Sondag 27 September 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 7-9

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 8

WEIRD MARIA

Inhoud

Almal wat oudisies afgelê het, word gevra om gedurende pouse in juffrou Breytenbach se klas bymekaar te kom. Sy lyk senuweeagtig wanneer sy die suksesvolle leerlinge se name aankondig. Daar is vier vroulike en vier manlike rolle. Sanet, Riekie en Elma kry almal rolle. Lien gaan die rol van Maria speel. Sy kan nie verstaan hoe sy die rol gekry het nie, want daar was ander leerlinge wat veel beter in die oudisie gevaar het. Die grootste verrassing is Christiaan wat die rol van die 'hunk' gaan vertolk. Miemie Spies is so teleurgesteld dat dit lyk asof sy in trane gaan uitbars, maar dan sê juffrou Breytenbach dat die rol van die skoonmaker aangepas is vir 'n vrou en dat Miemie dié rol sal vertolk.

Juffrou Breytenbach wil al die leerlinge wat oudisies afgelê het op een of ander manier by die produksie betrek. Die akteurs kry elkeen 'n kopie van die teks en hulle word aangesê om dit voor die eerste repetisie te bestudeer. Lien het gemengde gevoelens oor haar deelname aan die toneelstuk. Ten spyte van haar besluit om nie by skoolaktiwiteite betrokke te raak nie, voel sy gevlei oor haar insluiting. 'Wouter, my kameraad, here I come.'
 
Lien en Wouter gaan vinnig koffie drink by Wimpy voordat haar middagskof by Millenium Creations begin. Hy is baie bly dat sy 'n rol in die toneelstuk gekry het. Hy vertel dat hy en sy suster na sy pa toe gaan vir die vakansie en dat hy baie daarna uitsien. Hy is nie kwaad vir sy pa omdat hy van sy ma geskei het nie en hy hou nogal van sy stiefma. Toe sy ouers nog getroud was, het hulle gedurig baklei. Wouter wil weet of Lien háár pa ook mis, maar sy antwoord nie en vra die kelner vir die rekening.

Skuins voor halfdrie sien Lien vir Braam buite die haarsalon. Sy probeer sy aandag trek, maar hy maak of hy haar nie sien nie. Hy lyk ongemaklik as hy die salon binnekom, maar Donovan groet hom vriendelik. Braam ignoreer Lien steeds en blaai verveeld deur 'n tydskrif en Lien besluit om haar nie aan hom op te dring nie. As Braam in die haarkapperstoel sit, kom Dirkie ook nader en die twee vennote gesels oor watter styl Braam die beste sal pas. Braam lyk benoud as Donovan begin knip.

Lien moedig Braam aan om vir Donovan te vra oor die borgskap en Braam gluur haar aan. Dan verduidelik Lien hoe dit werk: Die geld van die borgskap sal hoofsaaklik gebruik word om krieket­klere, pette en sportsakke te koop. Die borg se logo en besonderhede sal op alles vertoon word. Donovan wil egter weet watter voordeel dit vir sy salon inhou as hy die span borg. Volgens Lien sal al die seuns se ma's en susters na Creations toe stroom as hulle weet dat Donovan-hulle omgee vir die mense van die gemeenskap. Dirkie se kliënt stem saam dat dit 'n uitstekende idee is. Braam sê dat hulle 'n borgskap van drie duisend Rand nodig het en Lien is verbaas, want die vorige aand het hulle oor twee duisend Rand gepraat.
 
Donovan en Dirkie kyk mekaar in stilte aan en gaan dan aan met hulle werk. Donovan sê hulle weet niks van krieket af nie, maar Lien sê sy en Braam sal hulle leer. Die belangrikste ding is die blootstelling wat die salon sal kry. Dit oortuig Donovan en hy stem in. Hy wil egter hê dat hulle logo op alles moet verskyn en hy wil persoonlik die kleure van die sportklere kies. Braam wil objekteer, maar Lien praat hom stil. Sy besluit dat die fyner detail later uitgesorteer kan word. As Donovan klaar is met Braam se hare, lyk Braam heel ingenome met sy nuwe, korter haarstyl.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Ten spyte van Lien se besluit om nie by skoolaktiwiteite betrokke te raak nie, voel sy gevlei wanneer sy die rol van Maria voor baie ander meisies wegraap. Dit laat haar goed voel oor haarself en doen baie vir haar selfbeeld. Die rol sal ook beteken dat Lien nou gedwing sal word om interaksie met ander leerlinge te hê. Wouter is baie opgewonde oor die rol wat Lien gekry het, want dit was immers hý wat voorgestel het dat sy 'n oudisie moet aflê.

Dis 'n triomf vir Lien as Donovan instem om Braam-hulle se krieketspan te borg. Nie net beteken dit geld vir die huishouding nie, maar dit sal beslis ook iets vir Lien se swak selfbeeld doen dat sy so oorredend kon wees. Dit is ook 'n goeie dag vir Braam, want hy het daarin geslaag om 'n drie duisend rand borgskap vir hulle span te bekom, én hy is heel in sy skik met sy nuwe haarstyl en voorkoms.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking