, kinderlik en eenvoudig. Verstegnieke soos rym, beskrywende woorde en oordadige leestekengebruik is verhewe taal en doelbewuste pogings om deftig te skryf. Omdat die gedig so eenvoudig geskryf is, is dit ook baie eerlik geskryf.
In die tweede strofe besing die jong meisie die kwaliteite wat sy van haar ma bewonder. Sy beeld haar ma as ʼn ronde karakter uit en probeer nie voorgee dat haar ma perfek is nie. Haar ma is die persoon wat haar boetseer (vorm) in die mens wat sy is. Haar ma maak haar nie mét haar klein krom handjies groot nie, maar ín haar hande. Haar ma se woorde is eerlik en reguit, sy draai nie doekies om nie. Haar ma se woorde en die reguit manier van ʼn mens aankyk, is deel van haar vormingsproses.
Die spreker beeld haar ma ook uit as ʼn persoon wat spontaan kan lag en nie toelaat dat die kind skanse om haarself opbou nie; sy glo aan oop kommunikasie en breek die tente (tydelike verblyf) op wat die kind soms rondom haarself skep. Saans bid sy gereeld vir haar kind.
Die spreker beskryf haar ma as ʼn goeie luisteraar. Sy het ʼn moesie aan haar oor, maar hierdie moesie-oor is die spreker se enigste telefoon. Sy weet dus dat haar ma simpatiek sal luister as sy iets met haar wil bespreek en dat sy die regte raad sal gee. Dít wat haar ma haar leer, is vir haar heilig en haar enigste rigsnoer waarvolgens sy haar lewe leef. Dit beskerm haar teen die aanslae van die lewe en laat haar veilig voel.
Ten slotte vra die spreker verskoning vir die feit dat sy nie vir haar ma die kind kan wees wat sy graag sal wil wees nie. Sy het miskien nie dieselfde oortuigings as haar ma nie en sy stem miskien nie altyd met haar ma se sienings saam nie, maar sy het geweldige bewondering vir haar ma as mens. Dít is die boodskap wat sy op kinderlik eerlike wyse aan haar ma probeer oordra.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking