REËLVERKLARINGS
Reël 1: Die spreker sê dat
Rembrandt van Rijn hierdie genre (om selfportrette te skilder) "vervolmaak" het, met ander woorde hy het dit perfek
reggekry om selfportrette te skilder. Hy het die selfportrette wat hy geskilder
het beter op ʼn doek vasgevang as enige ander skilder wat ook selfportrette
geskilder het.
Reël 2: Hier word Rembrandt
se fisiese woonadres gegee. Hy het in die Joodse gedeelte van Breestraat
gewoon.
Reël 3: Hy het dikwels portrette van die ryk mense geskilder. Op hierdie
skilderye het hy hulle telkens gevlei, met ander woorde hy het hulle baie
beter/mooier laat lyk as wat hulle werklik was. Dit was ook net die rykes wat
kon bekostig om skilderye van hulself te laat skilder.
Reël 4: Net soos wat hy goeie skilderye van die rykes kon maak, het hy
dit reggekry om homself ook uiters goed te kon skilder en baie mooier te laat
lyk. Die kennis wat hy opgedoen het deur die skilder van ander mense, het hy
gebruik wanneer hy selfportrette geskilder het.
Reël 5–6: Hy het homself dikwels soos volg geskilder: sy manier van
staan en postuur was baie trots; ʼn jongman/edelman wat uiters deftig geklee is
en "staan en pronk". Hy lyk dus baie selfvoldaan.
Reël 7: Hy skilder homself as ʼn man met baie mooi gelaatstrekke en dit
lyk asof hy dink hy is beter as ander mense ("hooghartig"). Die feit
dat die mense hom "begluur" impliseer
dat hulle jaloers is op hom – dalk omdat hy so swierig en aantreklik lyk.
Reël 8: Die klere wat hy op sy selfportrette dra blink, waarskynlik as
gevolg van die olieverf, maar ook omdat hy dit blinkerig, sy-agtig en duur laat
voorkom deur sy uitstekende skildertegniek. "Skilderagtig" verwys hier na die ongelooflike
skoonheid. Hy lyk ook baie jonk op die selfportrette.
Reël 9–10: Nou sê die spreker vir die leser om enige van die menigte
selfportrette wat Rembrandt van Rijn geskilder het as voorbeeld te neem en dit
met sy laaste twee selfportrette te
vergelyk.
Reël 11: Dit wil voorkom asof van Rijn in hierdie laaste twee selfportrette
werklik eerlik was en homself as ʼn hartseer ou man uitgebeeld het wat lyk asof
hy enige oomblik kan begin huil.
Reël 12: "Daar is niks" kan
impliseer dat daar geen ooreenkoms is nie, niks om die twee laaste
selfportrette mee te vergelyk nie. Dit kan ook impliseer dat daar niks meer van
die swierigheid en jeug van die oorspronklike selfportrette oor is nie. Daar is
ook geen emosie nie, maar ʼn mens kan wel "verdigte verdriet" sien, met ander woorde hartseer wat hy
probeer wegsteek. Sy oë het ʼn hartseer uitdrukking.
Reël 13: Die spreker sê nou vir die leser om sy/haar eie foto-albums te
neem en deur te kyk. Die leser moet veral na sy/haar gesig en liggaam kyk.
Reël 14: Is die foto's van jouself net so ʼn goeie weergawe van jou as
wat Rembrandt se selfportrette van hom was? Lyk jy ook beter op jou foto's as
in die werklikheid, met ander woorde "in die Rembrandt-styl"? Dalk
vra die spreker of jy ook agteruitgang kan sien, of dalk kan raaksien toe jy
uiteindelik besef het wat die realiteit van jou voorkoms is.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking