LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 10
IETS OM DIE PALAAT TE VERFRIS
Inhoud
Dis Dinsdagoggend en Lien en Wouter stap
saam skool toe. Hy is nuuskierig om die matriekafskeid by te woon om te sien
wie maak die grootste gek van hom of haarself. Lien sien nie kans nie, want sy
wil nie 'n hele aand lank gaan voorgee dat sy die laaste twee jaar van haar
skoolloopbaan geniet het nie. Sy kan nie 'n duur rok bekostig nie en sy dink
nie Wouter sal regtig in jeans en 'n T-hemp gaan nie, maar sy belowe dat sy
daaroor sal dink.
Mr MacMillan is afwesig en Lien is spyt daaroor; sy lesse is gewoonlik die
hoogtepunt van haar dag by die skool. Sy wil die vry-periode gebruik om haar
wiskunde in te haal, maar dan besef sy dat haar boek nog onder haar bed lê.
Lien het die vorige aand 'n televisieprogram oor Skotland gesien en sy is nou
baie entoesiasties om Skotland ook te besoek. Sy skryf haar reisplan in haar
Biologieboek neer terwyl sy nog alles kan onthou wat sy op die program gesien
het.
As Lien buite kom, sien sy hoe Wouter met Riekie gesels en hoe Riekie openlik met hom flankeer. Lien is baie jaloers om Wouter met iemand anders te moet deel. Sy is na aan trane en storm verwoed weg. Na skool stap sy alleen huis toe, want Wouter het krieketoefening. Die haarsalon is Dinsdae gesluit. Miemie Spies staan by die hek en wag en as sy Lien sien, vertel sy dat dit daardie dag haar agtiende verjaarsdag is en dat sy graag vir Lien Wimpy toe wil neem om dit te gaan vier. Lien is baie verbaas oor die uitnodiging, maar sy is baie honger en aanvaar die uitnodiging dankbaar.
Op pad Wimpy toe besef Lien dat sy eintlik min van Miemie af weet, behalwe dat hulle baie ryk mense is. As Miemie biefstuk en skyfies bestel, doen Lien dieselfde. Sy weet nie eintlik wat om vir Miemie te sê nie, want hulle ken mekaar nie regtig nie. Miemie vertel dat haar ouers haar daardie aand wil uitneem vir ete, maar sy wil eerder na 'n program op televisie kyk. Sy skram weg om oor haar gesin te praat.
Miemie is baie opgewonde oor die toneelstuk en wil graag iets besonders maak van haar rol as die skoonmaker. Sy wil met haar rol 'n statement maak oor die vrou se onderdanige rol in die samelewing. Miemie verduidelik dat sy Lien Wimpy toe genooi het omdat sy kan sien dat Lien ook nie vriende in die skool het nie. Sy is ook baie beïndruk dat Lien geen nonsens van enigiemand vat nie.
Oor 'n bord heerlike kos begin Miemie oor Lien se gesin uitvra. Sy vertel dat haar ma aan sepies verslaaf is. Sy is 'n vrou met 'n meestersgraad, maar sy het nog nooit gewerk nie. Sy is baie verveeld en doen geen huiswerk nie. Sy is mal oor die koskanaal op televisie, maar sy kook nooit self nie. Miemie se pa het 'n rekenaarbesigheid in Johannesburg en hy maak baie geld, maar hy is selde tuis. Daar is swak kommunikasie tussen haar ouers en haar pa onttrek hom gewoonlik in sy studeerkamer waar hy modelvliegtuigies bou. Later bestel Miemie vir hulle nagereg 'om die palaat te verfris' en Lien vertrek met 'n vol maag huis toe. Alhoewel Miemie 'n eienaardige meisie is, hou Lien nogal van haar.
As Lien by die woonstel kom, is Braam en Deon besig om 'n televisiespeletjie te speel. Sy is verbaas dat Braam 'n vriend woonstel toe gebring het, want alles is so oud en verslete. Sy is baie verlig as Deon huis toe gaan voordat haar ma arriveer en voordat hy dalk besluit om vir ete te bly, want daar is net roereiers en boontjies in tamatiesous vir aandete.
Die kamera sukkel om te fokus. Uiteindelik sien 'n mens 'n reuse-Kersboom wat amper tot by die dak strek. Dan fokus die kamera op die Kersvader wat met iemand buite die beeld praat. Ten spyte van sy mondering kan 'n mens sien dat die lang Kersvader nog 'n jong man is. Langs die Kersboom sit 'n dogtertjie en seuntjie verbaas na die Kersvader en staar. Hulle ontvang geskenke van Kersvader en 'n mens kan sien dat hy 'n goue armband dra. Die dogtertjie weier om hom te soen, maar die seuntjie gee hom darem 'n vinnige drukkie. Wanneer hy sy mus afpluk, sien 'n mens 'n man met 'n bos swart krulhare.
Hy sit sy koffiebeker langs sy stoel neer en skakel die videospeler af; dan gaan hy voor die venster staan en staar lank buitetoe.
Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk
In hierdie hoofstuk voel dit vir Lien of sy besig is om 'n ou vriend te verloor, maar sy kry 'n nuwe vriendin by. Riekie flankeer openlik met Wouter en hy geniet die aandag. Lien kan sien dat hulle mekaar se geselskap baie geniet en dit maak haar jaloers. Alhoewel sy en Wouter net vriende is, en alhoewel dit is hoe albei dit verkies, maak dit Lien nietemin jaloers om Wouter en Riekie so saam te sien. Miemie Spies nooi Lien Wimpy toe vir middagete. Dit is haar agtiende verjaarsdag, maar sy het niemand anders by die skool om dit mee te vier nie. Sy is 'n eensame kind en ander kinders wil nie haar vriende wees nie (tydens die repetisie het hulle vir haar gelag en haar bespot). Sy het opgemerk dat Lien ook eensaam lyk en nie vriende het nie; sy het ook groot respek vir Lien se sterk karakter en dís hoekom sy Lien nou saamnooi. Lien geniet die kos en die geselskap en besef dat sy en Miemie eintlik baie gemeen het. Miemie se gesin is skynbaar ook wanfunksioneel en sy praat nie graag oor hulle nie. Haar ma is 'n hoogs intelligente vrou, maar ook 'n verslaafde (aan televisieprogramme). Sy het ook, net soos Lien se ma, haarself sosiaal onttrek. Net soos Lien sonder 'n pa moet klaarkom, sien Miemie haar pa baie selde. Hy is dikwels uitstedig, en wanneer hy wel tuis is, onttrek hy hom in sy studeerkamer waar hy modelvliegtuigies bou.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking