LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 2
JOU STANDAARDSKOOLNOMMERTJIE
Inhoud
Dis net na sewe-uur die volgende oggend en Wouter wag vir Lien by die telefoonhokkie buite hul woonstelblok. Wouter is baie vrolik en uitgelate. Lien vertel sonder geesdrif dat sy daardie middag by tant Malie se koffiekroeg begin werk vir 'n ekstra inkomste. Tannie Bets in woonstel 504 het vir haar dié deeltydse werk gekry. Wouter probeer haar opbeur. Hy belowe dat hy haar gereeld sal kom ondersteun as sy goeie diens lewer. Alhoewel Lien slegs R10 per uur betaal word, hoop sy dat sy heelwat fooitjies by die koffiekroeg sal verdien.
Op pad skool toe jaag Braam op sy fiets by Lien en Wouter verby. As Lien en Wouter by die skool aankom, besef Lien dat sy na meer as 'n jaar in hierdie skool nog steeds nie tuis voel nie. Wouter groet haar vinnig by die skoolhek, want hy moet skynbaar 'n krieketvergadering bywoon. Sy is teleurgesteld, want sy het nie ander maats met wie sy voor skool kan gesels nie.
Lien sien hoe die ander kinders in groepies saambondel en gesels en sy voel heeltemal uitgesluit. Sy besluit om maar biblioteek toe te gaan; dis waarheen sy deesdae gaan as Wouter nie tyd het om met haar te gesels nie. Daar swerf sy op die internet en sy kyk graag na webwerwe oor ander plekke. Japan en Praag is haar gunstelinge en sy sal dit baie graag eendag wil besoek.
As die klok lui, gaan Lien met 'n swaar hart na die vierkant waar die hele skool vir aankondigings bymekaarkom. Sy dink aan die vakke wat voorlê. Haar gunsteling-periode is Engels, want sy verkyk haar altyd aan die eksentrieke Mister MacMillan se vreemde kleredrag. Hy steur hom nie aan konvensies nie en doen sy eie ding.
Lien-hulle het Lewensoriëntering in die derde-laaste periode. Gewoonlik gaan daar nie veel aan in die klas nie, maar vandag het die onderwyser ander planne: Hy beplan om vir die volgende paar periodes beroepsvoorligting met hulle te doen en hy laat die leerlinge 'n vormpie invul oor wat hulle graag wil word. Lien skryf dat sy 'n prokureur wil word. Dit was jare lank haar ideaal, maar op die oomblik is sy onseker en sy beplan niks vir die toekoms nie. Haar enigste toekomsplan op die oomblik is om weg te kom van haar miserabele bestaan.
Meneer Bruwer neem die vormpies in en sorteer dit volgens beroepskeuses. Die leerlinge het nie 'n idee wat hy daarmee beoog nie, maar dan sê hy dat hy hulle in groepies gaan verdeel volgens beroepe. Dan moet hulle die verskeie beroepe goed bestudeer en uitvind wat die toelatingsvereistes is. Meneer Bruwer wil hê hulle moet intensiewe navorsing in die biblioteek en op die internet daaroor doen. Hy voorsien hulle van riglyne waarvolgens hulle moet werk en sê dat hy beplan om mense uit die verskillende beroepsrigtings te kry om met die leerlinge te kom praat. Die leerlinge is nie baie entoesiasties oor die vooruitsig nie.
Lien word ingedeel in 'n baie eienaardige groepie: Sy is verbaas om te sien dat die tengerige Miemie Spies ook in die regte belangstel, maar sy sal haar kan hanteer. Sally Swanepoel is 'n terterige meisie wat eenvoudig nie in die regsberoep hoort nie. Hein Venter is 'n frisgeboude seun met harde baard en almal dink dat hy baie onnosel is. Hy is baie stil en Lien wonder hoe hý in die regsberoep sal vaar.
Meneer Bruwer stuur die leerlinge uit om buite die klas in groepies te gaan werk aan hulle opdrag. Almal in Lien se groep lyk onseker oor wat om te doen, behalwe Sally wat op die trappe gaan sit sodat haar bene son kan kry. Haar skoolrok is hoog opgetrek en die seuns kyk haar bewonderend aan. Miemie probeer hulle groepie aan die gang kry, maar Sally stel nie belang om saam te werk nie. Volgens haar het sy reeds al die 'life skills' wat sy eendag sal nodig kry. Sy stap kleedkamer toe en Lien vermoed dat sy daarheen gaan om te rook.
Lien is baie dankbaar dat Miemie die leiding neem. Miemie wil weet of Lien 'n prokureur ken en die vraag laat Lien baie ongemaklik lyk. Miemie bied aan om haar pa se prokureur te kontak vir inligting en sy stel voor dat Lien op die internet probeer vasstel wat die verskillende universiteite se toelatingsvereistes is. Hein word aangesê om 'n prokureursfirma in die stad te besoek om meer inligting te bekom. Hulle sal Sally uitlos, want sy is duidelik nie geïnteresseerd nie. Op pad na die volgens les (Engels) dink Lien aan die woorde van die eerste heks in Macbeth:
“When shall we three meet again? In thunder, lightning, or in rain?”
Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk
In hierdie hoofstuk is dit duidelik dat Lien baie eensaam is en dat Wouter haar enigste vriend is. Elke oggend stap hulle saam skool toe. Soms gesels hulle as hulle by die skool kom, maar omdat Wouter deesdae voor skool ander verpligtinge het, gaan Lien gewoonlik biblioteek toe om te gaan nalees oor ander lande wat sy graag in die toekoms sal wil besoek. Lien is alreeds meer as 'n jaar in haar nuwe skool en sy het steeds nie vriende gemaak nie. Sy hunker na haar ou skool en vind dit moeilik om interaksie met ander leerlinge te hê. As hulle in groepe ingedeel word om 'n taak oor die regsberoep uit te werk, laat Lien die inisiatief aan Miemie oor. Sy wil nie regtig by 'n groepaktiwiteit betrokke wees nie en neem slegs deel omdat dit van haar verwag word. As Miemie vra of sy 'n prokureur ken, vang die vraag Lien onverhoeds en sy skud net haar kop. Die leser kan nie help om te wonder hoekom Lien so eienaardig op 'n doodgewone vraag reageer nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking