Vrydag 03 September 2021

Aspekte van kortverhale uit "Skreeu": Aspoestertjie en die drie bere - Nelia Engelbrecht

ASPOESTERTJIE EN DIE DRIE BERE as parodie   

Nelia Engelbrecht

Twee welbekende sprokies is in hierdie verhaal teenwoordig, naamlik die verhaal van Gouelokkies en die drie bere en die verhaal van Aspoestertjie. Die verhaal van Aspoestertjie is in 1697 deur die Franse skrywer Charles Perrault geskryf. Gouelokkies en die drie bere is in 1837 deur die Britse skrywer Robert Southey geskryf.

Die verhaal van Corli, haar vriendinne en die De Beer-drieling is lighartig geskryf en kan as 'n soort parodie op die twee bekende klassieke sprokies beskou word. Corli, die hoofkarakter, is 'n moderne weergawe van sowel Aspoestertjie as Gouelokkies.

Die skrywer integreer die storie van Corli op 'n vernuftige wyse met die twee sprokies. Die drieling, Grant, Graham en Gareth, se van is De Beer, om die drie bere in Gouelokkies se verhaal te verteenwoordig. Net soos Gouelokkies betree Corli die privaatheid van iemand anders se eiendom, en haar optrede daar laat 'n mens onwillekeurig dink aan dié van Gouelokkies in die sprokie.

Wanneer die ruimte na Fausto's toe verskuif, herinner Corli se verhaal sterk aan dié van Aspoestertjie, die armsalige meisietjie in die sprokie wat verneder en misbruik word. Net soos Aspoestertjie is Corli egter ook die een wat aan die einde met die groot prys, haar prins Gareth de Beer, wegstap.

Corli as Gouelokkies

Corli en haar twee vriendinne, Triz en Vanessa, gaan ontmoet Triz-hulle se nuwe buurseuns, die drieling Graham, Grant en Gareth de Beer. Corli se ontmoeting met Gareth is heel uniek en vernederend wanneer sy op sy skoot beland as haar plakkie aan die plaviesel rondom die swembad vashaak.

'n Dag later gaan Corli weer na die De Beers se huis toe onder die voorwendsel dat sy haar blou bikini gaan soek wat sy in die aantrekkamertjie by die swembad laat lê het toe die vorige eienaars nog daar gewoon het. Die kamertjie se deur is oop en Corli vind haar bikini in die kas. In die yskassie vind sy koeldrank en versnaperings en sy help haarself daaraan. Hierna gaan sy op die rusbank lê en raak kort daarna aan die slaap.

Corli word wakker as sy Gareth de Beer hoor sê: "Iemand het in my kas gekrap … Iemand het my kos geëet … Iemand lê op my bank en slaap … Aha! Dit is Gouelokkies." Dié verwysings sluit aan by die Gouelokkies-sprokie waar Gouelokkies die bere se huis ongenooid binnegaan en haarself tuismaak.

Corli as Aspoestertjie

In die sprokiesverhaal is Aspoestertjie deur haar twee stiefsusters afgeknou en verneder. Corli word weliswaar nie deur haar beste vriendinne, Triz en Vanessa, afgeknou en verneder soos Aspoestertjie deur haar nare stiefsusters nie, maar daar is ander ooreenkomste. Net soos Aspoestertjie is Corli se omstandighede en dié van haar twee vriendinne totaal verskillend.

Corli kom uit 'n huis waar hulle finansieel sukkel om kop bo water te hou, terwyl Triz en Vanessa uit 'n omgewing van bevoorregting kom. Gelukkig het Corli baie selfvertroue en 'n sterk persoonlikheid en laat sy nie toe dat haar huislike omstandighede haar daarvan weerhou om haarself te laat geld in die geselskap van haar twee beste vriendinne nie.

Corli werk by Fausto's om sakgeld te verdien en om tot die huishouding by te dra. Haar ma doen twee werke om die pot aan die kook te hou. Corli is dus die Aspoestertjie in die verhaal. Aspoestertjie moes hard werk en haarself afsloof ter wille van haar twee nare stiefsusters. Tog is dit Aspoestertjie wat aan die einde deur die prins gekies word, net soos die rykmanseun Gareth de Beer vir Corli kies en nie vir die nare, bedorwe Kristen nie, ten spyte van Corli se nederige agtergrond.

Corli beskou haarself aan die einde nie as "Gouelokkies van Glenhaven" nie, maar eerder as "Aspoestertjie, sonder 'n koets en glasskoentjies." Wanneer die klok twaalfuur slaan en Gareth naderleun om Corli te soen, voel dit vir haar asof sy in 'n prinses verander.

PROTAGONIS VS ANTAGONIS

Die hoofkarakter in 'n verhaal is dikwels die protagonis. Corli is die protagonis en sy word deur die antagonis, Kristen, verneder en geteister. Kristen is 'n boelie wat reeds op laerskool vir Triz afgeknou het. Corli en Vanessa het op 'n keer kougom in Kristen se hare gedruk en Corli glo dat Kristen sedertdien daarop uit is om wraak te neem. Wanneer sy saam met Gareth de Beer die restaurant besoek en Corli hul kelnerin is, gee dit Kristen die ideale geleentheid om haar op Corli te wreek. Kristen is 'n bedorwe rykmansdogter uit Glenhaven. Sy is bewus van Corli se huislike omstandighede en gebruik dié kennis om Corli voor Gareth te verneder.

As kelnerin moet Corli sorg dat die klant gelukkig gehou word. Kristen kritiseer die kos wat Corli vir haar bring en die diens wat sy lewer. Sy dreig om Corli by die bestuurder te gaan verkla. Omdat Corli die werk by die restaurant nodig het, durf sy nie haarself teësit of probeer verdedig nie. Haar opstandigheid oor Kristen se gedrag kan egter wel gesien word wanneer sy op die sogenaamde vuil lepel blaas en dit teen haar jeans afvee.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking