OPSOMMING
Jakoet is 'n skoolseun van
Tarentaalplaas wat gedurende naweke krewe vang om sy ma se karige inkomste aan
te vul. Sy werk net vier dae per week en sukkel om vir haar en Jakoet te sorg.
Hy leen altyd Oompie Kassiem se trapfiets as hy gaan kreef vang, want dit het 'n
lekker bak vooraan waarin hy sy duikklere en sy kreefvangs onder leë bottels
kan wegsteek. Oompie Kassiem weet hoe Jakoet se ma sukkel, daarom gee hy nie om
as Jakoet sy fiets leen nie.
Jakoet se ma het heeltemal afhanklik
van die ekstra inkomste geword en daarom hoop hy altyd vir 'n kalm see as hy
gaan kreef vang, want as die see onstuimig of die water troebel is, kan hy dit
nie in die water waag nie. Met die kreefgeld kan hulle basiese kos koop en die
elektrisiteitskaart betaal. Jakoet betaal ook sy skoolgeld daaruit. Sy ma is
baie dankbaar daaroor en noem Jakoet hulle 'broodwinner’.
Dis onwettig om sonder 'n permit kreef
te vang, en selfs mét 'n permit mag 'n mens nie meer as vier krewe per dag vang
nie. Daar geld baie streng reëls om die kreef te beskerm, maar Jakoet steur hom
nie hieraan nie, want hulle voortbestaan hang af van hoeveel krewe hy op 'n
mooiweersdag kan vang. Hy vang net groot krewe, want dit is wat die mense wil
hê. Dié krewe skuil in die rotsgleuwe waar dit baie gevaarlik is, daarom is dit
vir Jakoet moeilik en 'n groot risiko om kreef te vang.
Vandag is Jakoet op pad om by Rooiels,
in die Valsbaai-omgewing, te gaan duik vir kreef. Robklip is 'n gladde swart
rots 'n entjie die see in en in die skeure langs dié uitstaanrots is daar groot
krewe. Dis gevaarlik, maar gewoonlik die moeite werd. As Jakoet daar naby kom,
steek hy die fiets tussen digte struike weg en ketting dit aan 'n denneboompie
vas. Daarvandaan is dit baie steil tot by die water.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking