Vrydag 20 Julie 2018

'N PA VIR SATERDAG deur Christo Davids (Opsomming 1)


Tino sit en dagdroom oor hoe hy sy rugbyspan se sterspeler tydens 'n wedstryd is. In sy verbeelding sien hy hoe hy punte vir sy span aanteken en hoe almal gaande is oor sy spel. Hy hoor 'n manstem wat trots uitroep: "Dis my laaitie daardie!" en hy blaak in sy oomblik van glorie.

Tino word uit sy droomwêreld geruk wanneer een van sy spanmaats kom sê dat die afrigter met die spanlede wil praat. Die wedstryd is al 'n kwartier gelede verby en Tino het die hele tyd op die kantlyn gesit en dagdroom. Hy sluit nou by sy spanmaats aan wat in die kleedkamer onder die pawiljoen vergader. Die afrigter het skynbaar reeds met die span gepraat en hy maak 'n sarkastiese aanmerking wanneer Tino uiteindelik by hulle aansluit. Een van Tino se spanmaats, Martin, maak 'n grap ten koste van Tino en al die ander spelers bars uit van die lag. Die afrigter verdaag die spelers en herinner hulle daaraan dat hulle die volgende week in 'n pa-en-seun-wedstryd speel. Elke speler moet sy pa saambring en daar sal ná die wedstryd foto's geneem word.

As Tino buite kom, wonder hy wat hy die volgende Saterdag gaan doen. Hy ken nie sy eie pa nie en hy is paniekerig oor die vooruitsig van 'n pa-en-seun-dag. Die afrigter wil weet of Tino die Saterdag daar sal wees en Tino verseker hom dat dit nie 'n probleem is nie. "My pa wou al lankal kom kyk hoe ek speel." Die afrigter belowe dat hy Tino in die tweede helfte van die wedstryd sal laat speel as Tino daardie week hard oefen.

Op pad huis toe dink Tino aan sy pa wat hy nooit ontmoet het nie en oor wie sy ma nie wil praat nie. Sy ma huil haarself dikwels saans aan die slaap terwyl sy na haar troufoto's staar. Tino wonder wat hy kan doen om sy pa by die rugbywedstryd te kry.

As Tino 'n groep ouers seuns op die straathoek sien vergader, pluk hy 'n hand vol gras uit en besmeer sy skoon rugbybroek daarmee sodat dit kan lyk of hy 'n harde wedstryd gespeel het. Hy gooi ook sy rugbytrui op die grond en trap daarop sodat dit vuil en gehawend kan lyk. Jerome, een van die seuns, groet en wil weet hoe die rugbywedstryd afgeloop het. Tino vertel dat hulle gewen het en dat hy drie keer punte vir sy span aangeteken het. Hy lieg verder deur te vertel dat hy as speler van die wedstryd aangewys is.

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking