Maandag 10 November 2025

MA – Antjie Krog

 REЁLVERKLARINGS

Reël 1: Die spreker praat met haar ma en sê dat sy vir haar ʼn gedig skryf.

Reël 2: Die gedig is baie eenvoudig – sy gebruik nie eens leestekens nie. Sy probeer dus nie allerhande indrukwekkende leestekens gebruik om haar ma te beïndruk nie.

Reël 3: Die gedig is so eenvoudig – die woorde aan die einde van haar sinne rym nie eens nie.

Reël 4: Die gedig is ook sonder bywoorde – woorde wat ʼn mens meer vertel oor die aksies en die redes vir sekere handelinge of gebeure.

Reël 5–6: Sy skryf die gedig sonder enige spesifieke rede ("sommer") en dis ʼn "kaalvoete" gedig, met ander woorde ʼn eenvoudige gedig wat enigiemand kan verstaan. Daar is niks opgesmuks aan die gedig nie.

Reël 7–8: Vanaf die woord "want" gee die spreker die rede waarom sy die gedig aan haar ma opdra: haar ma maak haar groot. Let op dat die spreker haar ma "jy" noem, ʼn aanspreekvorm wat in die vorige eeu moontlik kon dui op ʼn gebrek aan respek vir ouer mense.

Reël 9–10: In hierdie versreёls verwys die spreker na haar ma as ʼn streng vrou en ʼn ma wat haar vorm ("beitel") met haar "swart oë". Haar ma hou haar waarskynlik goed dop en gee haar betekenisvolle kyke as sy oortree. "Spits woorde" sê vir ons dat haar ma streng en ferm is en huiwer om haar te dissiplineer of maniere te leer nie.

Reël 11: Haar ma draai haar kop gereeld in die spreker se rigting. ʼn "Leiklipkop" verwys na ʼn kop vol kennis en wêreldwysheid. Haar ma is intelligent en het al baie dinge ervaar en eerstehandse kennis opgedoen.

Reël 12: Haar ma is vriendelik, dog ferm. As die spreker in gemaksones verval of te ontspanne raak, "breek" haar ma haar "tente op". Sy moet dus altyd op haar hoede wees en nie stagneer nie. Haar ma bring haar gereeld terug aarde toe.

Reël 13-14: Ten spyte van haar ma se strengheid, weet die spreker dat haar ma baie lief vir haar is, want sy dra haar elke aand aan haar "Here God" op. Sy vra dus die Here om haar kind te beskerm.

Reël 15: "Moesie-oor" kan twee moontlike betekenisse hê: haar oor het ʼn moesie op, of hulle is besonder klein. Tog is dit die oor wat altyd na die spreker luister, die enigste persoon met wie sy kan praat as sy probleme het, haar vertroueling.

Reël 16: Haar moederhuis is haar "bybel", die riglyne waarvolgens sy leef. Die reёls wat haar ma vir haar neergelê het, is altyd die voorbeeld wat sy volg en nastreef.

Reël 17: Die spreker bedoel dat haar ma altyd die een is met wie sy kan praat om haar weer rustig te maak as die storms van die lewe om haar woed. Haar ma beskerm haar teen enige gevare wat rondom haar mag dreig.

Reël 18-20: Die spreker vra verskoning dat sy nie die kind is wat sy graag vir haar ma wil wees nie. Sy het waarskynlik tekortkominge en doen soms dinge wat haar ma nie goedkeur nie. Sy wens sy kon meer gehoorsaam wees en nie haar ma teleurstel nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking