Enkele aspekte van LYWE
Vertellersperspektief
Hierdie verhaal word uit die perspektief van 'n alomteenwoordige verteller aan die leser oorgedra. Daar word oor Adriaan gepraat, maar dis asof die verteller self in Adriaan se kop en gedagtes teenwoordig is. Adriaan se denke en gedagtes word uitgespreek, alhoewel hy nie self aan die woord is nie. Die verteller verwoord namens Adriaan sy emosies, sy houding teenoor die kompetisie, sy gebrek aan motivering, sy gevoelens oor Katrien, ensovoorts.
Tyd
Die verhaal begin in die vroeë middag by die Rondebosch-sportklub waar Adriaan net die helfte van sy toebroodjie vir middagete afwurg. Hy is senuweeagtig oor die kompetisie en het waarskynlik as gevolg hiervan nie 'n eetlus nie. Hy sien nie uit na wat daardie middag voorlê nie en wens dat hy eerder op 'n ander plek kan wees. Hy ervaar altyd 'n gevoel van mislikheid en spanning wanneer hy aan 'n kompetisie moet deelneem en dink dat hy sport miskien te ernstig opneem, eerder as om dit te geniet. "Die dag is vol aggressie en verdediging" en hy wil nie deel daarvan wees nie.
Die gebeure in die verhaal vind binne 'n kort tydsbestek plaas, alhoewel daar ook terugskouende en vooruitskouende tydsverwysings is. Ons lees byvoorbeeld dat Adriaan al vir Katrien by verskeie vorige kompetisies sien optree het. Ons lees ook dat hulle mekaar waarskynlik oor twee maande by die WP-proewe weer sal sien.
Ruimte
Die ruimte in hierdie verhaal is die Rondebosch-klub waar verskeie sportsoorte beoefen word. Adriaan is daar om aan 'n karate-kompetisie deel te neem wat in die klubsaal gehou word. Hy voel nie tuis in die saal nie en wens dat hy eerder op 'n ander plek kon wees. Wanneer hy sy kata (skaduboksbewegings) uitvoer, voel hy skielik bedreig deur die omstanders wat hom met valkoë dophou. "Die dertigtal gesigte, lywe, liggaamshoudings" oorweldig hom en hy verbrou sy solo-uitvoering. Hy verlaat die saal vinnig om van die vernedering en beklemmende gevoel af weg te kom.
As Adriaan buite kom, sien en hoor hy hoe uitgelate kinders in karateklere op die grasperk voor die saal speel, mekaar gryp, rondrol en tuimel en lag. Alle aktiwiteite is baie fisiek en Adriaan, die buitestander, kan maar net eenkant staan en toekyk. Sy teenwoordigheid by die sportklub spreek deurentyd van sy alleenheid en dat hy nie werklik hier tuishoort nie.
Ons lees ook van 'n lokaal waar 'n vrou van die sportklub mense toespreek oor hoe belangrik dit is dat kinders aan sport moet deelneem en hoe dit meehelp dat hulle nie by "allerhande verkeerde goed" betrokke raak nie. Adriaan stem saam met hierdie siening, want sport oorheers die wêreld en almal moet daaraan deelneem. Hy is egter op hierdie oomblik weer eens 'n buitestander, want hy hoor die vrou se pleidooi wanneer hy by 'n venster verbystap op pad na die toilet toe.
Daar word gemeld dat daar 'n hokkieveld op die sportterrein is. Wanneer Adriaan by die kleedkamer kom om die toilet te gebruik, is 'n aantal hokkiespelers besig om te verklee. Daar is duidelike kameraderie tussen die spelers, met Adriaan weer eens die buitestander wat nie deel van 'n groep is nie. Hy voel ontuis in die hokkiespelers se teenwoordigheid en maak homself vinnig uit die voete.
Na Adriaan se rampspoedige vertoning in die saal verkas hy dadelik na 'n oop stuk veld waar akrobate hulle toertjies oefen. Adriaan kyk as buitestander toe hoe 'n groep mense saam aktiwiteite uitvoer en in span-konteks optree.
Die ruimte waarin Adriaan die meeste ontuis voel, is sy eie liggaam. Hy voel minderwaardig en het 'n uiters lae selfbeeld. Adriaan se gebrek aan selfvertroue knou sy optrede voor ander mense. As hy sien hoe vol selfvertroue die hokkiespelers in die kleedkamer is, wens hy dat selfvertroue verbied kan word. Tydens die prysuitdeling in die saal dink hy sinies dat hy dalk met 'n simpatieprys beloon gaan word vir sy patetiese poging op die vloer, 'n toekenning vir "volharding ten spyte van sy tekortkominge."
Ten spyte van Adriaan se gevoelens van minderwaardigheid dui sommige feite in die verhaal egter die teendeel aan: Katrien weet wat Adriaan se naam is, want volgens haar is hy 'n "legende". Dis vir Adriaan 'n raaisel hoe 'n pers gordel ooit aan hom toegeken is, want hy dink hy verdien dit nie. Dit verg egter harde werk en toewyding om tot by die vlak van 'n pers gordel te vorder. Adriaan is dus glad nie so 'n groot mislukking soos wat hy dink nie. Hy beskik blykbaar oor genoegsame natuurlike talent, maar hy kort meer selfvertroue, motivering en toewyding.
Katrien dien as aanmoediging en inspirasie vir Adriaan, want sy beskik reeds oor die bogenoemde eienskappe en sy weet hoe om dit ten beste te gebruik. Sy gee vir Adriaan raad oor hoe hy ook kan presteer en goed vertoon. Hy sal egter meer toegewyd moet wees en harder moet oefen om sy optrede tot 'n hoër peil te kan lig.
Die rol van lywe
Die titel van die verhaal is Lywe. Aanvanklik is die rol wat lywe in die verhaal speel, nie duidelik nie. Daar is wel enkele verwysings na lywe in die verhaal, hetsy direkte verwysings of subtiele verwysings daarna. Hier is voorbeelde van direkte verwysings:
· "Darem 'n mooi belt om jou lyf."
· "Halfpad deur vou hy egter toe hy meteens hiperbewus word van die omstanders, die dertigtal gesigte, lywe, liggaamshoudings, die meisie met die bruin hare."
· "Ja, dit gaan nog 'n dag vol lywe wees. Sport is mos so: vol lywe."
Daar word soos volg na Katrien se lyf verwys: "Haar groterige postuur maak dat sy 'n kata doen wat mooi vertoon wanneer sy deur die voorgeskrewe bewegings gaan en met denkbeeldige teenstanders afreken."
Wanneer Adriaan in die kleedkamer aankom om die toilet te gebruik, sien hy die lywe van halfnaakte hokkiespelers wat besig is om te verklee. Dit laat hom verleë en ontuis voel.
Terwyl Adriaan en Katrien die sweekstokkunstenaars dophou waar hulle oefen, sien albei hoe styf die een akrobaat se broek span en die kurwes van sy lyf afwys. Dit lyk of dit enige oomblik kan oopbars en hulle hou asem op.
Aanvanklik distansieer Adriaan hom van die lywe wat in die verhaal ter sprake kom. Dis asof hy nie deel daarvan is nie en dit slegs as waarnemer beleef. Aan die einde kom hy egter tot die insig dat hy ook daar is, dat sý lyf ook deel van die gebeure uitmaak. "Meteens is hierdie dag vol lywe en een van hulle is syne."
Karategordels
Adriaan het 'n pers gordel in karate en Katrien het 'n rooi gordel. Albei is dus al ver gevorder in die bemeestering van dié Oosterse gevegskuns. Katrien is een vlak hoër as Adriaan en 'n rooi gordel sal dus Adriaan se volgende mikpunt wees. Albei karateka is op hierdie stadium fluks op pad na die hoogste vlak, naamlik die swart gordel.
Pers gordel (Adriaan)
Die pers gordel volg op die blou gordel. Wanneer 'n student die einde van sy/haar tyd op blougordel-vlak bereik, begin hulle 'n dieper waardering ontwikkel van wat 'n swart gordel beteken. Die vordering na 'n pers gordel verteenwoordig 'n oomblik van dramatiese oorgang vir die karateka omdat hulle begin oorgaan na die meer gevorderde vlakke van hul opleiding, net soos die pers kleur wat die lug aanneem wanneer die nag geleidelik gereed maak om in dagbreek oor te gaan.
Rooi gordel (Katrien)
'n Rooi gordel verteenwoordig die kleur van 'n skouspelagtige sonsondergang. Die kleur van die gordel simboliseer 'n student se intense toewyding aan sy/haar taak om die kuns te bemeester, namate hulle gedetailleerde kennis opdoen en toenemende beheer en dissipline van hul fisieke vaardigheid aanleer. Omdat rooi ook gevaar aandui, kan 'n rooi karategordel ook interpreteer word as 'n erkenning van die feit dat 'n student gevaarliker word namate vaardighede toeneem en wat, vanselfsprekend, met hul nuutgevonde selfbeheersing gebalanseer word.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking