Ons
vind hier ‘n verhaal vol innerlike konflik. Dié konflik spoel ook oor na
eksterne gebeure in die verhaal. Tino bevind hom in ‘n situasie waar hy begin
leuens vertel om sy menswaardigheid te behou. Hierdie situasie ruk uiteindelik
heeltemal handuit wanneer Tino besef dat hy só vasgevang is in ‘n web van
leuens dat hy nie daaruit kan ontsnap nie.
Tino
en sy ma woon saam onder dieselfde dak, maar daar is baie min kontak tussen
hulle. Daar is geen aanduiding dat daar ander kinders is nie en Tino het sy pa
nog nooit gesien nie. Hy het ‘n behoefte aan ‘n teenwoordige pa wat sy
rugbywedstryde kan bywoon. Wanneer hy aan die begin van die verhaal sit en
dagdroom, hoor hy in sy verbeelding hoe iemand in die skare skree: “Dis my
laaitie daardie!”
Tino
se ma is ‘n verpleegster en sy werk nagdiens. Haar beroep en die moeilike ure
wat sy werk, maak haar ongeduldig teenoor Tino wanneer hy oor sy pa uitvra. Dis
duidelik dat dit vir haar ‘n teer punt is, want Tino sien soms hoe sy ma in
haar kamer na hul troufoto’s kyk en haarself aan die slaap huil. Sy weier om
met Tino oor sy pa te praat en hy kan geen inligting uit haar kry nie. Wanneer
hy met haar oor sy pa wil praat, ontwyk sy hom, of sy onderbreek hom en gee
voor dat sy laat vir werk gaan wees. Hy besef dat hy baie vinnig ‘n plan sal
moet maak om voor Saterdag se wedstryd ‘n pa in die hande te kry. Hy raak so obsessief
daaroor dat hy selfs snags daarvan droom.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking