Vrydag 13 Julie 2018

10 VRAE OOR Madiba van André Boesak


MADIBA       André Boesak 

Dag vir dag het jy na
die Here en see gestaar
in die verte die baaiers
op Bloubergstrand gewaar
Die geskuim en gewieg
was jou enigste vriend
‘n straf wreed, onnodig en onverdiend.

Wie sou kon dink
dat jy sewe  en twintig jaar
dié beker in ‘n sel alleen moes drink.
In dié tyd het jou wese
geen woede vergaar,
geen sweem van verwyt
wat jou sou slyt.

Elke keer as jy met
rustige erns praat
word jou stem gefynkam
vir tekens van haat.
Ook dié agterdog
word vergeef,
die koeltes van jou vergifnis
het dit doodgeleef.

Drink die son
rots wat aan die suidpunt van Afrika staan!
Die verdrukker is verleë,
sy mag is verslaan!
Geen eiland van afsondering,
geen see van skeiding
sal ooit weer in ons leeftyd
vir jou bestaan!
[Bron: https://anzdoc.com/anti-apartheid-anthologie-een-bloemlezing-uit-afrikaanse-ged.html]                                                                                   



1.   Waar is Nelson Mandela in die eerste strofe?

2.   Wat word hierdie plek (jou antwoord in 1) in die laaste strofe genoem? Gee net die drie opeenvolgende woorde.

3.   In hierdie tyd was Nelson Mandela baie geïsoleerd. Wie/Wat was in hierdie tyd sy enigste vriend? Sê in jou eie woorde.
  
4.   Watter mense kon hy sien as hy in Kaapstad se rigting gekyk het?
                 
5.   Hoe weet ons dat Mandela nie tydens se gevangenskap sy geloof in God verloor het nie?

6.   Die spreker sê dat Nelson Mandela ‘wreed, onnodig en onverdiend’ vir 27 jaar in ‘n tronksel aangehou is.

6.1     Wat sou ‘n mens verwag van iemand wat so lank onskuldig aangehou is? Vind drie aparte woorde in strofes 2 en 3 om die vraag te beantwoord.                        
6.2     Wat het die mense egter van Mandela gekry? Gee ‘n enkele woord uit strofe 3 as antwoord.                                                                                    
7.   Watter twee enkele woorde in stofe 3 is antonieme (teenoorgesteldes)?

8.   Ons lees van die 'rots wat aan die suidpunt van Afrika staan'.

8.1     Watter bekende 'rots' staan aan die suidpunt van Afrika?                       
      8.2     Hoekom, dink jy, word Nelson Mandela met hierdie rots vergelyk? Sê kortliks.

9.   "Die verdrukker is verleë" - Na wie word hier verwys as "die verdrukker"?

10. Watter troos het die spreker vir Nelson Mandela in die laaste vier versreëls van die gedig?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking