OPSOMMING
Jakoet swem deur die laaste seebamboes
na Robklip toe, want die beste krewe skuil daar. Anderkant Robklip is die see
diep en daar is nie kreef nie. Terwyl hy terugswem na die rots toe, kry hy die
gevoel dat iets hom dophou, dat iets agter hom swem. Hy loer oor sy skouer en
sien skielik 'n groot skaduwee naderkom. Dit kom al nader, en mettertyd kan
Jakoet uitmaak dat dit 'n groot withaai is. Hy is lam van die skrik as hy die
wit dood sien naderkom. Hy beweeg stadig vorentoe na die klip toe om ongemerk
uit die haai se sig te probeer kom. Hy beweeg nie sy hande nie en hou sy arms
langs sy sye gestrek.
Jakoet sien nou eers hoe groot die
haai werklik is. Hoe nader die haai kom, hoe groter word hy en hoe banger word
Jakoet. Hy sien hoe die haai se oog hom die hele tyd dophou. Hy besef dat hy
boontoe moet beweeg om asem te skep. Hy beweeg stadig boontoe terwyl hy die
donkergrys haai die hele tyd dophou. Hy sien die haai se wit maag en wonder of
dít die rede is dat hulle 'wit-doodshaaie genoem word.
Terwyl Jakoet geleidelik boontoe
beweeg, begin die haai nou in 'n spiraal om hom swem. Hy wonder wat die haai se
strategie is. Hy is nou heeltemal paniekbevange. Hy sien alreeds in sy
geestesoog hoe die haai hom genadeloos verskeur. Wanneer die haai ongeveer drie
meter van Jakoet af is, kan Jakoet albei oë sien wat op hom gerig is. Hy
probeer roerloos bly en trap net effens water om nie te sink nie. Skielik swenk
die haai weg en swem so naby Jakoet verby dat hy aan die haai se syvin kan raak
as hy sy arm uitsteek. Die haai draai nie weer om nie en Jakoet sien vir oulaas
die stert voordat die haai in die groenblou water verdwyn.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking