BESPREKING
Ons kry hier 'n verhaal met baie min
menslike interaksie. Dit wentel om 'n skoolseun, Jakoet, se wonderbaarlike
ervaring met 'n witdoodhaai terwyl hy kreef vang. Ander karakters in hierdie
verhaal speel 'n sekondêre rol en word bloot aangewend om agtergrondgegewens
aan die verhaal te verskaf.
Jakoet kom uit 'n baie arm huis en sy
ma se deeltydse werk bring nie genoeg geld in om van te lewe nie. Hy word dus
deur omstandighede gedwing om hom tot die see te wend vir 'n bykomende
inkomste. Dis gevaarlike werk, maar Jakoet vind dit baie bevredigend as hy
besef dat hy daardeur 'n bydrae kan lewer. Hy voel moontlik selfs gevlei as sy
ma hom hulle 'broodwinner’ noem. Die mense van Tarentaalplaas, 'n klein
nedersetting buite Gordonsbaai, is almal brandarm en Oompie Kassiem som dit
baie raak op wanneer hy sê: “As elke huis wat swaarkry 'n kolletjie op 'n kaart
was, het Tarentaalplaas die regte naam gekry”, verwysend na 'n tarentaal se
gespikkelde voorkoms.
Met die hulp van Oompie Kassiem se
fiets en 'n duikpak en paddavoete wat hy present gekry het, slaag Jakoet daarin
om gedurende naweke hul inkomste deur kreefverkope aan te vul. Ten spyte van 'n
streng permit- en kwotastelsel, waag Jakoet die kans om meer as die
voorgeskrewe kwota te oes, onder die voorwendsel dat hy leë glasbottels
versamel. Hy ken die see en weet waar die beste plekke is om kreef te gaan
uithaal, alhoewel hy ook terdeë bewus is van die gevaar wat daar skuil.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking