Vrydag 21 November 2025

DIE HARDLOPER - Ernst van Heerden

INHOUD

Die gedig beskryf die toewyding waarmee die atleet die wedloop aanpak. Die wedloop is uit die staanspoor straf en die atleet moet van die begin af alles uithaal om voor te bly. Tydens die wedloop behou hy sy ritme en myl na myl word met volle oorgawe afgelê. Hy besef dat hy die wil en die fisieke vermoë het om enige uitdager in die wedloop te klop.

Die atleet se hartklop versnel en sy liggaam verhit, maar hy hardloop so vinnig as hy kan, wetende dat sy gespierde liggaam hom tot aan die einde sal kan dra en laat voor bly. Die ekstase van selfversekering kan duidelik op sy gesig gesien word.

Terwyl die atleet hardloop, fokus hy op sy tegniek en vaart, maar hy word tog bewus van sy asem wat mettertyd begin hyg. Hy raak daarvan bewus dat hy nie meer alleen voor hardloop nie; ʼn ander atleet het hom intussen ingehaal en is vlak agter hom. Hy kan sy opponent nie sien nie, maar hy is bewus van sy nabyheid en wonder wie dié "ongesiene makker in die loop" is. Hy sien sy opponent se voet langs sy eie en is bewus van die ander atleet se asemhaling kort agter hom. Hy besef dat hy nie die enigste atleet is wat ʼn kans het om eerste oor die wenstreep te hardloop nie.

Die atleet in die gedig wen wel die wedloop, maar hy besef dat hy voortaan nooit weer gerus kan wees in die wete dat hy sterker as sy kompetisie is nie. Voortaan sal dit vir hom progressief moeiliker wees om voor te hardloop en hy sal altyd met die vrees hardloop dat iemand anders hom tydens die wedloop sal verbysteek en uiteindelik die wedloop wen. Alhoewel hy hierdie keer steeds die wenner was, sal dit in die toekoms ʼn ander atleet wees wie se bors eerste die lint sal raak.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking