Sondag 18 Oktober 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 16-18

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 17

DIE AFGEVAARDIGDE VAN TIBET

Inhoud

Terwyl Lien by die kruising staan, hou 'n man met rooi hare en sproete in 'n Volvo langs haar stil. Langs hom sit 'n onvriendelike vrou met 'n groot sonbril. 'n Rooikopdogtertjie met sproete en 'n bril op haar neus sit op die agterste sitplek. Sy speel met haar Barbie-pop, Britney, en vertel vir die pop dat Lien arm is en baie lelike skoene dra. As die motor wegtrek, gee die man vir Lien 'n handvol kleingeld.

Vandag is dit net Lien en Roos by die padkruising; Tibbey werk vermoedelik by die rolbalklub. Gedurende teetyd sit Lien en Roos onder die akasiaboom, maar hulle gesels nie. As Lien later vra hoe Roos daardie dag doen, ignoreer Roos haar vraag. Nadat sy haar sigaret klaar gerook het, stap sy na die sentrum se toilette toe en Lien gaan ook daarheen. Sy kan nie verstaan hoekom Roos niks van haar hou nie. Op pad terug kruising toe, praat Roos steeds nie.

Skielik begin Roos vinniger stap en Lien kan skaars byhou. Dan sien Lien 'n man op die hoek staan waar sý (Lien) altyd bedel. Hy is klein en maer en dra 'n broek wat hopeloos te groot vir hom is. Hy sien nie vir Roos wat reguit op hom afpyl nie. Sy begin hom met haar handsak oor sy kop slaan en sê vir hom dat hy nie welkom is nie. Dit is nie meer sy hoek nie en hy moet dadelik loop voordat sy hom doodslaan. Johnny skrik groot vir die venynige Roos wat aanhou slaan terwyl die verbaasde motoriste hulle aangaap. Lien ruik die drankwalms wat van Johnny af kom, maar dan gee hy verskrik pad.

As Johnny weg is, is Roos uitasem; in die proses het haar een skoen uitgeval. Sy sê vir Lien dat hierdie hoek nou Lien se hoek is, nie meer Johnny s'n nie, en dat Lien haar moet kom roep as Johnny haar enige probleme gee. Lien is oorstelp deur hierdie gebaar en weet nie of sy moet huil of lag nie. Na hierdie insident tree Roos anders teenoor Lien op. Sy is steeds nie vriendelik nie, maar daar is 'n groter toegeneëntheid teenoor Lien. Hulle praat selfs met mekaar wanneer Tibbey nie daar is nie.

Een middag tydens teepouse vra Lien vir Roos watter werk haar dogter doen. Volgens Roos werk sy vir 'n gesellinklub. Roos is egter nie skaam daaroor dat haar dogter 'n prostituut is nie, want dit voorsien darem 'n inkomste vir haar gesin.

As Lien weer by haar hoek kom, hou die Volvo weer langs haar stil, hierdie keer sonder die vrou. Die kind praat weer met haar Barbie en sê dat Lien baie sweet. Sy sê ook Barbie moet vir Lien vra wat sy met al die geld doen wat mense haar gee. As die motor wegtrek, gee die man vir Lien 'n vyftigrandnoot. Sy is oorstelp en baie dankbaar.

Tibbey sukkel om Lien se naam en van uit te spreek en dit klink vir haar baie snaaks. Sy vra by 'n ander geleentheid vir hom of hy al enige ander werk gedoen het. Sy dink hy geniet die aandag wat hy kry wanneer hy bedel. Hy vertel dat hy al sokker gespeel het vir 'n klub in Mamelodi en dat dit baie opwindender as rugby is. Hy is 'n baie entoesiastiese sokkerondersteuner en later ken Lien al sy spanmaats se name en die reëls van die spel, alhoewel dit nie vir haar veel sin maak nie. Op pad huis toe dink Lien aan Tibbey se sokker en aan wat Roos haar van haar dogter vertel het. Sy wonder oor Roos se drie kleinkinders en waar die kinders se pa is.

Lien se ma drink nou meer as ooit. Sy bly gewoonlik in haar kamer agter die toe deur en Lien sien haar soggens net vlugtig wanneer haar ma vir haarself koffie gaan maak. Sy bewe soos 'n riet en Lien wonder hoe sy bedags by die werk vaar. Braam slaap al hoe meer by Deon-hulle oor. 'Wie wat oor wie dink, is nie meer 'n issue nie. Sy wil nou net hier weg.'

Lien lees na oor Tibet, 'n ander moontlike bestemming vir haar. Volgens die internet is dit 'n droë land in die suidwestelike hoek van China waar daar slegs 18 duim sneeu per jaar val.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Alhoewel Roos so bot en onvriendelik teenoor Lien is, bewys sy aanvaarding en deernis teenoor Lien wanneer sy Johnny van die straathoek af verwilder. Dit kom op 'n stadium wanneer Lien wonder hoekom Roos nie van haar hou nie en hoekom sy haar so agterdogtig aankyk. Tibbey het Lien onmiddellik aanvaar as een van hulle, maar dit het Roos langer geneem. Nou weet Lien egter dat die bedelaars haar as een van hulle beskou en nie meer as 'n indringer sien nie.

Die nuwe 'gesin' waarvan Lien nou deel is by die bedelpunte, vergoed in 'n mate daarvoor dat hulle as gesin besig is om al verder van mekaar af weg te dryf. Lien se ma is nou feitlik nooit meer nugter nie en Braam soek allerhande verskonings om so min as moontlik tyd by die woonstel deur te bring. Die situasie is besig om onhoudbaar vir Lien en Braam te word.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking