Sondag 27 September 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 7-9

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 9

'N RUS OP DIE MENU

Inhoud

Dis Saterdag en Lien is vroeg by die salon. Sy is moeg, want sy het die vorige aand tot laat na 'n fliek op televisie gekyk. Sy besef dadelik dat Donovan en Dirkie haaks is. Hulle ignoreer mekaar en die atmosfeer is kil. Hulle praat deur Lien met mekaar. As Lien in die kombuis kom, sien sy dat alles teruggeskuif is soos voordat sy daar kom werk het. Sy wonder of Mary Morning Glory dit gedoen het.

Die salon is baie besig en Lien moet selfs help om die kliënte se hare te was. Aanvanklik gril sy daarvoor, maar mettertyd raak sy daaraan gewoond. As sy net voor toemaaktyd die laaste vuil skottelgoed was, hoor sy hoe Dirkie en Donovan baklei. Dirkie is baie ontsteld en beskuldig Donovan daarvan dat hy 'n tweegesig is voordat hy verwoed by die salon uitstorm. Donovan gee vir Lien 'n honderdrandnoot vir al haar harde werk en Lien besluit om dadelik te loop voordat Dirkie terugkom. Sy los vir hom 'n nota dat sy nie sal saamry nie. Op pad Pick n Pay toe dink Lien aan Dirkie en Donovan se werk as haarkappers. Dit moet verskriklik wees om 'n mens se hele lewe lank 'n bestaan uit ander mense se hare te moet maak.

Lien koop 'n paar pakkies noodsaaklike kos en bederf haar en Braam elk met 'n klein sjokolade. Sy spandeer feitlik al haar geld op kos, want die yskas is leeg. Lien is nie lus vir die woonstel nie. Braam is vir die naweek by Deon-hulle en dis haar ma, die wyndoos en een of ander Russiese komponis se musiek wat in die woonstel op haar wag.

Lien se ma staan voor die kombuisvenster met 'n glas wyn in die hand. Sy hou Lien dop as sy die kosware begin wegpak en sê dat sy baie skuldig voel dat Lien vir hulle kos koop. Lien sê haar ma kan baie meer geld verdien as sy weer begin musieklesse gee soos voorheen. Sy wil weet hoekom haar ma nooit meer klavier speel nie. Haar ma antwoord nie en drink net wyn. Lien vererg haar en storm eetkamer toe, lig die klavier se deksel op en dan begin sy die Blou Donau speel, so hard as wat sy kan. Sy kan nie meer die note goed onthou nie en speel baie vals note. As sy klaar is, klap sy weer die klavier toe en bly doodstil sit. Sy hoor hoe haar ma haar kamerdeur toetrek en gaan dan na haar eie kamer toe.

Lien haal haar Wiskundeboek uit haar tas, maar sy is te ontsteld om te fokus en gooi die boek onder haar bed in. Sy trek haar duvet oor haar kop en raak feitlik dadelik aan die slaap. Sy het 'n aaklige droom waarin Dirkie haar hare pers kleur. As sy wakker skrik, is dit reeds donker en sy hoor Pavarotti kliphard in haar ma se kamer sing; sy hoor ook die televisie in die woonstel langsaan.

Lien is skielik baie honger en gaan klop aan haar ma se deur om te hoor of sy ook iets wil eet. As daar na die tweede klop steeds geen antwoord is nie, gaan Lien kombuis toe om vir haar kos te maak. Sy gaan sit voor die televisie en mis vir Braam. Sy dink aan haar vriende uit haar 'vorige lewe' en wonder of hulle haar nog sal onthou. Sy voel baie eensaam en oorweeg dit om vir Wouter te bel of by tannie Bets te gaan kuier. Sy voel vasgedruk in die woonstel en gaan staan op die stoep. Sy dink aan hoe drasties haar lewe die afgelope twee jaar verander het. Terug in haar kamer luister Lien na Norah Jones se vertroostende woorde:

But if we stick together
Then I know we'll be OK
'coz when it gets too cold outside
This room is where we'll stay
* * *

Die kamera volg 'n lang man met donker krulhare wat met 'n leer opklim dak toe. Drie dogtertjies, ongeveer ses jaar oud, sit op die dak. Daar is 'n donkerkoppie met 'n kat op haar skoot in die middel en 'n blonde tweeling aan weerskante van haar. Die middelste dogtertjie praat aanhoudend met die man op die leer wat nou oor die dak se rand na hulle loer. Hy praat vriendelik, maar die donkerkoppie praat heftig teë en dit lyk of sy weier om van die dak af te klim.

Die een blonde dogtertjie begin huil en beweeg dan bang-bang tot by die man wat haar tot op die grond help. Dan klim hy weer op en help die ander blonde dogtertjie tot op die grond. Die donkerkoppie verseg egter om af te klim en kyk anderpad as die man met haar praat.

Hy druk die Freeze-knoppie en kyk ingedagte na die man wat oopmond met sy kop na bo gelig, staan. Hy staan op en stap tot by die televisieskerm en hy raak versigtig daaraan.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Alhoewel dit naweek is, is daar niks vir Lien om na uit te sien nie. Sy gaan salon toe om daar te werk en 'n paar rand te verdien. Sy merk op dat daar spanning tussen Dirkie en Donovan heers, maar sy wil nie betrokke raak nie. Lien het die begeerte om iets van haar lewe te maak. Sy dink dit moet vreeslik wees om jou hele lewe lank te werk om vrouens se hare mooi te maak; sekerlik kan die lewe 'n mens meer bied as dít.

Na werk koop Lien vinnig 'n paar goedjies vir die woonstel, want die kaste is gewoonlik maar leeg. Haar ma voel skuldig dat Lien haar geld op kos moet spandeer, maar dit verhoed haar nie om steeds te drink nie. 'n Naweek met 'n dronk ma en een of ander Russiese komponis se musiek is nie iets waarna Lien uitsien nie; Braam is ook deesdae selde tuis omdat hy die situasie by die huis nie kan hanteer nie.

Lien raak gefrustreerd as sy dink aan haar ma se uitsonderlike musikale talent en hoe sy veel beter kan doen deur musieklesse te gee as in haar huidige werk. Haar ma weier egter om weer klavier te speel en gaan soek toevlug agter haar toe kamerdeur. Kommunikasie tussen ma en dogter is baie gebrekkig en hulle leef heeltemal by mekaar verby. Lien voel baie eensaam en dit voel asof die woonstelmure haar vasdruk. Sy verlang na haar vorige lewe en die maats wat sy gehad het; sy wonder of hulle haar nog onthou. Sy sal veel eerder haar Saterdagaand in Wouter of tannie Bets se geselskap wil deurbring as om in die despressiewe atmosfeer van die woonstel te wees. Soos gewoonlik gaan soek sy haar ontvlugting in die woorde van Norah Jones.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking