Vrydag 20 Julie 2018

'N PA VIR SATERDAG deur Christo Davids (Bespreking 2)


Tino ly aan ‘n grootheidswaan (megalomania) wat hy as ‘n verdedigingsmeganisme gebruik. In alles wat hy sê, probeer hy wys dat hy meerderwaardig is. Wanneer Martin sê dat sy pa kaptein van Groenheuwel se eerstespan was, troef Tino hom deur te sê dat sý pa ‘n provinsiale speler was, boonop vir die Westelike Provinsie, wat tradisioneel een van die sterkste spanne is. Aan Jerome en sy vriende vertel hy dat hy as die speler van die wedstryd aangewys is.

Tino se grootheidswaan spruit uit ‘n gevoel van minderwaardigheid (inferiority) teenoor die ander seuns wat hy met sy leuens probeer wegsteek. In sy droom, twee dae voor die belangrike wedstryd, sien Tino hoe hy oor ‘n groen veld stap en hoe hy in die proses al groter en groter word. Met elke tree word hy ook meer volwasse. Dis ‘n verdere teken van Tino se onvolwassenheid en sy hunkering om ‘groter’ te wees as wat hy is. Aan die einde van die verhaal toon hy tóg volwassenheid wanneer hy besluit om sy leuens te erken voordat hy heeltemal daardeur verswelg word.

Tino steek in party opsigte swak af teenoor die ander seuns en dis hoekom hy homself so meerder-waardig probeer voordoen. Dit blyk dat hy nie ‘n goeie rugbyspeler is nie en hy bring die meeste wedstryde as reserwespeler op die bank deur. Hy het ook nie dieselfde toewyding as die ander spelers nie en sit en dagdroom terwyl hy op die bank is. In die pa-en-seun-wedstryd sal hy slegs in die tweede helfte op die veld draf, wat ‘n verdere bewys is dat hy nie een van die staatmakerspelers is nie. Martin noem hom ‘n ‘sissy’; hy is dus nie so ‘n onverskrokke speler soos Martin is nie.

Die feit dat Tino nie ‘n rolmodelpa het om saam te bring na die wedstryd toe nie, is moontlik die hoofrede vir sy gevoel van minderwaardigheid teenoor sy spanmaats. Dis duidelik dat daar ‘n baie noue band tussen Martin en sy pa bestaan, ‘n voorreg wat Tino nog nooit gehad het nie. Die feit dat daar ‘n pa-en-seun-wedstryd gereël word, dui ook aan dat die ander seuns pa’s het wat ‘n belangrike rol in hul lewens speel.

Uiteindelik besluit Tino om te erken dat alles net leuens was. “Ek sal sê ek het hulle almal maar net lekker vir die fool gehou.” Selfs dít is ‘n leuen, want dit was nooit Tino se bedoeling om hulle vir die gek te hou nie. Die erkenning van sy leuens is bloot omdat hy in ‘n hoek gedryf is en daar geen ander uitweg is nie.

Die klimaks in die verhaal kom aan die einde wanneer Tino in sy ma se slaapkamer ingaan en sy pa se foto opskeur. In hierdie dramatiese moment vernietig hy alle illusies wat hy oor sy pa gehad het. Indirek dwing hy hierdeur ook sy ma om die verlede agter te laat en vorentoe te kyk.

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking