AGTERGROND EN KOMMENTAAR
Die hardloper is een van Ernst van Heerden se sogenaamde Olimpiese gedigte en verskyn in sy debuutbundel Weerlose uur (1942). Hierdie gedig word beskou as een van die beste gedigte in die derde afdeling van dié bundel. Dié afdeling handel hoofsaaklik oor die eensaamheid van die ek, en die dominerende motief van ingeperktheid. In Die hardloper kry ons die wedloop tussen die ek en die dood wat op bevredigende wyse tot hoofmotief uitgroei. (J C Kannemeyer: Die Afrikaanse Literatuur 1652-2004).
Van Heerden was self ʼn kranige sportman en het verskeie sportgedigte geskryf, veral in sy tweede digbundel Verklaarde nag (1946). Sportgedigte in dié bundel is onder andere Die swemmer, Die bokser en Vraag van die boogskutter. Die gedig Die gewigopteller uit sy bundel Die sewe vrese (1951) is ook alom bekend. Van Heerden is internasionaal vir sy Olimpiese sportgedigte bekroon vir sy letterkundige bydrae tot sport.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking