Sondag 18 Oktober 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 16-18

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 16

DIE PUSSYCAT DOLLS

Inhoud

Die eerste repetisies is uiters chaoties, want dit lyk nie of juffrou Breytenbach weet wat sy wil hê nie. Riekie verseker die ander egter dat dit sal regkom en dat dit elke jaar so deurmekaar begin. Lien is spyt dat sy in die stuk is, want jy sukkel om met die rol van Maria te identifiseer. Sy vind Weird Maria se dialoog baie vreemd en onoortuigend. Juffrou Breytenbach lyk ook onseker van wat sy wil hê en sy laat Lien en Christiaan dieselfde toneel oor en oor oefen.

As Lien-hulle later 'n kort pouse kry, stap sy buitetoe vir vars lug. As sy naby die pawiljoen kom, hoor sy iemand op 'n mondfluitjie speel. Dit kom van bo uit die pawiljoen en Lien klim boontoe na waar die hartseer deuntjie vandaan kom. Sy tref die skaam Hein Venter daar aan en wil weet wat hy daar doen. Hy vertel dat hy deel is van die span wat die dekor bou en dat hy die saal moet sluit wanneer Lien-hulle klaar geoefen het. Lien klim nog hoër en gaan sit dan; sy praat in die donker met Hein wat iewers onder haar sit. Hy begin weer dieselfde deuntjie op die mondfluitjie speel. Dan vertel hy dat dit die lied 'Moon River' is en dat hy dit by sy oupa, wat die vorige jaar oorlede is, geleer het. As hy klaar is, klim Lien weer ondertoe om in die saal te gaan oefen.

Na die oefening ry Lien saam met Miemie en hul motorbestuurder huis toe. Toe sy die vorige keer na die oefening huis toe gestap het, het Miemie-hulle langs die pad langs Lien stilgehou en Miemie het haar genooi om saam te ry. Lien wou aanvanklik nie, maar Miemie het daarop aangedring. 'n Liedjie van die Pussycat Dolls het oor die radio gespeel en Miemie het haar lyf vrolik saam met die musiek beweeg. Miemie het toe daarop aangedring dat hulle elke keer na 'n oefening vir Lien huis toe sal bring.

As Lien die voordeur oopmaak, is die woonstel donker. Braam lê voor die televisie en slaap. Lien is honger, en as sy in die kombuis kom, wag daar 'n glasbak vol maalvleisvetkoek wat tannie Bets vir hulle gebring het. Sy is baie dankbaar vir alles wat tannie Bets vir hulle doen. As Lien die geld tel, sien sy dat sy daardie dag vir die eerste keer meer as R200 gemaak het. Sy besluit om die volgende dag 'n deel daarvan te bank.

Lien maak gewoonlik meer geld op 'n Saterdag aangesien sy dan ook in die oggend kan bedel. Juffrou Breytenbach dring egter daarop aan dat hulle nou ook op Saterdae moet oefen. Lien oorweeg dit kort-kort om aan die toneelstuk te onttrek, maar sy het mettertyd geheg geraak aan die rol van Weird Maria.

Voordat Lien bed toe gaan, lê sy lank in die bad en luister na die geluide buite die woonstel. Sy is bang dat al haar planne om pad te gee en elders geluk te gaan soek, dalk op niks kan uitloop nie. As sy uit die badkamer kom, sien sy dat haar ma se kamerdeur op 'n skrefie oopstaan. Sy loer in en sien haar ma op die matjie voor die bed sit met die oorfone op haar ore. Op die tafeltjie langs die bed staan die doos wyn. Haar ma se kop beweeg heen en weer op maat van die musiek en Lien weet dat sy weer dronk is. Dan gaan sy kamer toe om haar Wiskundehuiswerk te doen terwyl sy na Norah Jones se musiek luister.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Lien is gou spyt dat sy die rol van Weird Maria in die toneelstuk aanvaar het. Die aanvanklike repetisies verloop chaoties en dit lyk nie of die onderwyseres presies weet wat sy doen en waarheen sy op pad is nie. Sy weet skynbaar ook nie presies wat sy met die rol van Weird Maria beoog nie. Lien is gefrustreerd met die rol, want sy vind Maria se dialoog onoortuigend en moeilik om te speel. 'n Verdere frustrasie oor die toneelstuk kom wanneer juffrou Breytenbach op 'n stadium aankondig dat hulle voortaan op Saterdae sal moet repeteer. 'n Saterdag is Lien se beste bedeldag, want dan kan sy die hele dag by die verkeerslig staan en sy maak gewoonlik baie geld op so 'n dag. Sy het egter mettertyd geheg geraak aan die rol van Maria en daarom het sy nou gemengde gevoelens oor haar deelname aan die stuk. Op 'n vreemde manier begin sy geleidelik in die rol ingroei en sy wil dit nie graag prysgee nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking