Tino
Tino
is die gekompliseerde hoofkarakter wat homself deur leuens probeer beskerm en
nie besef dat hierdie leuens hom juis uiters weerbaar maak nie. Hy is ‘n
kompulsiewe leuenaar wat homself al dieper in die moeilikheid laat beland met
sy leuens. Sy spanmaat, Martin, sien baie gou deur Tino se leuens en lok hom
uit deur telkens baie ongemaklike vrae te vra. Uiteindelik lieg Tino hom só vas
dat hy besluit om met die waarheid uit te kom, ongeag wat die gevolge daarvan
mag wees. Hierdie volwasse besluit bring vir Tino ‘n soort bevryding en hy voel
skielik nie meer so vasgevang in die web van leuens nie.
Tino
is nie ‘n goeie rugbyspeler nie en fantaseer oor hoe hy ook doele aanteken en
die held van ‘n wedstryd is. Hy dagdroom terwyl hy op die kantlyn sit en die
wedstryd dophou waarvan hy nie deel is nie. Selfs as die wedstryd verby is, is
hy steeds droomverlore en besef nie dat die span reeds die veld verlaat het om
hul oorwinning te gaan vier nie. Wanneer Jerome en sy vriende Tino oor die
wedstryd uitvra, gee hy voor dat hy die beste speler in die wedstryd was en sy
span tot ‘n oorwinning gelei het. Jerome beloon hom met ‘n tienrandnoot, vas
onder die indruk dat Tino die waarheid vertel. Onmiddellik manipuleer Tino die
situasie skaamteloos deur te sê dat hy volgende keer twintig rand wil hê as hy vir
die eerste span speel.
Tino
se ontwykende optrede wanneer Martin hom in ‘n hoek probeer dryf, is opvallend
namate die week vorder. Wanneer hy gekonfronteer word, probeer hy eers tyd wen
om ‘n nuwe leuen te versin. Deur sy leuens skep hy vir hom ‘n illusie van die
werklikheid. Dit lyk asof hy toenemend die vermoë verloor om tussen droom en
werklikheid te onderskei. Soos die week vorder en Tino geen vordering maak nie,
raak hy meer ongeduldig en nukkerig. As Jerome weier om voor te gee dat hy Tino
se pa is, vererg Tino hom en stap weg.
In
hierdie verhaal is dit duidelik dat Tino ‘n diep ongelukkige seun is. Daar
bestaan swak kommu-nikasie tussen hom en sy ma en hy kry nie die ondersteuning
wat hy van haar verwag nie. Sy werk nagdiens en wanneer sy by die huis is, is
sy nie daar om te luister en raad te gee nie. Sy vermy ongemaklike vrae en is
nie bereid om daaroor te praat nie. Tino se pa is heeltemal afwesig in sy lewe;
hy voel dus reeds van vroeg in sy lewe af verwerp en verstote en sy ma doen ook
niks om ‘n hegte band met haar seun te vorm nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking