AGTERGROND EN KOMMENTAAR
Hierdie gedig verskyn in Lucas Malan se vyfde digbundel, Afstande (2002), wat reeds in die titel aandui waaroor dié bundel handel: ʼn objektivering, ʼn blik verby die uiterlike en ʼn nugter verslag oor dít wat waargeneem word. Die gedig "Selfportret" is die eerste gedig in dié bundel. Aan die hand van Rembrandt, die sewentiende-eeuse meester van die blik verby die uiterlike, word dieper gekyk tot in die afgronde agter die oë.
Teenoor die swier en pronk van die jeugdige portrette kom die aftakeling van die ouderdom, die "verdigte verdriet wat na buite staar" – alles in die slotkoeplet betrek op die ek wat hom nou "meesterlik … in die Rembrandt-styl herskryf". Dié motief word ook in die ander verse in dié bundel voortgesit waarin die sprekende ek afstand doen van homself. Ook in "Selfportret" tref ons die herhaalde aanwending van die imperatiewe vorm van die werkwoord aan (vat nou, kyk nou, onthou hoe, blaai om, snuffel dieper, ensovoorts).
Volgens die digter het hy die gedig "Selfportret" geskryf nadat hy in ʼn laai vol ou goed gekrap en op ʼn vergete poskaart met Rembrandt van Rijn se laaste selfportret daarop afgekom het.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking