Maandag 24 Augustus 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE – HERSIENINGSVRAE 8

LIEN SE LANKSTAANSKOENE – HERSIENINGSVRAE 8 (Hoofstuk 36–Naspel)

ANTWOORDE

HOOFSTUK 36  COOL, SOU ÉK SÊ, ACTUALLY
1.  'n Motoris in 'n groen motor hou by Tibbey stil en wil weet wat Tibbey dink die uitslag in die wedstryd tussen die Bulle en die Westelike Provinsie gaan wees. Dit maak Tibbey so begeesterd dat hy die Bloubul-vlag vat en dit heftig begin waai terwyl hy skree: “Die WP se móér!”   
2.  Tydens hul teepouse wil Tibbey nie toelaat dat Lien hom stoot nie; hy wil vir haar wys dat hy self kan regkom. Sy oë blink weer en hy bedank Lien vir haar ongelooflike vriendskap.   
3.  Miemie het 'n klein tatoeëermerk laat aanbring en sy dink dit lyk baie 'cool'.   
4.  Miemie wys vir Lien die tatoeëermerk van 'n besempie wat sy op haar boud laat aanbring het. Wanneer Roberta kom hoor wat hulle wil eet, bestel Miemie iets met baie kalorieë wat uiters nadelig vir die gesondheid is.   

Dagboekinskrywing

  • Hy wou aanvanklik glad nie daardie dag gaan nie.
  • Lien het hom vroeg kom haal en na Entertainment Corner toe gestoot.
  • Hy wou eers niks weet van sy nuwe Boubulvlag en –pet nie.
  • Hy het net pateties by sy bedelhoek gesit en jammer vir homself gevoel.
  • Toe een van die motoriste vra wat hy dink daardie middag by die rugby gaan gebeur, het hy skielik weer die ou entoesiasme vir die lewe ervaar.
  • Hy het sy vlag wild begin waai en die motoriste vermaak.
  • Die geld het ingestroom.
  • Tydens teepouse wou hy nie dat Lien hom stoot nie; hy wou aan haar bewys dat hy
  • sonder hulp kan regkom.
  • Hy is baie dank aan Lien verskuldig; sy het dit vir hom moontlik gemaak om weer met sy lewe aan te gaan.

HOOFSTUK 37  KOUE GOED IN GROOT GLASE
1.  Nadat Lien vir Tibbey se karretjie betaal het, is haar spaarfonds feitlik uitgeput en sy moet ook elke maand die woonstelhuur betaal.   
2.1  Tydens 'n skielike windvlaag waai die wind Lien se pruik van haar kop af en onder 'n motor in. Sy buk om dit op te tel, en as sy opkyk, sien sy dat Kuifie in die motor sit.   
2.2  Dis haar reg om met haar lewe te doen wat sy wil en niemand anders het die reg om daaroor te besluit nie.   
2.3  Hy dring daarop aan dat sy in die motor klim en neem haar dan na sy huis toe.   
2.4  By Kuifie se huis bring sy vrou vir hulle elkeen 'n groot glas vrugtesap.   
2.5  Hy is bekommerd oor al die skoolwerk wat sy mis omdat sy soggens staan en bedel.    
2.6  Hy sal met die kerkraad praat sodat hulle kan help om Lien-hulle se onkostes te betaal. Daar is 'n fonds vir hierdie doel beskikbaar.   
2.7  Sy moet 'n lysie maak van al hul maandelikse uitgawes en volledige besonderhede gee. Hy sal dit dan aan die kerkraad voorlê vir goedkeuring.   
2.8  Sy kan hulle baba kom oppas wanneer hulle daardie Vrydagaand gaan fliek.   
3.1  Sy droom van haar pa.   
3.2  Die droom het haar baie omgekrap, want sy wil nooit weer aan haar pa dink nie. 4.  Sy was die skottelgoed.
Sy bel vir Donovan en aanvaar sy werksaanbod, maar op háár voorwaardes.
Sy haal agterstallige skoolwerk in.  Sy maak die lysie vir die kerk waarvoor Kuifie gevra het.   
5.1  Saam met die geld wat die kerk bereid is om te betaal, behoort hulle nie gebrek te ly nie.   
5.2  Sy sal werk vir R40 per uur, en meer op Saterdae. Hy mag haar nooit weer 'Engel' noem nie.   
5.3  Sy sal al die kliënte se hare was. Sy sal die geld aan die einde van die dag tel en dit gaan bank.   
6.  Die verlede en die hede vloei nou inmekaar. Die geheim is nou onthul van wie die geheimsinnige persoon is wat snags sit en video's kyk.   
7.  In die voorspel heel aan die begin van die boek.   

HOOFSTUK 38  DIE DING MET DIE KUIF
1.1  Johnny staan nou op die hoek waar Lien altyd gebedel het.   
1.2  Hy is baie bly om Lien weer te sien en begin spontaan gesels.   
1.3  Sy neem Lien kwalik dat sy nie meer saam met hulle is nie; sy het baie gesukkel om Johnny van Lien se bedelhoek af weg te hou.   
1.4  Hy het R250 000 met die lotto gewen en toe vir hom 'n huis in Mamelodi gekoop. 2.  Sy wil weet wanneer Lien terugkom.   

E-pos

  • Die doel van die opvoering is om dankie te sê vir alles wat die deelnemers se geliefdes vir hulle beteken en om te spog met wat die skool kan regkry.
  • Elke deelnemers mag ses gaste nooi, selfs meer as hulle wil.
  • Hulle moet teen Vrydag weet hoeveel gaste gaan kom.
  • Na die vertoning, sal daar verversings bedien word.
  • Die hotel- en spysenieringsleerlinge sal vir die eetgoed sorg en ma's word versoek om ook iets saam te bring.

Dagboekinskrywing

  • Donovan maak 'n groot ophef van Lien se terugkeer.
  • Dirkie en Donovan behandel haar nou soos 'n mede-kollega.
  • Lien kan gemaklik ontspan wanneer daar nie kliënte is nie.
  • Dit ruik soveel beter as die uitlaatgasse van motors.
  • Lien is nou meer ontspanne en gemaklik met die kliënte.
  • Sy help haar klasmaats om afsprake by die salon te kry.
  • Sy steur haar nie aan Dirkie en Donovan se bakleiery nie.

HOOFSTUK 39  DIE BESOEK   
1.  Lien se besoek aan haar ma in die kliniek vir dankverslaafdes.   
2.1  Die feit dat 'n mens jou privaatheid heeltemal verloor. Almal word eenders behandel en daar mag geen geheime wees nie.   
2.2  Daar is groepsessie waartydens almal openlik oor hul situasies moet gesels. Daar is ook individuele sessies met 'n sielkundige waar hy probeer om pasiënte sover te kry om hul probleem te erken en hulleself te vergewe vir wat hulle hul gesinslede aangedoen het. 'n Mens moet eers leer om jouself te vergewe voordat jy kan ver-wag dat ander mense dit moet doen.   
3.1  Om 'n berg van 'n molshoop te maak (iets baie erger te laat lyk as wat dit werklik is).   
3.2  'n Alkoholis probeer egter om groot en belangrike dinge klein en nietig te laat lyk.
  Hy wil nie erken dat hy 'n groot probleem het nie en probeer dit afmaak as iets wat nie ernstig is nie.   
4.  'n Skoenlapper is baie broos en kan maklik seerkry, iets wat Lien se ma ook in haar eie persoonlike lewe ervaar het. 'n Skoenlapper dui egter ook op 'n nuwe fase in die lewe. Wanneer 'n skoenlapper uit die kokon (die papie-fase) loskom, is dit vry om rond te vlieg en 'n nuwe lewe te ervaar. Dit kan dus hoop op 'n beter (mooier) toekoms aandui.   
5.  Sy wil weet of hulle dit ooit sal kan regkry om haar pa te vergewe vir wat hy aan hulle gedoen het. Haar ma antwoord haar egter nie.   
6.  Daar is 'n klein kapelletjie op die kliniek se gronde en daar speel klassieke musiek in die agtergrond vir mense wat die kapel besoek.   
7.  Vir haar behoort dit aan 'n tydperk in haar lewe wat vir altyd verby is, 'n tyd toe dinge nog goed was. Deur weer te begin speel, is dit asof 'n mens ontken dat dinge verander het. 'n Mens kan ook nie goed klavier speel as jy wyn gedrink het nie.   
8.1  Sy was in die onlangse verlede baie sinies teenoor haar ma en het opgehou om om te gee.    
8.2  'n CD met Chopin se klavierkonserte op.   

HOOFSTUK 40  DIE BESOEK   
1.  Lien se besoek aan haar pa in die tronk.   
2.1  Hy het sigbaar ouer en gryser geword. Hy loop effens krom. Hy het 'n hartseer uitdrukking op sy gesig en sy oë lag nie meer nie.   
2.2  Hy lyk onseker van homself en straal nie meer selfvertroue uit nie.   
3.  Hy en sy vennoot het geld van kliënte verduister, dit onoordeelkundig belê en toe baie daarvan verloor.   
4.1  Nog ses maande   
4.2  Hy sal by sy broer-hulle gaan bly en werk soek sodat hy vir Lien-hulle finansieel kan help. Die tronk-owerhede het belowe om hiermee te help.   
4.3  Hy sê dat hy dalk meubels sal begin maak, maar Lien weet haar pa is baie onhandig en sal dit nooit suksesvol kan doen nie.   
3.3  Hy is van die rol geskrap en mag nie weer as prokureur praktiseer nie.   
5.  'n Pakkie droëwors   

HOOFSTUK 41  'N BIETJIE KULTUUR
1.1  Tannie Bets, Oom Faantjie, Roos, Roos se dogter, Tibbey, Lien se ma (?)   
1.2  Vir Roos-hulle en vir Tibbey   
2.1  Die hotel- en spysenieringsleerlinge en die leerlinge se ma's.   
2.2  Hulle is albei by Weigh-Less en moet versigtig wees wat hulle eet sodat hulle nie gewig optel nie.   
2.3  Roos se dogter   
3.  Lien se ma. Tannie Bets vra dat sy iets op die klavier moet speel, en wanneer Christien uiteindelik instem, bekoor sy al die mense met haar klavierspel.   
4.  Wanneer die mense vir Christien hande klap, sien Lien iets in haar ma se reaksie wat haar herinner aan hoe haar ma eens was. Alhoewel daar volop wyn by die funksie beskikbaar is, drink Christien ook geen alkohol nie.   
5.  Wouter en Riekie nooi Lien uit om saam te kom na Riekie se huis toe waar hulle verder wil gaan feesvier.   
6.  Na die pawiljoen waar Hein waarskynlik vir haar wag.   

NASPEL
1.  Dit lyk of dit wel moontlik is vir dinge om weer dieselfde as voorheen te wees. Skynbaar het Lien se ouers na haar pa se vrylating versoen geraak en hulle is weer die gelukkige gesin wat hulle voorheen was. Christien het moontlik haar drankprobleem afgeskud en sy lyk weer gelukkig. Lien se pa het weer rede om te glimlag. Braam lyk gelukkiger as ooit en Lien en Hein het 'n gelukkige verhouding. Dit lyk asof Lien drama studeer, 'n studierigting wat sy nooit sou aangepak het as dit nie vir die rol van Weird Maria in die skoolopvoering was nie.   
2.  Die vier karakters is moontlik Lien, Braam, hulle ma en Hein. Lien se pa is moontlik die kameraman/fotograaf.   
3.  Aansluitend by die antwoord van vraag 1 kan gesê word dat dit ook lyk of die gesin finansieel weer voorspoedig is. Hulle het pas teruggekom van 'n vakansie wat hulle duidelik baie geniet het. Hulle het 'n nuwe videokamera, dié keer met klank, en almal lyk ontspanne en gelukkig. Lien se pa is steeds die onhandige kameraman wat hy was in die video's waarna Braam voortdurend gedurende hulle twee ongelukkige jare gekyk het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking