LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 13-15
INHOUDSOPGAWE
Opsomming Hoofstuk 13
Opsomming Hoofstuk 14
Opsomming Hoofstuk 15
LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 13-15
INHOUDSOPGAWE
Opsomming Hoofstuk 13
Opsomming Hoofstuk 14
Opsomming Hoofstuk 15
LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 13
'N HUIS SONDER 'N MOEDER
Inhoud
Die volgende dag gaan Lien vroeg skool toe; sy stuur vir Wouter 'n SMS om nie vir haar te wag nie. As sy by die biblioteek aankom, help sy meneer Visagie om oop te sluit en die rekenaars aan te skakel. Dan gaan sit sy by die rekenaar verste van meneer Visagie af en begin tik. Die seun wat die vorige keer ook daar was, kom langs Lien sit, maar sy jaag hom weg, want die werk op haar skerm is vertroulik. As sy klaar is, druk sy die dokument op die drukker, maar sy hou haar hand voor sodat niemand kan sien wat sy uitdruk nie. Dan bêre sy die uitdrukke in haar skooltas en gaan wag vir juffrou Breytenbach by haar parkeerplek.
Juffrou Breytenbach is baie bly om Lien te sien en vra dat sy haar moet help dra aan al die boeke en ander dinge. Lien wil weet of sy 'n pruik en 'n brilletjie uit die rekwisietekamer mag leen. Sy belowe om dit mooi op te pas en na 'n paar dae terug te besorg. Juffrou Breytenbach kyk agterdogtig na Lien, maar sy vra geen vrae nie en oorhandig die sleutel aan haar. As die skoolklok kort daarna lui, besluit Lien om tot pouse te wag sodat sy die rekwisiete op haar tyd kan deurkyk.
Daardie aand kla Lien se ma oor hoe duur kos is wanneer sy 'n paar goedjies uitpak. Lien sien dat sy weer 'n boks wyn gekoop het. Sy kyk haar ma beskuldigend aan as sy dit sien, maar haar ma sê niks en skink vir haar 'n glas wyn.
Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk
In hierdie hoofstuk is dit duidelik dat Lien iets in die mou voer. Sy is desperaat vir 'n ekstra inkomste en dit lyk of sy besig is om 'n nuwe plan in aksie te stel. Eers is daar die geheimsinnige uitdrukke wat sy op die skool se rekenaar doen en dan probeer sy dringend toegang tot die rekwisietekamer verkry. Alles verloop nog volgens plan vir Lien …
Tuis is alles nog dieselfde. Ten spyte van die min geld in die huishouding en die hoë prys van kos, skeep Lien se ma haarself nie af as dit by die gebruiklike boks wyn kom nie.
LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 14
'N CHANGE OF SCENERY (RÉGTIG)
Inhoud
Lien ry per bus tot by 'n kleinerige winkelsentrum waar sy al voorheen verbygery het. As hulle daar kom, huiwer sy 'n oomblik, maar die busbestuurder is ongeduldig en wil weet of sy gaan afklim en of sy verder wil ry. Lien klim af en stap na 'n besige padkruising oorkant die winkelsentrum. Sy kyk na die motoriste wat verbykom. Almal lyk vir haar onvriendelik en haastig en sy voel skielik bang vir al die vreemde gesigte.
Lien dra die pruik en brilletjie wat sy by juffrou Breytenbach geleen het. Sy gaan staan by die kruising, so na as moontlik aan die straat, en haal die plakkaat wat sy die vorige aand gemaak het uit Braam se ou rooi sportsak: Werkloos. Twee afhanklikes. Enige donasie welkom. Die Here seën u.
Die motors jaag verby en Lien wens die lig wil groen bly. Sy haat wat sy besig is om te doen en sy haat dít wat haar hiertoe gedwing het. Wanneer die lig rooi slaan, ignoreer die bestuurder in die voorste motor haar. Die vrou in die tweede voertuig druk 'n vyfrand-muntstuk in Lien se hand en Lien voel skuldig om geld te aanvaar waarvoor sy nie gewerk het nie. Die ou rok van haar ma wat sy aanhet, het nie 'n sak nie en sy gooi die geld in die rooi sportsak.
Na 'n rukkie hoor Lien 'n geskree aan die oorkant van die straat. Dan sien sy 'n ouerige vroutjie woedend naderkom, met 'n pienk handsakkie onder haar arm vasgeklem. Sy jaag Lien weg en sê dat dit die plek is waar sý altyd staan om te bedel. Sy sê Lien moet aan die oorkant van die straat gaan staan waar Johnny vroeër gestaan het. Lien is ontsteld en wonder of dit die regte besluit was om te neem. Die gedagte aan 'n leë yskas en Braam se stukkende beenskutte laat haar egter vasbyt. Later is sy minder gespanne en die res van die middag verloop goed. Die meeste mense ignoreer haar of maak hulle venster toe wanneer hulle naderkom, maar ander gee darem geld, meestal kleingeld. Een vrou gee vir haar 'n tienrandnoot. Lien besef dat sy vir haar gemakliker skoene sal moet kry, want haar voete raak baie seer van al die staan.
Lien kan nou sien hoekom die vroutjie haar weggejaag het: daar is baie meer verkeer op daardie plek as op die plek waar Lien nou staan. Lien sien 'n jongman by die uitgang van die winkelsentrum. Hy bedel geld by vertrekkende kopers. Hy beweeg die hele tyd tussen die motors rond en gesels met die mense; Lien hoor hoe hulle lag en grappies maak. Dit lyk of hy al 'n goeie verhouding met die motoriste opgebou het. Om kwart voor vier kom sê hy vir Lien dat hulle nou eers 'n teepouse neem. Hy neem haar na 'n groot akasiaboom 'n entjie daarvandaan en Lien skrik as sy die kwaai vroutjie ook daar sien sit. Die jong man stel homself voor as Tibbey en die ou vroutjie as Roos. Roos gluur Lien steeds onvriendelik aan, maar Tibbey is baie joviaal en vriendelik. Volgens hom het hy tot dusver daardie dag baie goed gevaar. Lien wonder hoeveel geld daar al in haar rooi sak is, maar sy besluit om eers te kyk as sy by die huis kom.
Lien wil weet of Tibbey en Roos al lank daar werk en Tibbey vertel dat Roos altyd daarheen kom, terwyl hý net soms kom. Hy het 'n Bloubulpet op sy kop en as Lien hom daaroor uitvra, erken hy dat hy niks van rugby af weet nie, want hy is eintlik 'n sokker-ondersteuner. Dit help egter wanneer hy bedel en mense sien hy dra hul gunsteling-span se pet. Nadat Roos 'n sigaret gerook het, staan sy op en gaan terug na die verkeerslig. Die verkeer word nou druk en dit voel vir Lien of die mense nou meer vrygewig raak; sy wens egter dat sy al kan huis toe gaan.
Om vyfuur gaan Lien na die winkelsentrum se kleedkamer toe om te verklee; sy wil nog iets vir aandete koop voordat sy die bus huis toe haal. Sy voel tegelyk opgewonde en skuldig wanneer sy al die geld in haar sak sien. Sy hoor iemand in die hokkie langs hare en as sy haar gesig by die wasbak gaan afspoel, kom Roos uit die hokkie gestap. Lien vra verskoning dat sy Roos se plek by die verkeerslig ingeneem het. Roos onderbreek haar egter en sê Lien se plakkaat is te deftig en sal nie die mense oortuig dat sy arm is nie. Lien sal ook gemakliker skoene moet aantrek. Dan stap Roos uit. As Lien haarself in die spieël sien, besef sy dat haar lewe nooit weer dieselfde sal wees nie. Sy gaan weer by een van die hokkies in en begin die geld tel. Sy het amper R150 verdien en sy besef dat sy nou uiteindelik kan begin om geld te spaar.
As Lien voor hulle winkelsentrum van die bus afklim, stap sy stadig huis toe. In die vertoonvenster van Pep Stores sien sy 'n paar goedkoop plat skoene en besluit om dit te koop; dit kos minder as veertig rand en Lien betaal met muntstukke. Alhoewel sy steeds skuldig voel omdat sy mense se geld vat sonder om daarvoor te werk, voel sy ook trots op wat sy vermag het. Sy besluit dat dit haar geheim sal bly; sy gaan nie eens vir Wouter vertel wat sy doen om hulle gesin se inkomste aan te vul nie.
Die kamera fokus op die rûe van 'n groepie mense wat na 'n pragtige waterval kyk. Daar is toeriste wat foto's neem. Dan sien 'n mens 'n vrou en seun met donker hare wat praat, en 'n dogter met lang swart hare langs hulle. Sy staan gefassineerd en kyk na die water wat na benede tuimel. Die seun maak haar skrik wanneer hy probeer voorgee dat hy haar oor die reling wil stamp; sy skree geluidloos iets vir hom.
Hy glimlag en oorweeg dit vir 'n oomblik om weer die video te speel. Dan haal hy dit egter uit die videomasjien, pak dit terug in die houer en sit dan nog 'n ruk daarmee op sy skoot …
Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk
Dit is die hoofstuk waarin die landskap (scenery) regtig vir Lien verander. 'n Nuwe fase in haar lewe breek aan. Alhoewel sy aanvanklik skrikkerig is vir wat voorlê, druk sy deur en kry 'n voorsmakie van hoe dit is om geld van die publiek te bedel. Gewapen met 'n ou, vormlose rok van haar ma, 'n pruik en brilletjie uit die skool se rekwisietekamer en Braam se ou rooi sportsak, neem Lien stelling in by 'n verkeerslig. Sy haat dit om in hierdie omstandighede te verkeer, maar sy besef dat daar geen ander uitweg is nie. Sy veg daarteen om haar skuldgevoelens te onderdruk, want sy besef dat sy in haar vermomming besig is om die publiek te mislei en hulle geld te vat. Dit is uitputtende en vernederende werk, maar die beloning is goed en Lien besef dat sy nou uiteindelik sal kan begin spaar om haar drome te verwesenlik. Sy voel dat sy iets bereik het en aan haarself bewys het, maar sy besluit dat sy haar geheim met niemand sal deel nie.