Vrydag 20 Julie 2018

'N PA VIR SATERDAG deur Christo Davids (Karakters 3)

Tino se ma

Tino en sy ma het nie ‘n goeie verhouding nie. Sy is ongeduldig met hom en wil nie sy vrae oor sy pa beantwoord nie. Sy is nie ‘n goeie luisteraar nie en val Tino gedurig in die rede terwyl hy met haar praat. Dít is moontlik haar verdedingingsmeganisme om ongemaklike vrae te vermy. Sy toon ook nie veel belangstelling in sy rugby nie, want as hy haar vertel dat hulle gewen het, is haar reaksie slegs “Dis goed om te weet.”

Weens die ongerieflike ure wat Tino se ma as nagverpleegster werk, leef hulle heeltemal by mekaar verby. Wanneer hy van sy rugby-oefening af tuiskom, is sy amper gereed om hospitaal toe te vertrek. Dit lyk asof kommunikasie in hulle huis tot die minimum beperk is. Tino se ma se mislukte huwelik is vir haar ‘n baie emosionele saak waaroor sy nie wil praat nie. Dit lyk of sy heeltemal onbewus is van Tino se dwingende behoefte om oor sy pa te praat.

Tino se ma bewys haarself as selfsugtig wanneer sy weier om Tino se gevoelens in ag te neem en net vir haarself jammer voel. Dit lyk of sy baie lief vir Tino se pa was en sukkel om die mislukking te verwerk, want sy huil haarself nog steeds na al die jare aan die slaap wanneer sy na hulle troufoto’s kyk.            

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking