LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 3
'N KAKOFONIE VAN KLANK
Inhoud
Soos Lien voorspel het, het haar ma nie daardie dag gaan werk nie. Sy staan by die venster en uitstaar en die harde klanke van Prokofiëf se derde klavierkonsert begroet Lien as sy by die woonstel aankom. Alhoewel haar ma redelik nugter voorkom, ruik Lien die wynwalm wat uit haar ma se rigting kom.
Lien maak vir haar 'n kaastoebroodjie uit die skrapse voorraad kos in die yskas en terwyl sy eet, hou sy haar ma dop. Haar ma is heeltemal weggevoer deur die musiek en sy wieg haar kop heen en weer op maat daarvan. Lien besef dat haar ma 'n baie mooi vrou moes gewees het toe sy jonger was. Nou lyk sy egter oud en verwaarloos, aangesien haar lewe die afgelope twee jaar baie moeilik was.
Christien Jooste se gesig spreek van euforie en Lien weet dat die musiek dieselfde bedwelmende effek op haar ma het as die wyn. Skielik bars die musiekklanke in volle sterkte uit en dit klink vir Lien na kakofoniese klank waarvan sy niks kan uitmaak nie. Haar ma se kop skud al heftiger namate die volume van die musiek toeneem. Lien vra haar ma om haar geliefde Schubertstuk op die klavier te speel, maar haar ma hoor nie eens haar versoek nie. Lien stap kamer toe om reg te maak vir haar onderhoud by tant Malie se koffiekroeg.
Malie Dry het helder oranje hare en is 'n baie unieke karakter. Sy is besig om koeke in die glastoonbank te rangskik wanneer Lien daar aankom. Die koffiekroeg is klein, maar daar is baie tafels en stoele. Die winkeltjie het 'n countryvoorkoms in pienk en groen. Orals is daar blommotiewe te sien. Die mure hang vol prente met dieselfde blomtema. Daar staan ook orals potjies met blomme op die tafels rond. Lien kan sien hoekom die koffiekroeg Malie se Tuin/Malie's Garden genoem word.
Malie se Tuin is baie gewild onder oumense van die omgewing. Op Dinsdae en Donderdae geld 'n spesiale 20%-afslag vir bejaardes en dis hoekom die plek vandag (Dinsdag) so vol is wanneer Lien daar aankom. As sy by die toonbank aanmeld, weet Malie aanvanklik nie wie sy is nie. Lien stel haarself voor en Malie wil weet of Lien sommer dadelik kan begin. Sophie en Agnes sukkel om al die klante te hanteer en Malie weet ook dat Lien die geld dringend nodig het.
Malie verwag van Lien om die klante welkom en op hul gemak te laat voel, daarom moet sy altyd vriendelik wees en haar beste diens lewer. Wanneer klante by die deur arriveer, moet Lien hulle dadelik na 'n tafel toe neem en 'n spyskaart aanbied. Sy moet vir hulle vertel wat die koek van die dag is, maar hulle moet self besluit wat hulle wil bestel. Sy moet die klante as 'meneer' en 'mevrou' aanspreek en sy moet Malie 'mevrou Dry' noem.
Malie gee vir Lien 'n boekie en 'n pen en beduie hoe Lien die bestellings moet neerskryf en watter prosedure sy moet volg wanneer sy die bestellings by die kombuis plaas. Slegs Malie hanteer die kasregister. Die prosedure is vir Lien duidelik en sy begin dadelik werk. Haar eerste klante is 'n man, vrou en klein seuntjie. Alles verloop vlot, maar die koffiewinkel word steeds besiger en Lien moet kophou om nie deurmekaar te raak met die bestellings nie. Die twee ander kelnerinne is vriendelik, maar almal is so besig dat daar nie tyd vir gesels is nie.
Lien vind dat die oumense baie verstrooid is en sy moet dikwels hul bestellings herhaal omdat hulle soms vergeet wat hulle bestel het. Die fooitjies wat hulle betaal, is ook maar baie klein, gewoonlik net 'n paar sent.
Wanneer die mense met die seuntjie hul rekening wil betaal, is Malie by die bank. Hulle is haastig en Sophie stel voor dat Lien alles op 'n faktuur neerskryf en Thank you very much, please come again bo-aan moet skryf – dit help vir 'n groter fooitjie. Lien trek 20% afslag van die totale bedrag af en die rekening beloop R78. Die man betaal met 'n R100-noot en sê Lien mag die kleingeld hou. Lien is in ekstase hieroor.
As Malie terugkom, is sy baie kwaad dat Lien 20% korting gegee het, want dit is net bedoel vir senior burgers met pensioenkaarte. Lien probeer verduidelik, maar Malie is woedend en sê dat die geld van Lien se betaling afgetrek sal word. Sophie probeer Lien troos en sê dat Malie se woedebuie nooit lank duur nie.
Wouter kom net daarna by die koffiekroeg in en dring daarop aan dat Lien hom moet bedien. As hulle heelwat later saam huis toe stap, vertel sy vir Wouter van haar nare ervaring met Malie Dry en dat sy uiteindelik minder as veertig Rand vir die hele middag se harde werk verdien het. Sy wil graag geld spaar om eendag oorsee te gaan, maar as die geld so stadig inkom, gaan sy nooit haar droom verwesenlik nie.
As Lien en Wouter groet, kyk sy hom agterna terwyl hy wegstap – 'haar lang pel met die deurmekaar hare. Haar beste pel, eintlik haar enigste pel. Haar brother in arms.' Sy dink weer aan die eerste dag, meer as 'n jaar gelede, toe sy en Wouter saam by Jakaranda Hoërskool as nuwe leerlinge begin het. Sy onthou hoe kwaad sy vir alles en almal was omdat sy nie by 'n nuwe skool wou wees nie.
Terwyl haar ma vorms ingevul het, het Lien verveeld om haar rondgekyk. Toe haar oog Wouter s'n vang, het sy dieselfde uitdrukking op sy gesig gesien. 'n Paar dae later het hulle mekaar weer by die tandarts raakgeloop en toe saam gaan koffie drink. Wouter het vertel dat hulle vroeër in Bloemfontein gewoon het en dat sy ouers onlangs geskei is. Sy ma het besluit om Pretoria toe te trek sodat hulle 'n nuwe begin kon maak.
Lien het ook haar treurige verhaal met Wouter gedeel en dis hoe hulle vriendskap begin het. Van daardie dag af is hulle boesemvriende en hulle deel hul geheime met mekaar. Lien was bly om 'n vriend te hê wat haar kon laat lag, aangesien sy op daardie stadium baie depressief en eensaam was. Hulle het saam geskinder oor die aaklige nuwe skool en hoe gelukkig hulle in hul vorige skole was.
Op pad woonstel toe, groei Lien se swaarmoedigheid. Sy sien daarteen op om tuis te wees, want die atmosfeer is onaangenaam. Sy kry 'n briefie van Braam om te sê dat hy by 'n maat gaan Wiskunde doen en dat hy sommer daar sal eet. Daar staan 'n pot sop op die stoof en vars broodrolletjies op 'n bord. Lien vermoed dat tannie Bets op die vyfde vloer dit gebring het. Lien se ma se kamerdeur is toegetrek en alles is doodstil in die woonstel.
Lien gaan lê op haar bed en luister na haar Norah Jones-CD. Sy raak aan die slaap en droom van haar nare ervaring by die koffiekroeg. Wanneer se heelwat later wakker word, sien sy dat die lig in die sitkamer brand. Haar ma sit op die mat en luister met oorfone na haar musiek. Die wynboks en 'n leë beker staan langs haar op die tafeltjie. Sy neurie die wysie van Mozart se Ave Verum Corpus vals saam terwyl sy sukkel om die oorfone met Prestik aan die CD-spelertjie te koppel. Haar ma sien haar, maar sy is skaars bewus van Lien se teenwoordigheid. Lien wil weet: “Waar is Ma? Ek bedoel, wanneer kom Ma terug?” maar sy kry geen antwoord nie.
* * *
'n Vrou met dik swart hare sit en klavier speel. Haar liggaam beweeg vloeiend saam met die musiek. 'n Dogtertjie en seuntjie staan by haar en sing. Die dogtertjie kyk stip na die kamera en sy rek haar oë dramaties terwyl sy sing. Dit lyk of die seuntjie nie die woorde goed ken nie en hy kyk onseker na die vrou wat die klavier bespeel.
Skielik hardloop die seuntjie weg en verdwyn buite beeld. Dan volg die kamera hom weer en wys hoe hy op die rusbank duik. Dit wys ook hoe twee klein hondjies voor 'n glasdeur staan en die gebeure dophou. Dan hardloop die seuntjie terug na die dogtertjie by die klavier. Hy beweeg sy mond asof hy sing. Die kamera begin ruk en dit lyk of die fotograaf lag terwyl hy dié toneeltjie verfilm.
As die video klaar gespeel het, sit hy ingedagte en met 'n glimlag op sy gesig. Hy hou van die toneeltjie met die hondjies en begin weer om die video te speel.
Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk
Lien se eerste ervaring van 'n deeltydse werk is nie heeltemal soos sy verwag het nie. Die betaling is maar skraps en dis baie harde werk. Aangesien sy 'n fout met die afslag begaan het, word dit van haar fooi afgetrek en uiteindelik verlaat sy die koffiekroeg met minder as R40 vir al haar harde werk van die middag. Wouter sê sy moet dit as lewenservaring beskou en dat dit die volgende dag beter sal gaan. Hy probeer haar negatiewe lewenshouding verander.
Wouter is Lien se beste (en enigste) vriend. Die vriendskap is vir haar baie kosbaar, want hulle het mekaar ontmoet toe sy baie neerslagtig was en hy het haar opgebeur. Albei sukkel met aanpassingsprobleme by hul nuwe skool en albei het groot trauma beleef voordat hulle na die nuwe skool toe gekom het. Dit het van hulle sielsgenote gemaak en Lien kan haar diepste geheime met hom deel. Dis vir Lien lekker om 'n seunsvriend te hê wat nie van haar verwag om romanties betrokke te raak nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking