INHOUD
Coenie is een van vyf
leerlinge wat gekies is om sy skool in 'n redenaarskompetisie te
verteenwoordig. Nou gaan hulle met ander skole se topredenaars meeding. Hy moet
praat oor die Waarheidskommissie en vra sy ma en stiefpa se raad oor die
onderwerp. Hulle weet van dié kommissie, maar Coenie weet skynbaar meer van die
onderwerp as hulle. Sy stiefpa, oom Willem, dink dis verkeerd om skoolkinders
oor so 'n politieke onderwerp te laat praat, en dan nog boonop oor iets wat tot
die verlede behoort. Coenie vererg hom vir hulle onkunde en as hy wegstap, vererg Oom Willem hom.
Coenie wil nie aan die
kompetisie deelneem nie en dink sy ma het agteraf met Mevrou Buchner gekonkel
om hom in die kompetisie te kry. Hy is 'n skaam en teruggetrokke seun en Oom
Willem waarsku dat hy selfvertroue sal moet uitstraal en die gehoor met sy
glimlag oorrompel as hy iewers in die kompetisie wil kom.
Coenie staan voor die
spieël in sy kamer en hy sien hoe sleg sy vel lyk. Hy dink die meisies by die
skool gril wanneer hulle hom sien en hy besef dat niemand met hom sal uitgaan
terwyl sy vel in so 'n slegte toestand is nie.
As Coenie se sussie,
Mari, aan die deur klop en by die kamer inkom, is hy geïrriteerd en
onvriendelik. Sê dat sy niks van hul stiefpa, oom Willem, hou nie, en sy wens
dat haar ma eerder van hom wil skei. Volgens Coenie het sy ma 'n keuse gemaak
en hulle moet daarby berus dat oom Willem gekom het om te bly. As Mari weer
loop, dink Coenie aan oom Willem se raad (kritiek) dat Coenie die gehoor met sy
glimlag moet oorrompel. Dit lyk nie asof die arme Coenie veel rede het om te
glimlag nie.
Die redenaars klim in
die mikrobus om aan die redenaarskompetisie te gaan deelneem. Daar is 'n sterk
wind en een van die meisies, Louise Alberts, is bang die wind waai die mikrobus
van die pad af. Mevrou Buchner dink dat dit dalk reën sal bring. Sy vra uit oor
die kinders se voorbereidings vir die kompetisie en daar heers 'n ontspanne
atmosfeer onder die kinders; net Coenie sit woordeloos tussen die ander.
Mevrou Buchner is self
bekommerd oor die sterk wind en wil weet of haar seun, Tooi, wat die bussie
bestuur, sal regkom. Hulle kom daardie aand weer terug en gelukkig word daar
voorspel dat die wind teen daardie tyd sal bedaar het.
Skielik kom 'n ander
mikrobus van voor af en die rukwind slinger dié voertuig reg voor Coenie-hulle
in die pad in. Tooi probeer desperaat uitswaai om 'n botsing te vermy en hulle
mikrobus verlaat die pad. Die voertuig rol buite beheer teen 'n steilte af
terwyl die insittendes gil; as dit uiteindelik tot stilstand kom, is alles
onheilspellend stil.
Een vir een kruip die
beseerdes uit die mikrobus na veiligheid. Alhoewel sommige van hulle beseer is,
is niemand in die ongeluk dood nie. Tooi het 'n ernstige kopwond opgedoen,
terwyl Solomon se arm skynbaar gebreek is. Coenie is baie verward en dink dat
hy dalk sy bewussyn verloor het toe hy deur die opening gekruip het. Hy het
blykbaar 'n kopbesering opgedoen en hy besef dat die struike teen die hang
hulle van 'n gewisse dood gered het.
Precious Bapela lê 'n
paar meter van Coenie af; sy is skynbaar inwendig beseer en kla dat sy sukkel
om asem te kry. Coenie probeer haar moed inpraat en sê dat sy moet vasbyt, want
hulle sal binnekort gered word. Sy moet probeer dink aan die toekoms en aan
dinge wat sy nog graag wil doen, anders moet sy probeer bid.
Coenie besef dat hy
Precious eintlik glad nie ken nie, al is hulle saam in dieselfde klas. Sy kom
uit 'n kultuur wat hy nie ken nie en sy praat 'n taal wat hy nie verstaan nie.
Hy vertel hoe hy al gewens het dat hy dood was oor sy aaklige velprobleem en
Precious vertel hoe sy verkrag is op die dag toe sy gehoor het dat sy een van
die skool se vyf finaliste in die redenaarskompetisie is; na dié gebeurtenis het sy gewens sy kon eerder sterf.
Volgens haar kan 'n velprobleem behandel word en herstel, maar vir haar
nagmerrie-ervaring is daar egter nie behandeling nie.
Volgens Precious het sy vir niemand van haar aaklige ervaring vertel nie en
Coenie besef dat elkeen 'n nagmerrieverhaal in homself ronddra waarvan ander
mense nie weet nie. Hy wonder wat die ander kinders in hulle groep se
waarheidstories is wat hulle van ander mense probeer weghou.
As hulp na 'n ruk opdaag, sê Coenie weer dat Precious moet vasbyt en bly
lewe. Ten spyte van haar aaklige ervarings is sy baie kosbaar, soos haar naam
aandui. Voordat hulle na veiligheid geneem word, sê Precious dat sy Maandag vir
Coenie salf skool toe sal bring wat hy vir sy velprobleem kan gebruik.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking