DIE DANS VAN DIE REËN – Eugène Marais
BESPREKING
Die subtitel van die gedig vermeld dat dit ʼn lied van Jan Konterdans is. Die gedig is dus ʼn beskouing van die reën uit die oë van ʼn natuurmens. Eers word die naderende reënbui beskryf, dan kry ons die reaksie van die grootwild wat getuig van opgewondenheid. In die derde strofe vind ons die reaksie van die kleinvolk – insekte en kleiner reptiele. In hierdie gedig tref ons nie rym en ʼn formele bou aan nie. Dit is egter heeltemal funksioneel, want formele poësie-elemente sou afbreuk doen aan die natuurelemente in die gedig. Die natuur wat hier beskou word deur die oë van Jan Konterdans, word vermenslik en hierdie personifikasie is deurgaans sigbaar. In die gedig word die toenemende mag van die Suster subtiel beskryf en die afnemende mag van die ander natuurdinge teenoor die reën word fyn gesuggereer. Hierdie gedig vorm ʼn treffende eenheid waar die woordgebruik bydra tot die natuurelemente in die gedig. Die natuur is nie net agtergrond in hierdie gedig nie, dit is ʼn lewende teenwoordigheid.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking