Sondag 01 November 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 22-24

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 23

DIE WELCOME-HOME-MAMMIE-DING

Inhoud

Wanneer Lien by die huis aankom, sien sy twee Pick n Pay-sakkies op die kombuistoonbank. Sy besef haar ma is tuis. Sy stap versigtig sitkamer toe en vind haar ma op die bank. Die swart bloes lyk nommers te groot vir haar. Lien hoop dis koffie in die beker langs haar ma. Sy hou Lien woordeloos vas en sê dat sy baie na hulle verlang het. Lien maak vinnig verskoning om weg te kom. Terwyl haar ma teleurgesteld na haar kyk, dink Lien dat sy nie nou die 'welcome-home-mammie-ding' kan doen nie. Sy verstaan nie hoekom sy so voel nie en besluit dat sy later sal probeer.

Tydens hul teepouse sê Tibbey vir Lien dat die lewe haar ma en pa vreeslike klappe uitgedeel het. Haar ma het nou liefde en aandag nodig. Lien dink egter dat haar ouers vir dié klappe gevra het en dis nie regverdig dat sy en Braam daaronder moet ly nie.

Wanneer Lien by die woonstel aankom, hoor sy Rachmaninoff se musiek speel. Daar is niemand in die kombuis nie en sy ruik kos wat in die oond gaar word. Sy sien die goue vloeistof in 'n glas en vrees die ergste; sy is baie verlig as dit net appelsap is. As sy omdraai, staan haar ma in die deur met 'n vreemde uitdrukking in haar oё. Lien loop verby haar en sê dat sy na die toneeloefening sal kom eet. Later die aand op die pawiljoen vra 'n ongemaklike Hein haar om saam met hom na die matriekafskeid toe te gaan. Sy voel sleg om hom te moet vertel dat Wouter haar reeds gevra het.

'n Stokou, gehawende bakkie hou langs Lien stil. 'n Ou swartman en sy vrou sit voorin. Die ou man kyk stip na Lien, sê iets vir sy vrou wat daarna 'n munt uit haar kopdoek haal. Lien sien dat hulle self nie geld het nie en dit voel verskriklik om die geld te neem. Sy bedank hulle saggies en voel lus om te skree.

As Lien by die huis aankom, het haar ma en Braam nog nie geёet nie. Hulle sit en gesels in die sitkamer asof niks ooit verkeerd was nie. Haar ma lyk baie maer en praat met moeite. As sy begin opskep, sê sy weer hoe baie sy hulle gemis het. Lien is kwaad dat almal maak asof die afgelope twee jaar nie gebeur het nie. Sy voel lus om iets aakligs te sê soos "Wat van 'n dop?", maar sy bedink haar. Haar ma sukkel terwyl sy die kos opskep en op Radio Jakaranda speel Robbie Williams se 'Angels'. Langs die tafel neem haar ma hulle hande en sê dat sy jammer is dat sy die afgelope twee jaar nog erger gemaak het deur so uit te rafel. "Dis maar die ding met julle pa …" Lien en Braam lyk ongemaklik; Braam sê dis oukei en dat hulle bly is sy is terug. Lien bly stil, kwaad vir haar ma en vir haarself. As Braam sy ma na hul krieket­wedstryd toe uitnooi, sê sy dat sy dit beslis sal bywoon.

Die situasie by die huis irriteer Lien baie. Niemand sê iets verkeerds nie en hulle praat ook nie oor die kliniek nie. Sy en Braam baklei nooit. Wanneer hy eenmaal sy ma vra of Binnelandse Sake nie oor haar lang afwesigheid gekla het nie, stel sy hom gerus en sê dat hulle baie simpatiek was en dat hulle weet sy was vir mediese redes by die kliniek opgeneem; die mediese fonds het ook betaal vir haar behandeling. Lien kom agter dat Braam ook haar ma goed dophou, veral as sy met 'n glas of beker loop of sit. As sy een aand per ongeluk iets in die kombuis laat breek, skrik albei kinders groot. Sy lyk verslae wanneer sy sê dat dit net 'n ongeluk was en Lien besef dat haar ma baie onseker van haarself geword het.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

In hierdie hoofstuk beweeg gebeure gedurig rond tussen die woonstel, die bedelplek en die skool. Dit dui aan dat daar tyd verloop en dat alles nie op dieselfde dag plaasvind nie. Dit kan egter verwarrend wees wanneer 'n mens dit lees. Let dus op die ekstra spasies tussen party paragrawe in die teks wat hierdie verskuiwing aandui.

Wat veronderstel is om 'n heuglike dag vir die gesin te wees die dag van hul ma se tuiskoms, lei tot 'n ongemaklike en onseker verhouding tussen ma en kinders. Lien kan haarself eenvoudig nie sover kry om opgewonde en entoesiasties oor die tuiskoms te wees nie. Sowel Lien as Braam is agterdogtig en vertrou die situasie nie heeltemal nie. Hulle was al soveel keer vantevore hoopvol, net om dan weer teleurgestel te word. Dit is duidelik dat Lien se ma baie hard sal moet werk om haar kinders se vertroue in haar te herstel. Sy voel baie jammer oor dít waardeur hulle moes gaan en sy sal nou moet bewys dat sy die situasie kan hanteer.

Lien voel hoogs geïrriteerd deur die situasie tuis. Hulle tree almal korrek op, maar verswyg die gebeure van die afgelope twee jaar in 'n poging om mekaar se gevoelens te spaar. Haar ma probeer hulle gerus stel oor die situasie en verseker hulle dat haar werk baie begrip gehad het en dat haar behandeling deur die mediese fonds gedek is, maar daar is geen sekerhede en waarborge nie. Lien is verward en kan nie haar woede teenoor haar ma verstaan of verduidelik nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking