Saterdag 11 Oktober 2025

DIE STRAATKIND - Linda Roos

Kommentaar

Die spreker lewer sosiale kommentaar op die hedendaagse mens se onbetrokkenheid by ernstige maatskaplike vraagstukke. Ons verkies om weg te kyk en aan te stap, eerder as om probleme aan te spreek en te probeer oplos.

Die spreker gebruik in die gedig "Straatkind" die beeld van ʼn kind sonder heenkome wat naarstiglik in asblikke grawe op soek na kos. Dis ʼn alledaagse gesig in die Suid-Afrikaanse samelewing, maar ook ʼn gesig wat die meeste mense verkies om te ignoreer. Dis ʼn wond wat in ons samelewing bestaan, maar ons verkies om ʼn pleister daaroor te plak en voor te gee dat dit nie bestaan nie of dat dit nie ons plig is om iets daaraan te doen nie.

Die spreker sien die dapper, feitlik uitdagende, gesig wat die straatkind probeer voorhou en besef dat dit ʼn skans is wat hy opgebou het, ʼn verdedigingsmeganisme teen verdere vernedering en pyn. Die spreker besef ook dat dit maar net een van die maatskaplike probleme is waarmee ons samelewing te kampe het. Wat van die vernietiging van die natuur waaroor ons maar net swyg en anderpad kyk? Wat van weerlose diere wat as proefkonyne in eksperimente gebruik word? Wat van dagoud-lammertjies (karakoel) wat geslag word vir pelsjasse vir die verveelde en bedorwe elite van ons samelewing of vir vleis om die rykes mee te voed? Daar is soveel kwessies wat aandag nodig het, maar wat eenvoudig geïgnoreer word.

Aan die einde van die gedig gebeur iets met die spreker wat haar lewe onherroeplik verander. Sy ervaar skielik ʼn gevoel van aanraking, amper soos ʼn skerp voorwerp wat haar wang krap en ʼn bloedmerk agterlaat. Sy besef dit is soos ʼn goddelike stem wat haar uit die wolke aanspreek, wat haar daaraan herinner dat sy voortaan nooit weer met ʼn ongeërgde houding van maatskaplike kwessies sal kan wegstap nie, dat sy iets daadwerkliks daaraan sal moet doen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking