BESPREKING
Die digter gebruik omarmde rym in die vyf kwatryne van hierdie gedig. Sy woord-gebruik kom soms ietwat geforseerd voor ter wille van rym en metrum. Woorde soos "rappe", "vlugste" en "snelle" (almal sinonieme vir die algemeen bruikbare "vinnig") in die eerste twee strofes is duidelike voorbeelde hiervan. Hy neig ook plek-plek tot mooiskrywery (bv. "sy ademstoot ʼn hete windgejaag") en dit verleen ʼn onnatuurlike dimensie aan die gedig.
Die digter slaag voortreflik daarin om spanning in die gedig op te bou. Terwyl die atleet voor hardloop, word hy skielik bewus van ʼn "ongesiene makker in die loop" wat ook probeer om eerste oor die wenstreep te hardloop. Hy is nie daaraan gewoond om sterk kompetisie tydens wedlope te hê nie, en nou is daar skielik ʼn opponent wat in sy nek blaas. Dit veroorsaak angs en onrustigheid. Uiteindelik slaag die hardloper in die titel daarin om die wedloop te wen, maar met die wete dat hy voortaan altyd met die vrees sal hardloop dat iemand anders hom in die toekoms sal verbysteek en die wedloop wen.
Die "ongesiene makker in die loop" kry simboliese betekenis in hierdie gedig. Ernst van Heerden gebruik dieselfde beeld van die "ongesiene makker" ook in sy gedig Rustende atleet wat hierbo as interteks aanbeveel word. Die wedloop wat hier plaasvind, kan simbolies verwys na die mens se wedloop teen die dood, waar die dood hom uiteindelik inhaal en oor die mens seëvier.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking