Sondag 25 Oktober 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 19-21

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 20

NUWE MENSE RELAX NOU HIER

Inhoud

Lien haal 'n bus op Kerkplein wat haar na hul vorige woonbuurt sal neem. Die sypaadjies is baie besig en sy is bekommerd oor die sowat tweehonderd rand wat sy in haar sportsak het.

Wanneer Lien in die bus klim, gaan sit sy langs 'n groot venster waardeur sy mooi kan sien. Die roete is aanvanklik vir haar vreemd en sy raak bekommerd, maar na 'n ruk begin die omgewing bekend lyk. Sy sien die inkopiesentrum, die kliniek waar Braam se mangels uitgehaal is, die pad na die laerskool toe en die biblioteek waar sy en Braam vakansietye na voorlesings geluister het. Sy herken ook die bakkery en die slaghuis wat ook snoek verkoop het. Daar is ook enkele nuwe besighede, soos 'n Woolworths en 'n nuwe CD-winkel. Sy onthou baie van die huise in die omgewing en sien 'n nuwe behuisingskompleks waar 'n oop veld was.

Die bus raak stadigaan leёr. Naby die hoёrskool klim 'n paar leerlinge in die bekende skooldrag op. Sy herken een van die meisies as Adrie Neethling, maar sy dink nie hulle sal haar met die brilletjie en pruik herken nie. Lien is jaloers as sy dink dat sy ook deel van hierdie geselsende groep kon gewees het. Nou is sy 'n vermomde bedelaar met plat skoene en moeg vir die wêreld. Sy kan nie glo dis net twee jaar gelede wat sy nog deel van dié lewe was nie. Wanneer Lien die bushalte nader waar sy moet afklim, verbeel sy haar dat van die kinders fluister wanneer sy by hulle verbyloop. Die busbestuurder sê dat hy weer oor twintig minute op dié roete terugkom.

Op die sypaadjie merk Lien die dreigende reёnwolke. Terwyl sy die twee blokke na hul ou huis toe stap, sien sy bekende huise; dit bring baie herinneringe aan haar vorige lewe terug. Wanneer sy oorkant hul ou huis staan, sien sy dat die wit voormuur nou skelpienk geverf is en dat daar 'n nuwe posbus is. Sy wonder wat sy sal sê as sy die voordeurklokkie lui. Sy wonder of die Blakes en Henkie Smith-hulle, nog aan weerskante van hul ou huis woon.

Na 'n rukkie gaan die hek oop en 'n vrou en seun in 'n wit BMW ry by die erf uit en in die straat af. Vir 'n oomblik sien Lien die handgekerfde houtvoordeur, die Iceberg-roosbome wat vreeslik gegroei het, en selfs 'n stukkie van die koel, blou swembad. Wanneer Lien die klokkie by die hek lui en 'n vrouestem antwoord, sê sy dat sy iets kom aflewer het. Die huishoudster kom uit en loer deur 'n luik na Lien. Lien kan sien dat die tuin steeds mooi is; haar ma se gunsteling-jakarandaboom is steeds die fokuspunt van die tuin en daar is nou duur tuinmeubels langs die swembad.

Die huishoudster is kortaf en wantrouig teenoor Lien. Wanneer Lien vra of sy die toilet mag gebruik, maak die vrou die luik toe en loop weg. Lien skree dat sy net wil kyk en nie hulle goed sal vat nie. As sy wegloop, besef sy dat sy nie meer welkom is nie. 'Die deure is hier vir haar gesluit en die hekke gegrendel.'

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Na haar droom oor die tweeling besluit Lien om hul ou huis te gaan besoek. Op pad daarheen sien sy kinders van haar vorige skool en sy voel jaloers omdat sy nie meer deel van hulle is nie. Sy ry per bus en loop dan twee blokke na die huis toe. Lien sien al die bekende dinge van haar ou lewe. Hier en daar het die omgewing verander, maar dis nog meestal soos sy dit kan onthou. Wanneer Lien by hul vorige huis kom, sien sy dat min daaraan verander het, maar wanneer sy met die verskoning kom dat sy die toilet wil gebruik, word die luik onvriendelik in haar gesig toegemaak. Lien besef finaal dat sy nie meer hier hoort nie en dat hierdie deel van haar lewe vir altyd verby is.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking