LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 18
TEE EN KAASKOEK
Inhoud
As Wouter weer oor die matriekafskeid vra, stem Lien in, maar slegs op voorwaarde dat hulle geen 'after party' saam met die ander hoef by te woon nie. Hy is baie ingenome en beloof haar 'n aand wat sy nooit sal vergeet nie. Sy besef ook heimlik dat sy nie bekommerd hoef te wees dat Wouter steeds iets eienaardigs sal wil aantrek nie.
Wanneer hulle die skoolgrond verlaat, sien Lien met 'n skok hul wit Mazda wat skeef en met 'n oop deur op die sypaadjie voor die skool geparkeer staan. Haar ma hou onvas aan die hekpaal vas. Sy verklaar rooi in die gesig en met 'n sleeptong dat sy hulle kom haal het. Wouter hou kop en help haar ma om agter in die motor te kom. Geskokte groepies kinders, onder wie Sally met die kort rokkie, hou die petalje dop. Lien ervaar 'n vreemde kalmte terwyl sy voor by Wouter inklim en besluit dat hierdie die finale strooi is. Haar ma is so deurmekaar dat Lien wonder hoe sy dit reggekry het om tot by die skool te bestuur sonder om haarself te verongeluk. Lien kan nie Sally Swanepoel se geamuseerde gesig vergeet nie.
Terwyl Lien en Wouter haar ma by die woonstelblok inhelp, bid Lien dat geen bure hulle sal sien nie. Ongelukkig staan Dirkie by die hysbak en wag, maar hy besef wat aangaan en maak homself gou uit die voete. Nadat hulle haar ma met die hysbak opgeneem het en haar op haar bed neergelê het, trek Lien die kamerdeur toe. Wouter hou haar 'n rukkie vas. Hy probeer haar troos en sê dat nie baie kinders haar ma gesien het nie. Sy blameer hom nie as hy kort daarna vertrek nie. Met 'n beker koffie in die hand besef Lien dat dit nie langer so kan aangaan nie.
Lien ontvang 'n SMS van Dirkie. Tee en kaaskoek. Sy besef dat Braam waarskynlik reeds by die skool van die gebeure gehoor het. Dirkie nooi haar in asof niks verkeerd is nie. Sy woonstel is smaakvol gemeubileer en dit lyk soos iets uit Garden and Home. Nadat Dirkie vir hulle twee bordjies met kaaskoek en twee bekers tee gebring het, maak hy verskoning dat hy nie in Lien se 'bubble wil klim nie'; hy stel egter voor dat hulle haar ma moet help deur met die nuwe jong predikant, Gerhard, te praat. Volgens Dirkie is dit sy werk om sulke sake te hanteer. Lien voel egter dat Kuifie te jonk is en dat sy hom nie met hul probleme kan vertrou nie. Sy wil weet wat hy sal kan doen. Dirkie stel dan voor dat hulle haar ma in 'n kliniek of inrigting moet laat opneem. Na 'n lang stilte wil Lien weet of Dirkie kerk toe gaan en of hy in God glo. Hy bevestig dat hy baie gelowig is.
Lien klop huiwerig aan die jong predikant se deur. Sy vaal, swanger vroutjie, Elna, maak die deur oop. Nadat Lien haarself voorgestel het, sê Elna dat haar man reeds op Lien wag. Terwyl sy in die gang afloop sien sy die dekor wat Dirkie waarskynlik as kitsch sou beskryf. Wanneer sy by Gerhard se studeerkamer inloop, voel Lien huiwerig en kwaad omdat sy na Dirkie geluister het. Gerhard is gemaklik aangetrek. Sy vriendelikheid klink opreg. Lien merk dat die studeerkamer effens deurmekaar is en sy sien 'n CD-omslag van Coldplay. Sy wonder of sy boekrak vol boeke net daar is om te bewys dat hy in staat is om lidmate se probleme te hanteer. Sy merk weer sy gejelde kuif en fyn gelaatstrekke. Tussen al die dinge wat Lien waarneem, sien sy ook 'n troufoto waarop sy vrou minder vaal voorkom – 'tot die dood ons skei'.
Lien voel skielik weer spyt dat sy gekom het en dink dat iemand wat na Coldplay luister, beslis te jonk is om hulle te help. Sy oorweeg 'n paar leuens om uit die situasie te kom. Voordat sy egter op die geloofwaardigste verskoning kan besluit, draai Gerhard na haar en kyk haar vir 'n oomblik glimlaggend aan. Lien vrees dat hy vir haar uit die Bybel gaan aanhaal. Hy vra egter uit oor Braam en probeer haar oorreed om pannekoek by die ouetehuis se basaar te kom koop. Die oumense, wat hom soos hul kleinkinders behandel, samel geld in vir 'n grootskerm-televisie. Hy laat Lien soos 'n bondgenoot voel deur van 'ons jong mense' te praat.
Gerhard raak ernstig en sê vir Lien dat Dirkie met hom gepraat het en hy stel voor dat hulle koppe bymekaarsit om haar ma te help. Wanneer Lien van hulle omstandighede begin vertel, probeer sy hard om die trane te beveg. Gerhard maak tydsaam die venster agter hom oop om haar kans te gee om te kalmeer. Dan begin sy van die begin af vertel – hoe die mense hul goed kom oplaai het en dat sy en Braam van niks geweet het nie en oornag alles moes agterlaat. Die mooi huis, die swembad, hulle honde, hulle skool, hulle vriende. Sy vertel van die trek na die klein woonstelletjie toe en hoe haar ma troos in die wyndoos gesoek en gekry het.
Nadat Lien klaar vertel het, vra Gerhard simpatiek of daar dalk iemand is wat haar ma vertrou. Lien dink vlugtig aan oom Frank, haar pa se suur, konserwatiewe onderwyserbroer, en tannie Poppie wat oor alles kla. Sy besef sy kan nie haar ma aan húlle genade oorlaat nie. Sy kan net tannie Bets voorstel. Gerhard se vrou kom bied koffie aan en dit lyk asof hy die saak eers oordink. Hy sê dan dat slegte dinge soms met goeie mense gebeur en dat God alle mense onvoorwaardelik liefhet. Lien sukkel om hom te glo en dink beskuldigend daaraan dat dit nie sý dronk ma is wat by die skool opgedaag het nie. Hý hoef nie op die straathoek te staan en bedel om kos op die tafel te kry nie. Sy wil nie verder na hom luister nie. Sy dink aan wat Mr MacMillan daardie dag uit Macbeth voorgelees het.
Die kamera volg 'n seun met krulhare wat op 'n skaatsplank in die straat afry. Hy is behendig met die skaatsplank en stap weer terug. Links in beeld staan twee blonde meisies wat soos 'n tweeling lyk en 'n derde met lang, donker hare. Sý doen 'n 'thumbs up' en vorm die woorde 'Here we go' met haar lippe. Sy klim onseker op die skaatsplank. Terwyl sy aan die seun se skouers vashou, trek hy haar al vinniger in die straat af. Sy kyk laggend en geselsend om. Toe sy op spoed is, laat die seun haar los. Sy verloor uiteindelik haar balans en val. Sy sit op die grond en kyk laggend om.
Hy stamp die boks per ongeluk om wanneer hy opstaan. Wanneer hy die kassette weer optel, kyk hy verbaas na die laaste een. Dan gooi hy dit hard teen die muur. Hy is dadelik spyt en tel dit weer op; hy is bly om te sien dat dit nie beskadig is nie .
Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk
Lien se ma daag dronk by die skool op om hulle te kom haal. Dis vir Lien 'n vernederende ervaring omdat baie leerlinge haar ma in 'n beskonke toestand sien. Die res van die middag ervaar Lien die waarde van ware vriendskap wanneer eers Wouter en later Dirkie en die predikant, Gerhard, uit hul pad uit gaan om haar te help. As Wouter sien in watter toestand Lien se ma is, bestuur hy die motor na hulle woonstel toe. Daar aangekom, help hy om haar ma veilig tot in die woonstel te kry. Hy probeer Lien deurentyd troos, want hy kan sien dat sy baie ontsteld is. Dirkie het gesien wat gebeur en nooi Lien later vir tee en kaaskoek; dis op sý aandrang dat Lien die jong predikant, Gerhard, gaan spreek. Hier kry Lien die geleentheid om openlik met 'n simpatieke oor te gesels. Almal staan Lien met raad en daad by en laat haar voel dat sy nie alleen haar krisisse hoef te hanteer nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking