Sondag 21 Januarie 2024

Afrikaans Leesbegrip Inleiding: Skok, hartseer toe luislang vrou se hond heel insluk

Afrikaans Leesbegrip Teks: Skok, hartseer toe luislang vrou se hond heel insluk

Lees die teks hieronder noukeurig deur en beantwoord dan die vrae wat gestel is.

SKOK, HARTSEER TOE LUISLANG VROU SE HOND HEEL INSLUK

Teks

1.

Dit was 'n hartseer oomblik vir Charlotte Molefe toe haar geliefde hond Vrydag op 'n plaas in Bethanie, buite Brits in Noordwes, deur 'n enorme luislang ingesluk is. 'n Werker het haar die aand geroep en vertel dat haar hond Leopard vreemd blaf en tjank. Hy het gaan ondersoek instel en toe afgekom op die skrikwekkende toneel van die luislang wat besig was om die hond in te sluk. Leopard was 'n ses jaar oue kruising wat sowat 15 kg geweeg het.

2.

"Dit was vreeslik. Ek kon nie glo wat gebeur nie. Ek was so geskok," vertel Molefe aan Netwerk24. "Dit was ook vreesaanjaend om so 'n groot slang te sien." Molefe het vir drie werkers gesê hulle moenie die slang doodmaak nie omdat hy "waarde tot die natuur toevoeg en verdien om te leef".

3.

"Ek het die plaaslike polisiekantoor gebel en hulle het my na 'n slangvanger verwys om die slang te verwyder. Jac-Louis Horn van Critter Chronicles, 'n dierereddings-diens in Brits, sê hy het ongeveer middernag 'n oproep oor die luislang ontvang. Nog twee vrywillige slangvangers, Andre Scholtz en Ben Barend, het kom hand bysit.

4.

"Toe ons die slang probeer vang, het hy die hond opgebring (wat nie oorleef het nie). Groot maaltye maak slange stadig en as verdedigingsmeganisme om vinnig van gevaar te vlug, sal hulle die kos opbring," verduidelik Horn. Die slang is sowat 4,1 m lank en weeg 30 kg. Horn het kort daarna nog 'n oproep gekry oor 'n bielie van 'n luislang op 'n ander plaas in Bethanie. Die slang was besig om 'n klein wildsbokkie te vang, maar is gevang voordat hy die bok kon insluk. Dié slang is sowat 3,8 m lank en weeg 23 kg. Albei slange is in die Pilanesberg Nasionale Park hervestig.

5.

Horn sê dit is moeilik om die geslag van die slange te bepaal. Weens die slang se "abnormale grootte" vermoed hy dat die eerste een 'n wyfie was, "Slangwyfies word heelwat groter as mannetjies." Albei slange se grootte dui daarop dat hulle in goeie toestande leef waar hulle genoeg kos en veilige skuiling het.

6.

Johan Marais, uitvoerende hoof van die African Snakebite Institute, sê dit is nie ongewoon dat sulke groot luislange 'n hond as prooi uitsoek nie. "Honde is maklike teikens omdat hulle na die slang toe hardloop. Dit is 'n hond se natuurlike instink om slange te probeer aanval en hulle word dan in die proses gepik of slangkos," sê Marais. "Dit is moeilik vir honde-eienaars om hul troeteldiere teen slange te beskerm of om hulle te leer om van slange af weg te bly."

7.

Marais sê 'n Suider-Afrikaanse luislang wat langer as 4 m is, word as 'n "besonder groot luislang" beskou. "Volgens literatuur word hulle nie langer as 6 m nie. Ek het nog nooit een van hulle gesien wat langer as 5 m is nie. "Die Suider-Afrikaanse luislang kom wydverspreid in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, die noordelike dele van Gauteng, Limpopo, Noordwes en dele van die Noord-Kaap voor.

8.

Volgens Marais is daar talle vals berigte oor mense wat deur luislange doodgemaak word. In die laaste 100 jaar is net een sterfte weens 'n luislang aangemeld. Dit was 'n jong man wat in die 1970's deur 'n groot luislang van sowat 4,5 m gegryp en doodgemaak is terwyl hy beeste in die veld opgepas het.

Hoe vang 'n luislang sy prooi?

9.

Die luislang het 86 sterk tande in sy bek wat na binne gebuig is. Hy gebruik die tande om 'n sterk greep op sy prooi te kry wanneer hy die prooi byt. Die slang draai dan sy lyf om die prooi en plaas druk op die borsdeel sodat die prooi nie meer kan asemhaal nie en vinnig vrek. Daarna sluk die slang sy prooi van die kopkant af heel in.

[Verwerk uit BEELD – Donderdag 18 Januarie 2024]

Afrikaans Leesbegrip Vrae: Skok, hartseer toe luislang vrou se hond heel insluk

Vrae

1

Watter persentasie van sy eie gewig het die luislang ingesluk toe hy die hond gevang het?

1

 

A

10%

 

 

B

30%

 

 

C

50%

 

 

D

100%

 

2

Hoekom wou Charlotte Molefe nie toelaat dat die werkers die slang doodmaak nie?

1

 

A

Die slang was te groot om dood te maak.

 

 

B

Die slang was te gevaarlik om dood te maak.

 

 

C

Die slang speel 'n belangrike rol in die natuur.

 

 

D

Hulle sou dan die hond ook moes doodmaak.

 

3

Watter feit is korrek? Toe die slang die hond opgebring het, was die hond ...

1

 

A

ernstig beseer

 

 

B

ongedeerd

 

 

C

verlam

 

 

D

dood

 

4

Hoekom bring luislange soms hul prooi op?

1

 

A

Die prooi is soms te groot om in 'n luislang se lyf te pas.

 

 

B

'n Luislang bring sy prooi op om vinnig te kan wegvlug.

 

 

C

'n Luislang word naar van die groot prooi in sy maag.

 

 

D

Luislange hou moontlik nie van hondevleis nie.

 

5

Wat het uiteindelik met die twee groot slange van Bethanie gebeur?

1

 

A

Hulle is aan Pretoria se reptielpark geskenk.

 

 

B

Hulle is in 'n veilige omgewing vrygelaat.

 

 

C

Hulle is doodgemaak.

 

 

D

Hulle is afgeslag vir hul velle.

 

6

Waarvoor gebruik 'n luislang sy tande?

1

 

A

Om sy prooi stewig vas te gryp.

 

 

B

Om sy prooi fyn te kou voordat hy dit insluk.

 

 

C

Om sy prooi dood te byt.

 

 

D

Om sy prooi te laat skrik as hy sy bek oopmaak.

 

7

Hoekom is honde dikwels die prooi van luislange?

1

 

A

Alle luislange hou baie van hondevleis.

 

 

B

Honde is stadig en kan maklik gevang word.

 

 

C

Luislange word kwaad as honde vir hulle blaf.

 

 

D

Honde val slange instinktief aan en word dan die prooi.

 

8

Hoeveel mans het uiteindelik die eerste slang by Bethanie gevang?

1

 

 

 

 

9

Jac-Louis Horn het twee telefoonoproepe ontvang. Sê in een sin waaroor die tweede telefoonoproep gehandel het.

2

 

 

 

10

Hoeveel langer was die eerste slang as die tweede slang wat gevang is, en hoeveel meer het hy geweeg?

2

 

 

 

11

Kyk na die prooi van die twee slange van Bethanie en sê dan hoekom die tweede slang se prooi gelukkiger as die eerste een s'n was.

1

 

 

 

12

Die twee slange wat by Bethanie gevang, val nie in dieselfde kategorie nie. Verduidelik hierdie stelling kortliks.

2

 

 

 

13

In watter kategorie sou die slang in die 1970's waarvan ons lees, geval het?

1

 

 

 

14

Volgens paragraaf 7 kom die Suider-Afrikaanse luislang in verskeie provinsies voor In watter provinsie het die twee slange waarvan ons lees, voorgekom?

1

 

 

 

15

Naby watter groot dorp is Bethanie?

1

 

 

 

16

Gee 'n sinvolle rede hoekom 'n persoon sy hond "Leopard" sal noem.

1

 

 

 

17

Wat beteken die uitdrukking "Ek kon slange vang"?

1

 

 

 

18

Sê of die volgende stellings WAAR of ONWAAR is:

 

 

 

 

18.1

Luislange maak dikwels mense dood.

1

 

 

 

18.2

Wyfie-luislange word groter as mannetjies.

1

 

 

 

18.3

Leopard was 'n opreggeteelde (pedigree) hond.

1

 

 

 

18.4

Honde leer moeilik om weg te bly van slange af.

1

 

 

 

18.5

'n Luislang byt eers sy prooi dood voordat hy dit insluk.

1