Sondag 04 Oktober 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 10-12

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 11

JULIA ROBERTS SONDER DIE MOND

Inhoud

Tydens die Afrikaans-les gaan help Lien en Miemie juffrou Breytenbach om die rekwisietekamer agter die saal reg te pak. Die plek is stowwerig en baie deurmekaar; dit is vol kostuums en dekor van vorige jare se produksies. Dit dien ook as kleedkamer gedurende opvoerings.

Terwyl juffrou Breytenbach 'n besem en stoflap gaan soek, begin Lien en Miemie om die kostuums in bokse te pak. Daar is baie eienaardige kostuums en Lien-hulle begin kostuums aanpas. Hulle vind dit baie prettig. As hulle later 'n boks vol pruike oopmaak, pas Lien een van die pruike op en sit 'n brilletjie op haar neus. Volgens Miemie laat dit Lien na Julia Roberts lyk, behalwe vir Julia se vol mond. As Miemie later 'n manspruik opsit, lag die twee meisies histeries. Lien voel tuis in die deurmekaar kamer vol toneelrekwisiete met die reuk van stof en grimering om haar. As juffrou Breytenbach by die meisies aansluit, skep die drie vinnig orde in die deurmekaarspul. Lien geniet haarself terdeë en het lanklaas so baie gelag.

As Lien daardie middag by die haarsalon aankom, is Dirkie en Donovan steeds knorrig teenoor mekaar. 'n Bietjie later kom Sue-Ellen met haar baba daar aan en die twee mans is vreeslik bly om haar te sien en gaan koer by die babawaentjie. Sue-Ellen is 'n lang blondine en Lien kan nie glo dat sy onlangs 'n baba gehad het as sy haar skraal lyf sien nie. Dirkie stel Lien aan Sue-Ellen voor en Donovan vra Lien om vir hulle koffie te maak.

As Lien in die kombuis is, hoor sy Sue-Ellen kla oor hoe moeilik dit is om 'n baba te hê. Dan word die gesprek egter so sag dat sy nie verder kan hoor nie. As sy met die koffie uitkom, sien sy hoe Donovan en Sue-Ellen met hul gesigte bymekaar sit en fluister. Sue-Ellen vertrek kort daarna en Lien kan aanvoel dat daar fout is, maar Donovan en Dirkie sê niks. Teen sluitingstyd roep Donovan vir Lien en vertel haar dan dat Sue-Ellen die volgende week terugkom en dat hulle nie meer Lien se dienste sal gebruik nie. Hulle sal egter steeds Lien se hare gratis sny en Braam-hulle se krieketspan borg.

In Dirkie se motor op pad huis toe vertel Dirkie dat hy alles probeer doen het om Lien se werk te red, maar Donovan het die meeste aandele in die besigheid en hy het dus die finale sê.

Lien doen by 'n agentskap navraag oor werks­geleenthede oorsee. Sy verkyk haar aan die plakkate van oorsese plekke wat teen die mure hang. 'n Baie vriendelike meisie verduidelik dat hulle kan reël dat Lien vir twee jaar lank op 'n werksvakansie Londen toe gaan. Sy sal egter minstens R30 000 nodig hê voordat sy kan gaan. 'n Vliegtuigkaartjie plus ander onkostes soos 'n visum, versekering en agentskaps­koste beloop ongeveer R10 000 en dan moet sy ook R20 000 in 'n bankrekening hê voordat sy aanvaar sal word. Lien weet nie waar sy soveel geld in die hande sal kry nie, maar sy is desperaat om die land te verlaat. Sy het egter geen idee waar om nou weer 'n tydelike werk in die hande te kry nie.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Lien en Miemie het baie pret wanneer hulle die rekwisietekamer regpak. Hulle pas kostuums aan en sit pruike op; dit lei tot baie stuitigheid en 'n groot gegiggel. Lien voel baie tuis in die stowwerige teateromgewing.

'n Groot terugslag en teleurstelling wag op Lien nadat sy daardie middag by die salon gewerk het. Terwyl sy daar was, het Sue-Ellen haar nuwe baba kom wys en Dirkie en Donovan was baie bly om haar weer te sien. Aan die einde van Lien se skof deel Donovan haar egter mee dat Sue-Ellen die volgende week terugkeer werk toe en dat hulle nie Lien se dienste dan langer sal benodig nie. Op pad huis toe, probeer Dirkie verduidelik dat hy sy bes probeer het om Lien te hou, maar Donovan het daarteen besluit.

'n Verdere skok wag op Lien as sy by 'n reisagent kom om navrae te doen oor werk oorsee. Die meisie vertel haar dat sy minstens R30 000 sal benodig om vir twee jaar oorsee te kan gaan werk: R10 000 vir kostes en 'n verdere R20 000 in 'n bankrekening as sekuriteit. Lien sal dalk die R10 000 kan bymekaarskraap, maar sy het nie 'n idee wie vir haar die sekuriteit sal verleen nie. Sy besef sy sal eenvoudig 'n plan móét maak en weer 'n deeltydse werk vind om die geld te kan spaar.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking