INHOUD
Rembrandt se tegniek as portretskilder word in die gedig besing. Hy word as ʼn meesterlike portretskilder (en veral selfportretskilder) uitgebeeld. Hy was baie vaardig met die verfkwas en het die vermoë gehad om veral die ryk mense baie "vleiend" op die doek vas te vang. Hierdie tegniek van "mooi-skilder" het hy ook in sy selfportrette toegepas: Hy het homself altyd as ʼn flambojante, jeugdig-aantreklike en trotse figuur uitgebeeld. Sy klere was swierig en sy aantreklike gesig het gestraal van selfvertroue en hooghartigheid.
Rembrandt se beeld van jeugdige hovaardigheid het eensklaps verander in sy laaste twee selfportrette. Hy kyk nie meer uit die hoogte neer uit sy selfportrette nie en die gesig wat uit die doek na toeskouers staar, is dié van ʼn "droewige ou man wat ná aan trane lyk". Hy lyk intens treurig en daar is niks te bespeur van die eertydse selfvertroue en hooghartigheid waarmee hy in sy ander selfportrette die toeskouer begroet het nie. Die laaste twee skilderye word dus eintlik die "waarheidskuns" van Rembrandt terwyl sy vroeëre, meer jeugdige, werke eerder die waarheid probeer verdoesel het deur die werklikheid mooier voor te stel as wat dit werklik was.
In die laaste strofe spreek die digter direk tot die (ouerwordende) leser. Hy versoek die leser om deur sy eie foto-album te blaai. Hy versoek die leser om fyn te kyk na die mees onlangse foto's wat daarin verskyn. Dan sal jy oplet hoe jou eie liggaam en gesig verouder het, hoe lewensgetrou Rembrandt homself in sy laaste twee skilderye voorgestel het en "Hoe meesterlik word jy in die Rembrandt-styl herskryf."
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking