Donderdag 23 April 2026

TUIMELTREIN TAALOEFENINGE 5 – René van Zyl

TUIMELTREIN TAALOEFENINGE 5 – Hoofstuk 8 & 9

Vraag 1          Sinstrukture

Skryf die sinne hieronder oor soos aangedui. Moenie die basiese betekenis daarvan verander nie.

1.1  Ouma Linah ry saam met Scooby-hulle. Sy hou baie van verversings.
       Omdat ..., ...
1.2  Sy en Kollenel sit langs Scooby. Hy bestuur haar blou Fiat.
       Sy en Kollenel sit langs Scooby, wat ...
1.3  Jasper het nie die oorledene geken nie. Abby het hom nie geken nie.
       Nóg ...
1.4  Jakkals en drie ander mans dra die kis na die oop graf toe.
       Die kis ...
1.5  Kollenel spring blitsvinnig uit Henri-Etta se arms en val in die oop graf in.
       Blitsvinnig ... en dan ...
1.6  Jasper en Abby hoop albei dat Henri onthou van die opname-knoppie.
       Sowel ...
1.7  Henri-Etta sê dat sy weet waar die tieners wegkruip.
       Volgens ...
1.8  Hulle sal hulself oorgee as Jakkals die waarheid praat.
       Hulle het besluit dat ... as Jakkals bereid is om ...
1.9  As Jakkals Henri aan die arm gryp, slaan ouma Linah hom oor sy kop.
       Toe ..., ...
1.10  Het jy al ooit in jou lewe so 'n spektakel aanskou?
         Nee, ...

Vraag 2  Woordstrukture

Kyk na die woorde tussen hakies en voer die instruksies uit soos aangedui.

Daar is baie mense by die 2.1 (oorgroei - verlede deelwoord) _____ begraafplaas om hulde 2.2 (vir, met, aan - kies die regte voorsetsel) _____ Carolus te betoon.

Carolus van Niekerk was 'n 2.3 (populêre - sinoniem) _____ en 2.4 (respek - verlede deelwoord) _____ burgemeester en almal het baie 2.5 (korrekte voorsetsel) _____ hom gehou. Die predikant vertel ook wat 'n 2.6 (goed - regte vorm) _____ man hy was.

Jakkals is een van die 2.7 (dra - afgeleide naamwoord) _____ by die 2.8 (funeral - Afrikaans) _____ en hy is baie 2.9 (impressed - Afrikaans) _____ met die pragtige Henri-Etta wat 2.10 (vrolik - antoniem) _____ langs die oop graf staan.

Kollenel spring 2.11 (laat - vergrotende trap) _____ uit Henri-Etta se arms en beland in die oop graf. Met die 2.12 (help - afgeleide naamwoord) _____ van 'n jong seun word die 2.13 (blaf - teenwoordige deelwoord) _____ en 2.14 (aggressief - regte vorm) _____ hondjie uit die graf gehaal.

Henri-Etta sê dat sy 2.15 (beloof, ken, weet - regte woord) _____ wat Jakkals gedoen het.

Jakkals is 2.16 (kwaad - intensiewe vorm) _____ oor die 2.17 (beskuldig - afgeleide naamwoord) _____ en gryp Henri-Etta 2.18 (hard + hand - samestelling) _____ aan die arm. Hy dreig om haar 2.19 (doodmaak - regte vorm) _____ as sy nie sê waar die jonges is nie.

2.20 (A.g.v. - skryf in woorde) _____ Jakkals se brutale optrede slaan ouma Linah hom met haar handsak oor sy kop.

Vraag 3  Kommunikasie

Lees die vrae noukeurig deur. Voer die instruksies by elke vraag uit en beantwoord net wat gevra word.

3.1      

Kies die korrekte respons op Vraag 3.1.1 en 3.1.2. Skryf slegs die letter wat jy kies, langs die vraagnommer neer.

3.1.1   Situasie:

Scooby se ma is besig om verversings onder die gazebo uit te pak en ouma Linah help haar. Ouma Linah eet egter meer as wat sy help. Dit frustreer Scooby se ma en maak haar ongeduldig.

Kies nou die korrekte respons en skryf net die letter wat jy kies langs die vraagnommer neer.

A  Ma, kry een van die lekker melktertjies. Ek het heeltemal te veel eetgoed gemaak.
B  Ag nee Ma, jy eet meer as wat jy werk. Help asseblief, of gaan sit op daardie stoel.
C  Ma, die mense kan enige oomblik opdaag. Help my asseblief om die kos uit te pak.
D  Dankie Ma, ek weet nie wat ek vandag sonder ma se hulp sou gedoen het nie.

(2)

3.1.2   Situasie:

Scooby sien dat Henri in die moeilikheid is en dat Jakkals hom wil seermaak. Hy stuur haastig 'n teksboodskap vir Henri en beveel hom, Abby en Jasper paniekerig om dadelik pad te gee.

Kies nou die korrekte teksboodskap en skryf net die letter wat jy kies langs die vraagnommer neer.

A  Henri, hou Jakkals goed dop, want hy wil jou seermaak. Dis dalk beter om te vlug.
B  Henri, gebruik die Taser en die pepersproei as Jakkals vir jou enige probleme gee.
C  Henri, jy en die ander twee moet dadelik vlug. Die sleutel is in die motor. Maak gou!
D  Henri, bel my asseblief wanneer jy 'n tydjie kry. Ek dink jul lewens is dalk in gevaar.

(2)

3.2
Lees die situasie wat beskryf word, deeglik. Skryf dan die korrekte antwoord wat jy by 3.2.1 en 3.2.2 kies, korrek oor. Kies elke keer die antwoord wat die sin logies, betekenisvol en taalkundig korrek voltooi.

Situasie:

Die drie jonges het suksesvol van die begraafplaas af weggejaag. Hulle is baie verlig dat hulle van Jakkals ontsnap het en dat hulle nou veilig is. Hulle lag lekker oor Jakkals wat in die oop graf beland het. Wat sê Jasper van die gebeure?

Sjoe ouens, ek is so 3.2.1 (geskok / jammer / bly) dat dit verby is. 3.2.2 (Dit was so snaaks toe Jakkals in die graf beland het / Ek het nogal groot geskrik toe Jakkals in die graf geval het / Ek is baie bly dat ou Jakkals in die graf beland het).

            (2)

3.3 

Skryf elke keer wat jy dink die persoon in die situasie sou sê. Jou respons moet 15–20 woorde lank wees en jy moet nie die vetgedrukte woorde herhaal nie.

3.3.1   Ouma Linah is baie verlig en dankbaar as Kollenel veilig uit die oop graf gehaal word. Sy troos die verskrikte hondjie wanneer sy hom weer in haar arms vashou. Wat sê sy vir Kollenel?

(2)

3.3.2   Terwyl die drie jonges wegjaag, sien Henri verskrik dat Jakkals hulle agtervolg. Hy moedig Jasper histeries aan om nog vinniger te ry. Wat skree hy vir Jasper?

(2)

[10]

Meer moontlike scenario's by Vraag 3.3:

 

> Jakkals is woedend en ontsteld wanneer hy uit die graf klim nadat hy daarin geval het. Hy voel verneder en dreig om stappe teen Azrael Funeral Services te neem. Wat sê hy vir Scooby se pa?
> Jasper-hulle jaag weg, maar hulle vorder stadig omdat daar soveel fietsryers op die pad is. Hy is ongeduldig en skree 'n belediging wanneer hy weer by 'n fietsryer verbyry. Wat skree hy vir die man op die fiets?
> Terwyl Jakkals die drie vlugtelinge in sy motor jaag, besef hy paniekerig en vasberade dat hy vir moord gearresteer gaan word as hy hulle nie betyds stilmaak nie. Wat dink hy?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking