Vrydag 20 Julie 2018

'N PA VIR SATERDAG deur Christo Davids (Opsomming 2)


Tino en Jerome is goeie vriende en Tino beskou hom amper as 'n ouer broer. Jerome is werkloos en niemand weet hoe hy sy geld verdien nie. Hy moedig Tino egter aan om hard te werk op skool "sodat jou werk nie eendag 'n geheim hoef te wees nie". As Jerome nou hoor hoe goed Tino gespeel het, stop hy hom 'n tienrandnoot in die hand om hom geluk te wens. Tino vertel dat hy die volgende week vir die eerste span gaan speel en sê dat hy dan twintig rand as beloning wil hê.

Wanneer Tino by die huis kom, het sy ma reeds haar verpleegsteruniform aan en sy is gereed om vir haar nagdiensskof te vertrek. Tino probeer haar vertel van die volgende Saterdag se pa-en-seun-wedstryd, maar sy onderbreek hom die hele tyd. Sy is haastig om te vertrek, maar Tino kry uiteindelik die geleentheid om haar te vertel net voordat hy by sy kamer instap; hy wag egter nie op haar reaksie nie.

Dis Maandag, vyf dae voor die wedstryd. By die skool vertel Martin vir Tino dat hy en sy pa saam na die Springbokke se wedstryd op televisie gekyk het. Tino wens hom geluk met die goeie wedstryd wat hy Saterdag gespeel het. Martin wil weet of Tino se pa daardie Saterdag rugby toe kom, en Tino antwoord: "Ja. Sure. Hy sal dit vir niks mis nie." Martin vertel dat sy pa die eerstespankaptein was toe hy in Groenheuwel op skool was en dat hy daardie Saterdag sy ou Groenheuwel-rugbytrui gaan dra. Tino vertel dat sý pa provinsiale rugby gespeel het toe hy jonger was. Hy kan sien dat Martin hom nie glo nie. Martin wil weet vir watter provinsie Tino se pa gespeel het, maar voordat Tino verder kan lieg, kom die onderwyser by die klas is. Dis egter duidelik dat Martin nie vir Tino gaan uitlos voordat hy 'n bevredigende antwoord gekry het nie.

Dinsdagoggend sit Tino by die ontbyttafel en eet wanneer hy vir sy ma vra wanneer hy sy pa kan ontmoet. Sy ma weier om oor sy pa te praat. Tino wil by sy ma weet wat hy Saterdag vir die ander moet sê as hulle hom oor sy pa vra. As hy by die skool kom, wag Martin hom in en herhaal sy vraag. Tino vertel dat sy pa vir die Westelike Provinsie rugby gespeel het, maar Martin sê dat Tino lieg. As die klok net daarna lui, stap Tino vinnig weg en hy vermy Martin die res van die dag, bang dat Martin nog meer ongemaklike vrae kan vra.

Woensdagmiddag, op pad rugby-oefening toe, gaan Tino eers vir Jerome opsoek. Hy en sy vriende sit op die gewone plek en Tino dui aan dat hy Jerome privaat wil spreek. Hy fluister sodat die ander nie kan hoor wat hy vir Jerome sê nie. Hy vra vir Jerome om Saterdag voor te gee dat hy Tino se pa is, maar Jerome sê nee. Hy lyk nie eens tien jaar ouer as Tino nie en niemand sal hulle glo nie. Tino stap vies van Jerome en sy vriende af weg.

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking