Vrydag 20 Julie 2018

'N PA VIR SATERDAG deur Christo Davids (Opsomming 3)


As Tino by die rugbyveld aankom, is die ander seuns al besig om op te warm. Martin sluit by Tino aan en hy wil weet waar Tino se pa is. Tino vertel dat sy pa in Holland woon en werk en dat hy net twee keer per jaar Suid-Afrika toe kom. Hy is juis op die oomblik op besoek aan Suid-Afrika. Tino besef dat hy besig is om homself al vaster te draai in die baie leuens wat hy vertel. Na die opwarmingsessie kondig Martin skielik aan dat Tino se pa 'n oud WP-rugbyspeler is en dat hulle dus Saterdag 'n beroemde persoon in hul midde sal hê. Die ander seuns lyk baie verbaas en beïndruk. Die afrigter kyk Tino egter agterdogtig aan en lyk nie oortuig dat dit die waarheid is nie.

Donderdag, twee dae voor die pa-en-seun-wedstryd, spook die gedagte aan sy pa steeds by Tino. Hy droom hoe hy oor 'n groen veld stap en hoe die gras mettertyd al langer en groener word. Hy stap in die rigting van 'n onbekende man wat aan die ander kant van die veld staan. Soos hy naderstap, voel dit asof hy al groter en meer volwasse word. Wanneer hy voor die vreemde man staan, wil hy weet wie die man is. Die man antwoord: "Jy weet wie ek is. Jy soek al jou hele lewe lank na my.”

Dis Vrydag, die dag voor die wedstryd. Tino is ingesluit in die span wat die volgende dag speel. Hy weet steeds nie hoe hy die probleem met sy pa gaan oplos nie. Hy besef dat almal hom gaan bespot oor al die leuens wat hy verkondig het. Maar wat anders kon hy doen? Vir hulle die waarheid vertel? Wat ís die waarheid?

Tino stap buitetoe, gaan haal die leer uit die buitekamertjie en klim tot op hul huis se dak. Hy kyk in die rigting van die straat wat voor hulle huis verbyloop. Hier van bo af sal 'n mens iemand al van ver af kan sien aankom. Niks gebeur egter nie en heelwat later klim hy koud en styf van die dak af en gaan die huis binne. Hy stoot sy ma se kamerdeur huiwerig oop en gaan staan voor haar bedkassie. Hy trek die laai oop en vind haar foto-album agter in die laai, half verskuil onder 'n boks sneesdoekies. Hy blaai daardeur totdat hy by die troufoto kom. Versigtig haal hy die foto uit die plastiek-omhulsel.

Tino bestudeer die foto van die man met die spierwit pak wat langs sy ma in haar trourok staan. Hy sê vir die man op die foto: "So what? So what as hulle môre uitvind? Ek sal sê ek het hulle almal maar net lekker vir die fool gehou." Terwyl Tino die foto stukkend skeur, sê hy in 'n gebroke stem: "En as ek eendag 'n laaitie het, sal ek by al sy rugby-games wees." 

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking