Donderdag 01 November 2018

'n Inhoudelike bespreking van Boggombaai-blues – Pirow Bekker

Die digter meld in sy gedig die plekkie Boggomsbaai waar hy afgetree het. Volgens hom is dit nie nodig om 'n obesssie met die dood te ontwikkel as jy afgetree is nie. Boggomsbaai is die ideale aftreeplek as jy selfs na aftrede steeds voluit wil lewe. By Boggomsbaai kan jy jou probleme en negatiewe gedagtes agter die sandduine los, want "almal ry hier op die kruin se golf." Hier sing jy as negatiewe gedagtes jou wil oorval. Die Grim Reaper met sy swart mantel en sekel kry nie in Boggomsbaai 'n houvas op jou nie en hy kan jou nie die skrik op die lyf jaag nie.

Die spreker maan die leser om nie negatiewe gevoelens oor die dood te hê nie. Wat ons nie aldag besef nie, is dat die dood eintlik nog altyd deel van ons bestaan was. Dis nie iets wat skielik 'n deel van jou lewe word as jy oud en afgetree is nie. Dis nie net oumense wat doodgaan nie en die dood is nie iets om te vrees nie. Jy hoef nie die blues daaroor te kry nie. Beskou die dood eerder as 'n vriend, 'n getroue metgesel wat jou lewe lank 'n deel van jou was. Die dood is "jou beste pel", want hy is altyd daar vir jou. As jy hom nodig het, kan jy enige tyd op sy nommer druk. Hy is baie lojaal en ruimhartig en sal niemand wegwys nie. Hy is nie kieskeurig met wie hy vriende maak nie, hy is daar vir almal. Moet hom dus nie as 'n vyand beskou nie.

Die spreker in hierdie gedig se positiewe lewensuitkyk is verkwikkend en aansteeklik, soveel anders as baie gedigte wat uiters swaarmoedig met die dood omgaan. As interteks kan twee bekende Afrikaanse gedigte bestudeer word wat ook op 'n ligter trant die dood in oënskou neem: Eugéne Marais se gedig Skoppensboer wat wemel van ironie, en Elisabeth Eybers se Wespark. Alhoewel Boggomsbaai-blues nie heeltemal dieselfde satiriese aanslag as Wespark het nie, is daar heelwat raakpunte wat uitgelig en bespreek kan word.

Wanneer die spreker in die tweede koeplet verwys na 'n "donker jas" mag hy moontlik verwys na die Grim Reaper, 'n bekende simbool van die dood. Maar waar kom die konsep van 'n Grim Reaper vandaan?

Deur die eeue het verskillende kulture figure gehad wat die dood verteenwoordig. Die Grim Reaper is een van die algemeenste figure – gewoonlik 'n menslike skelet, geklee in 'n donker mantel of jas met 'n kappie, en met 'n sens* (Engels scythe) waarmee hy die siele van mense maai (oes). Maar hoekom word hierdie figuur met die dood geassosieer?

Die Grim Reaper het blykbaar gedurende die 14de eeu in Europa ontstaan. In dié tyd moes Europa die ergste pandemie tot op daardie tydstip trotseer: die Swart Dood, wat skynbaar die gevolg van die groot pes/plaag was. Na raming het ongeveer 'n derde van Europe se inwoners tydens die Swart Dood gesterf. Die oorspronklike uitbraak van die plaag was gedurende 1347-1351, met gereelde nuwe uitbrake daarna. Die dood het gevolglik 'n beduidende rol in die  lewens van die oorlewendes gespeel, vandaar die skepping van 'n figuur wat die dood verteenwoordig.

Maar hoekom die skeletfiguur? Hoekom die sens? Hoekom die swart kleed? Geraamtes is simbolies van die dood en verteenwoordig die menslike liggaam na ontbinding. Die swart kleed herinner aan die klede wat godsdienstige figure tydens begrafnisrituele gedra het. Die sens is 'n gepaste beeld van landbouaktiwiteite in daardie tyd: die oesinsamelaars het sense gebruik om hul ryp gesaaides te oes. Wel, dieselfde gebeur wanneer mense sterf: hulle word gestroop (geoes/afgemaai) van die aarde waar hulle gewoon het.

*sens =  'n tipe sekel met 'n lang handvatsel wat gebruik word om graan met die hand te oes/af te sny




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking