Woensdag 21 Julie 2021

Leesbegrip (1)

HADEDA VLIEG ROND – MET PYL IN RUG

Dit lyk nie of 'n hadeda met 'n pyl in sy rug op hierdie stadium enigsins gepla is met dié vreemde voorwerp wat hy met hom saamdra nie. Sodra mense tot sy redding wil kom, gee hy pad – sonder enige gesukkel. Die South African Wildlife Rehabilitation Centre (SAWRC) en die Owl Rescue Centre (ORC) probeer nou om die voël te vang en die pyl te verwyder. Hoewel hy dalk nie op die oomblik enige pyn het nie, mag dit later probleme veroorsaak.

Volgens Judy Grose van die SAWRC is die hadeda vermoedelik Woensdag vir die eerste keer in Greenside, Johannesburg, opgemerk, en hy dwaal nog die hele tyd in die omgewing rond. Soektogte na die hadeda Donderdag was onsuksesvol.

"Vyf minute voordat ek daar aangekom het, het hy weggevlieg. Ons kon nie sien waarheen hy gegaan het nie, want daar is heelwat groot bome," sê Brendan Murray van die Owl Rescue Centre. Hy was egter Vrydagmiddag weer terug in die omgewing en het op die voël afgekom waar hy rustig op 'n huis se dak gesit het. Murray en 'n paar helpers het probeer om hom in die rigting van 'n nabygeleë park te dwing en dan met 'n net te vang, maar die hadeda wou niks weet nie. Wanneer hulle naby genoeg kom, het hy weggevlieg.

"Hy is nog 'n baie gesonde voël en vliegfiks. Hy vlieg van een dak na 'n ander," sê Murray. Hy vermoed die pyl het slegs deur die hadeda se rugvel gegaan. "Maar dit gaan natuurlik infeksie veroorsaak, daarom moet ons hom so gou moontlik vang om hom te help."

En nou vir plan B: "Op hierdie stadium is dit baie moeilik om hom te vang. Ons gaan hom oor die volgende paar dae in een van die erwe probeer voer sodat hy gewoond daaraan kan raak om grond toe te kom vir kos. Sodra dit gebeur, sal ons 'n lokval stel om hom te vang," sê Murray. Dit is nie duidelik hoe die pyl in die hadeda beland het nie, maar volgens hom is kinders gewoonlik die skuldiges. "Ek raai dat 'n kind 'n pyl en boog present gekry het. Daar is niks daarmee verkeerd nie, maar hulle moet geleer word om nie enige lewendige ding te skiet nie."

Totdat die persoon wat dit gedoen het op heterdaad betrap word of 'n ooggetuie na vore kom, bly dit 'n raaisel wie hiervoor verantwoordelik is, volgens Judy Grose.

[Verwerk uit BEELD, Saterdag 31 Januarie 2021]

Het jy geweet dat die hadeda die voël is wat die hardste lawaai van alle voëls in Afrika maak?

1.

Van watter "vreemde voorwerp" lees ons in die eerste paragraaf?

1

2.

Ons lees dat die vreemde voorwerp die hadeda skynbaar nie pla nie. Hoekom moet dit egter verwyder word, volgens paragraaf 4?

1

3.

Haal 3 opeenvolgende woorde uit paragraaf 1 aan wat sê dat dit nie vir die hadeda 'n probleem is om met die vreemde voorwerp te vlieg nie.

1

4.

Hoe lank nadat dié hadeda opgemerk is, het die koerant daaroor berig?

1

5.

Watter probleem het die bome in die omgewing vir Murray en sy helpers ingehou?

1

6.

Waar sit hierdie hadeda graag? Haal 'n paslike sin aan om jou antwoord te staaf.

2

7.

Volgens Brendan Murray is die hadeda nie ernstig beseer nie.

 

 

7.1

Hoekom dink hy so?

1

 

7.2

Wie dink Murray is vir hierdie daad verantwoordelik?

1

8.

Ons lees in paragraaf 5 van plan B.

 

 

8.1

Sê in een sin wat plan B is.

1

 

8.2

Sê in een sin wat plan A was.

1

9.

Wat beteken dit om iemand "op heterdaad te betrap"?

1

10.

Watter woord dui aan dat daar aan hierdie koerantteks verander is?

1


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking