Sondag 27 September 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 7-9

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 7

EFFENS LAST SEASON

Inhoud

Dis vir Lien duidelik dat Donovan die senior vennoot by Millenium Creations is. Hy hiet en gebied almal en Lien moet gedurig hoor hoe wonderlik Sue-Ellen was. Sy byt vas ter wille van die R45. Donovan en Dirkie sê nie veel oor die vrou wat soggens daar werk nie, maar Lien kry die indruk dat hulle nie baie van haar hou nie. Dirkie is baie stil en konsentreer op wat hy doen; dit is duidelik dat hy ernstig is oor sy werk en hou van wat hy doen.

Dis duidelik dat die vrouens wat soontoe kom mal is oor Dirkie en Donovan. Hulle deel hul diepste geheime met die twee haarkappers en veral Dirkie is baie simpatiek met hulle. Dit lyk aanvanklik of Dirkie en Donovan goed klaarkom en hulle het 'n stelsel wat goed werk. Lien sien egter mettertyd dat Dirkie hom gereeld vir Donovan vererg omdat Donovan so baasspelerig is.

Lien se take word duidelik uitgespel: sy moet die telefoon beantwoord, afsprake maak, die vloer vee, koffie vir kliënte maak, die tydskrifrakkie netjies hou, die trollie en toonbank afvee en die botteltjies haarprodukte netjies op die trollie rangskik. Sy is nie tevrede met die manier waarop die kombuisie ingerig is nie en sy verander die opset om dit meer funksioneel te maak. Dis baie harde werk in die salon en Lien is gedurig besig, maar sy hou van die werk en dink dit kan dalk vir haar uitwerk.

Almal is baie moeg as die werkdag verby is. Lien moet vir Donovan koffie maak en Dirkie moet vir hom 'n sigaret bring. Donovan nooi Lien om by hulle te kom sit. Hy is baie tevrede met haar werk, maar hy waarsku dat sy nie te geheg aan die werk moet raak nie, want sodra Sue-Ellen terug is, sal Lien moet gaan. Dit irriteer Lien dat Donovan haar die hele tyd “Engel” noem, maar sy besluit om eerder niks te sê nie. Dirkie wil weet wanneer hy vir Lien 'n nuwe kapsel kan gee. Donovan dink ook haar hare is effens 'last season'.

Lien onthou skielik dat Braam die vorige dag by die skool raas gekry het oor sy hare wat te lank is. Sy vra of hulle eerder Braam se hare gratis sal sny in plaas van haar eie. Dirkie bied aan dat Lien en Braam albei hulle hare gratis kan laat sny. Hy en Donovan soek in 'n lêer na 'n geskikte haarstyl vir Lien. Die een waarop hulle besluit, is modern en pragtig, maar Lien is nie seker of dit vir haar sal werk nie; sy vra tyd om eers daaroor te dink. Dirkie betaal Lien en bied aan dat sy saam met hom mag ry. Sy is baie dankbaar, want haar voete is seer van al die staan.

As Lien by die woonstelblok aankom, kry sy vir tannie Bets by die hysbak. Bets moet haarself by Weigh-Less laat weeg en vra of Lien nie sal saamkom vir morele ondersteuning nie. Sy het 'n obsessie om gewig te verloor, maar omdat sy so lief is vir lekkernye, verloor sy nie eintlik gewig nie. Lien stem in, want sy weet nie wat dalk by die woonstel op haar wag nie.

In die parkeerterrein by die kerksaal groet hulle vir Oom Faantjie wat, net soos tannie Bets, al jare lank sukkel om gewig te verloor. Daar is alreeds heelwat mense wat in 'n ry staan en wag om geweeg te word. Dis komieklik om te sien hoe elkeen alles wat moontlik iets kan weeg, afhaal voordat hulle op die skaal klim. Die groepleidster Mara, 'n fyn vroutjie, was skynbaar self eens 'n groot vrou. Sy is baie simpatiek teenoor die mense en praat in 'n fluisterstem met elkeen wat geweeg word. Tannie Bets is baie verlig dat sy net komma vier kilogram opgetel het nadat sy die hele week lekkernye geëet het. Volgens Mara is dit omdat die liggaam hierdie tyd van die jaar vog opbou; sy kon dus maar meer melktert geëet het. Oom Faantjie het geen gewig opgetel nie en wil dit met 'n koue bier of twee gaan vier. Op Lien se vraag oor oom Faantjie, vertel tannie Bets dat hy al jare gelede geskei is. Dan wil Lien weet hoekom tannie Bets nooit getrou het nie. Sy is onmiddellik spyt oor haar vraag, maar tannie Bets neem nie aanstoot nie. Sy vertel dat sy die geleentheid gehad het om te trou, maar dat sy nooit die regte persoon ontmoet het nie. Sy geniet haar onafhanklike lewe. Terwyl tannie Bets by Pick n Pay stilhou om iets te koop, sit Lien en luister na die countrymusiek wat oor die CD-speler speel. Sy vererg haar vir die woorde daarvan en sit die CD-speler af.

Lien sien 'n vrou met 'n plakkaat wat voor die winkelsentrum se ingang staan en bedel. Af en toe gee iemand vir haar geld en sy glimlag dankbaar. Lien wonder of die vrou nie skaam voel om so te bedel nie, en hoeveel geld sy op so 'n manier per dag verdien. Tannie Bets kom terug en Lien kan ruik dat sy onder andere 'n gebraaide hoender gekoop het. Sy wonder wat Mara van Weigh-Less hiervan sal sê. As Lien-hulle by die bedelares verbyry, sien sy die woorde op die plakkaat: Drie afhanklikes. Werkloos. Enige donasie asb!!! Die Here seën u.

As Lien by die woonstel kom, is haar ma se deur weer toegetrek en die wyn is nie in die yskas nie. Braam lê voor die televisie en kyk na Sewende Laan. Lien is teleurgesteld na die vorige aand se wonderlike ervaring. Sy maak 'n tunaslaai van die min bestanddele in die woonstel. Wanneer Lien vir Braam van Dirkie-hulle se aanbod vertel, weier hy om sy hare by hulle salon te laat sny. Dirkie het gesê dat hy die volgende middag mag kom.

Lien kyk deur die kombuisvenster na die stadsliggies en wonder oor die doel van haar bestaan. Sy was die skottelgoed en maak die kombuis aan die kant. Skielik kry sy 'n plan en gaan maak vir Braam wakker wat ondertussen half aan die slaap voor die televisie geraak het. Sy stel voor dat Braam vir Donovan en Dirkie vra om hulle krieketspan te borg. As die haarsalon hulle vir R2 000 borg, kan Braam R300 kommissie verdien. Braam wil niks daarvan weet nie, maar as Lien belowe dat hulle vir hom 'n nuwe denim kan koop, lyk dit of hy tog bereid is om dit te oorweeg. 'R300 kan 'n paar gate toestop, dink sy terwyl sy in die donker deur die kombuisvenster na die liggies tuur.'

'n Seun van ongeveer twaalf, met 'n bos swart krulhare, lê op die grasperk en stoei met twee hondjies. Die seun lag uitbundig as die twee hondjies hom karnuffel. Hy sit regop en sê iets onhoorbaar vir die kamera.

Hy wonder oor die honde …

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Lien kry 'n tweede deeltydse werk nadat die eerste een nie uitgewerk het nie. Donovan, die senior vennoot van die haarsalon, is 'n ware diva en baie baasspelerig. Lien moet hard werk, maar sy geniet dit en dink dinge sal hierdie keer uitwerk. Die geld is egter min en die tyd vir Lien om genoeg te spaar vir 'n enkelkaartjie oorsee, raak ook min.

Lien staan tannie Bets moreel by in haar poging om gewig te verloor, want tannie Bets is altyd bereid om Lien-hulle by te staan.

Die euforie van die vorige aand se wonderlike tyd saam met hulle ma verdof as Lien sien dat haar ma se kamerdeur weer toegetrek is en dat die wyn nie in die yskas is nie.

Lien wil hê Braam moet vir Dirkie en Donovan vra om hulle krieketspan te borg. As Braam vyftien persent kommissie kry, kan dit 'n ekstra R300 vir die huishouding beteken. Lien is desperaat vir geld, want die koskaste is leeg en die geld kom nie vinnig genoeg in nie. Braam is egter skepties en wil nie instem om met Dirkie en Donovan te gaan praat nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking