Hierdie
gedig is losweg gebaseer op die kinderverhaal van Hansie en Grietjie deur die
Grimm-broers. Dié verhaal handel oor twee kinders wat deur hul stiefma woud toe
geneem is omdat sy nie langer kans gesien het om hulle te versorg nie. Hulle
het in die woud verdwaal en is deur 'n wrede heks gevange geneem. Uiteindelik
ontsnap hulle en word met hul pa herenig.
Die
spreker in die gedig vergelyk die woonstelgebied Sunnyside (Pretoria) met die donker
woud waarin Hansie en Grietjie hulle bevind het. Daar is so baie hoë
woonstelgeboue in dié voorstad dat die son selde op die grond skyn. Snags is
die sterre feitlik onsigbaar as gevolg van die duisende stadsliggies wat dit
uitdoof. Dit is dus kunsmatige lig wat in die stad skyn en nie natuurlike lig
nie.
Die
woonstelkinders word soggens na 'n kleuterskool geneem waar hulle die hele dag
moet deurbring terwyl hulle ouers werk. Die kinders is nie gelukkig in die
kleuterskool nie en huil die hele dag omdat hulle teen hulle sin daar is. Hulle
word eers laat in die dag met 'n deftige motor by die kleuterskool opgelaai en
woonstel toe geneem. Die ouers word "stiefouers" genoem omdat dit lyk
asof hulle nie baie vir die kinders omgee nie.
As
die kinders by die woonstel aankom, word die deftige nuwe motor in die
kelderverdieping geparkeer en die kinders word met die hysbak woonstel toe
geneem. Dis reeds laat en die ouers is moeg, daarom word die kinders vinnig
gebad en kos gegee en dan moet hulle soet gaan slaap tot die volgende môre.
Daar word dus nie tyd ingeruim om saam met die kinders deur te bring nie. Die
kinders het ook geen sê oor wat met hulle gebeur nie. Die ouers sien om na die
kinders se basiese fisieke behoeftes, maar nie na hul emosionele behoeftes nie.
Hulle word van die een hok na die ander oorgeplaas sonder dat hulle 'n keuse in
die saak het (kleuterskool, motor, hysbak, woonstel, bababed).
Aan
die einde van die gedig vertel die spreker hoe hierdie Hansie en Grietjie later
in opstand kom teen hierdie soort lewe. Hulle klouter uit die bed en oor die
relings van die woonstel se balkon in 'n poging om weg te kom van hierdie onnatuurlike
lewe van gevangenskap, soos Hansie en Grietjie in die kinderverhaal wat uit die
heks se huis ontsnap het. Hierdie verhaal het egter nie 'n gelukkige einde nie,
want 'Hansie en Grietjie' val oor die balkonreling en beland op die sementpad
ver onder hulle waar hulle "fyn en flenters" breek. Hierdie beeld
verwys na die koue, harde werklikheid wat kinderlike geluk vernietig. Die
kinders bereik nooit die vryheid waarna hulle streef nie en word slagoffers van
die stad met sy genadelose, koue sement.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking