Sondag 13 September 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 1-3

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 1

1.       GEEL EN GELUKKIG        

Inhoud

Lien en Braam hoor hoe hul ma vir haar 'n glas wyn in die kombuis inskink. Dan roep sy hulle om te kom eet. Roereier, boontjies in tamatiesous en verbrande roosterbrood wag hulle in die kombuis in. Terwyl hulle ma by die venster uitstaar en die 'wonderlike view' bewonder, speel daar harde vioolmusiek oor die CD-speler.

Lien is nie honger nie en draai die musiek sagter. As sy die yskas oopmaak, sien sy dat dit feitlik leeg is. Hul ma skink vir haar nog 'n glas wyn en Braam stel voor dat sy moet gaan slaap. Die kinders kan sien dat die wyn hulle ma reeds aangetas het. Sy drink deesdae baie en eet feitlik niks.

Lien se ma gaan kamer toe en raak met klere en al skuins oor die bed aan die slaap. Braam gaan weer televisie kyk en Lien gaan haal die naaldwerk­trommeltjie om sy skoolbroek reg te maak. Terwyl sy die soom insit, luister sy na haar Norah Jones-CD. As sy opkyk en haar weerkaatsing in die spieël sien, sê sy afgemete vir hóm: “Ek haat jou. Ék … háát … jóú.” Sy hoor Norah Jones se woorde: “A little girl with nothing wrong … is all alone”. Lien steek haar tong vir  Norah uit.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Uit die beperkte inligting wat in hierdie hoofstuk gegee word, besef 'n mens dat Lien in moeilike huislike omstandighede grootword. Haar ma het skynbaar 'n drankprobleem en steur haar nie veel aan Lien en Braam se teenwoordigheid nie. Sy drink een glas wyn na die ander terwyl sy na oorverdowende klassieke musiek luister. Lien-hulle word verwaarloos en daar is feitlik geen kos in die woonstel nie.

Die televisie word Braam se ontvlugting van sy omstandighede en Lien moet haar ma se rol in die huishouding vervul wanneer sy vir Braam se skoolbroek 'n soom insit.

Gevaartekens flikker ook reeds wanneer ons lees dat Lien se ma skynbaar dikwels nie bedags werk toe gaan nie. Lien koester haatgevoelens teenoor die persoon wat vir hulle haglike omstandighede verantwoordelik is.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking