OPSOMMING
Wanneer Jakoet by die water kom, trek
hy sy ou duikpak en paddavoete aan. Hy maak die swaar gordel met die seilsak om
sy middel vas. Hy trek ook sy ou tuinhandskoene aan vir wanneer hy die kreef
tussen die rotsskeure moet uithaal. Met sy snorkel en duikbril is hy nou gereed
om die koue water aan te durf. Hy haal 'n paar keer diep asem deur die snorkel
voordat hy induik. Op pad ondertoe druk hy sy neus toe en blaas om die druk van
die water op sy oortromme te beheer.
Net voordat Jakoet se asem opraak,
sien hy 'n groot kreef onder 'n klip skuil. Hy gaan boontoe om asem te skep en
sak dan weer af na dieselfde plek toe. Blitsvinnig steek hy sy hand in die
rotsskeur in en gryp die kreef voordat hy kan wegkom. Jakoet besef hoe
gevaarlik dit kan wees as 'n mens se hand in 'n rotsskeur vassit, daarom is hy
altyd 'n bietjie skrikkerig om dit te doen. Hy voel hoe die kreef skop en
desperaat aan die rots probeer vasklou, maar na 'n rukkie laat hy los en Jakoet
steek die kreef in sy seilsak terwyl hy weer boontoe gaan vir lug.
Na 'n lang ruk slaag Jakoet daarin om
sy tweede kreef te vang, hierdie keer tussen die bamboese. Hy is nou gewoond
aan die koue water en al sy aandag is gefokus om nog krewe te vang. Na ongeveer
'n halfuur is daar reeds vyf krewe in die sak en Jakoet is baie dankbaar. Hy
hoop om nog vyf krewe te vang om op te maak vir sy laaste drie swak vangste.
Oom Kassiem het hom vertel dat kreef voorheen so volop in die omgewing was dat
jy nie eens daarvoor hoef te geduik het nie, want die vlak water was vol
daarvan. Dinge het egter verander en dit is deesdae baie harde werk om krewe in
die hande te kry, en 'n mens is dikwels onsuksesvol.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking