Sondag 25 Oktober 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 19-21

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 19 

BÁIE STERKER AS CAMEL FILTERS

Inhoud

Lien, Braam en Wouter stap die dag na haar ma se skandes by die skool saam skool toe. Lien besef dat Braam nie vandag fietsry nie omdat hy haar wil ondersteun. By die skool lyk dit nie of die kinders bewus is van wat die vorige dag gebeur het nie. Lien skrik as sy pouse by die kleedkamer instap en vir Sally Swanepoel, sigaret in die mond, voor die spieёl sien staan en hare kam. Sally vertel emosieloos dat háár pa ook baie drink, maar dat hy soms ook goed rook wat báie sterker as Camel Filters is. Sy kyk na Lien en sê uitdagend: "Dis nie ons skuld nie." Terwyl hulle mekaar vas in die oё kyk, besef Lien dat sy en Sally so pas nader aan mekaar beweeg het. Sally stap heupswaaiend en vol selfvertroue by die kleedkamer uit; as Lien buite kom, sien sy skielik dat daar pronkertjies in die skooltuin blom.

Net voor tweede pouse kry Lien 'n boodskap van tannie Bets af. Tannie Bets wil hoor of Lien en Braam by haar sal kom eet. Wanneer Lien vra wat fout is, sê sy dat alles reg is. Dit pla haar egter heeldag en Braam lyk ook verbaas wanneer hy van die uitnodiging hoor. Lien waardeer dit dat Wouter niks oor die vorige dag se gebeure sê nie. Lien-hulle ruik die hemelse kosreuk wat by tannie Bets se oop voordeur uitkom. Wanneer sy vir Kuifie in die sitkamer sien sit, weet sy iets is beslis fout. Terwyl die predikant en Braam in die sitkamer gesels, vra Lien weer vir tannie Bets wat verkeerd is, maar sy stel voor dat hulle by die mans gaan sit.

In die sitkamer verduidelik Kuifie dat hulle ma ingestem het om daardie oggend vir behandeling in 'n kliniek opgeneem te word. Sy sal drie tot vier weke weg wees en intussen sal tannie Bets na Braam en Lien omsien. Terwyl Braam en die predikant aan tannie Bets se bredie smul, besef Lien hoe ver dinge nou gegaan het. Sy hoop dat iemand darem vir haar geel ma 'n bietjie musiek in die kliniek sal speel.

Lien geniet die stilte by die woonstel, aangesien Braam ook amper nooit meer daar is nie. Dis net tannie Bets wat elke aand om sesuur bakke vol kos kom afgee. Al is dit te veel, geniet die tannie dit om hulle te bederf. Die stapeltjie CD's op die kombuisblad herinner Lien aan haar ma, al probeer sy om nie aan haar te dink nie. Sy bedink haar ook wanneer sy soms oorweeg om haar ma te bel. Sy oorweeg ook SMS'e, maar onthou dan verlig dat tannie Bets gesê het dat haar ma nie aan die begin oproepe mag ontvang nie. Een middag vertel tannie Bets dat haar ma van die volgende dag af besoekers mag ontvang en sy wil weet of Lien en Braam nie wil saamgaan nie. Lien sê egter dat sy toneeloefening het, en Braam krieket. Alhoewel sy skuldig voel, dink sy dat dit waarskynlik 'n aaklige plek vol besope bedelaars is. Sy dink weer aan Tibbey en Sally se woorde dat dit nie haar skuld is nie en besluit om dit nie haar kwessie te maak nie. Tussen die dekorbouery en die repetisies deur verloor juffrou Breytenbach haar humeur wanneer hulle tonele weer moet oordoen as gevolg van al die lawaai. Sy skel op die arme Hein, wat met 'n mond vol spykers agter die gordyn uitkom. Die kinders is lawaaierig, en later besluit sy om maar vir hulle 'n vyftien minute pouse te gee. Tydens die pouse gaan sit Lien en Hein op die pawiljoen. Sy wil weet of hy regtig 'n prokureur wil word. Hy vertel dat dit eintlik sy pa se droom is en dat hy eerder, nes sy pa, wil bou en dinge met sy hande doen. Lien vra Hein om weer die liedjie van die maan op sy mondfluitjie te speel. Terwyl hy dit speel en sy na die maan bo die krieketveld kyk, onthou sy Norah Jones se liedjie oor die maan …

Op pad huis toe in Miemie-hulle se motor, vertel Miemie dat haar pa op die oomblik in Kaïro is. Lien sê amper dat háár ma al die afgelope twee jaar op Pluto is. Miemie nooi vir Lien om vir die naweek by haar te kom kuier. Hul kok, Roberta, kan vir hulle enigiets maak wat hulle wil eet. Miemie draai die liedjie Don't cha wish your girlfriend was hot like me? van die Pussycat Dolls weer harder en sing ritmies saam. Joe, die motorbestuurder, konsentreer onverstoord op die pad. Lien maak verskoning dat haar ma weg is en sê dat sy na haar broer moet omsien. Miemie nooi hom egter ook, of anders kan hulle vir hom kos stuur. 'Kom, man, carpe diem!' Lien besef dat Braam waarskynlik die naweek by Deon sal oorbly en die woonstel gaan leeg wees.

Dié nag droom Lien van die tweeling, Su-Marie en San-Marie, en hulle binnenshuise swembad. In die droom is daar egter golwe op die water en 'n glasafskorting oor die swembad. Die tweeling kan haar nie aan die ander kant van die glas sien nie, al probeer sy hul aandag trek.

Wanneer sy wakker skrik, oorweeg sy dit om die tweeling, wat haar beste pelle was, te bel, maar sy wonder of hulle nog met haar vriende sal wil wees na alles wat gebeur het. Soms voel dit vir Lien asof haar vorige lewe nie regtig bestaan het nie.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Die nare insident toe haar ma die vorige dag dronk by die skool aangekom het, het gelukkig nie sulke ernstige gevolge soos Lien gevrees het nie. Die ander kinders ignoreer die insident. Sally Swanepoel, wat skynbaar ook gesien het wat gebeur het, vertel vir Lien dat háár pa ook 'n drankprobleem het en dat hy dagga rook. Sally se begrip en simpatie met Lien se situasie is 'n groot verrassing en Lien besef dat hulle twee tog iets gemeen het. Sally sê vir Lien dat sy nie skuldig moet voel oor haar ma se situasie nie, want dit is nie haar skuld nie; Tibbey het vroeër dieselfde vir Lien gesê.

Lien mis haar ma en oorweeg verskeie maniere om haar te kontak. Sy is egter nog nie gereed om haar persoonlik te besoek nie. Sy laat toe dat ander mense die eensaamheid in haar lewe vul: tannie Bets is baie goed vir haar en Braam en sy dra gedurig kos aan; Lien se vriendskap met Hein Venter verdiep mettertyd en sy en Miemie word vriendinne. Sy oorweeg selfs 'n uitnodiging om 'n naweek by Miemie-hulle te gaan deurbring, want Miemie is self ook dikwels eensaam. Sy verlang na haar vroeëre vriendskap met die tweeling, maar sy is nie seker of hulle nog iets met haar te doen wil hê nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking